Lewe – Jan Bloukaas
September 26, 2019
Stoom – Dirk van der Westhuizen
September 26, 2019

Dit lyk asof daar deesdae al hoe meer Afrikaanse CD’s is wat op ’n jonger mark gemik is en wat net so gereeld by sokkies en in klubs gehoor word as internasionale CD’s.

Een van die jongste kunstenaars wie se musiek meer op ’n jonger mark gemik is, is Vincent Gordon se eerste album Asem. Die eerste snit, wat ook die eerste enkelsnit was, is “Stap soos Karlien”, geskryf deur Waldo Greeff. Hierin sing hy van ’n meisie wat dalk baie gebreke het, maar wat een ding goed kan doen; ’n mens wonder of hy dalk na Karlien van Jaarsveld verwys. “Dis die liefde wat tel” is ’n spanpoging deur Vincent en die regisseur van die album, Ferdinand Skead. Dit is ’n beter snit as die meeste wat bloot daarop gemik is om mense op die dansvloer te kry. Hulle was ook verantwoordelik vir die titelsnit. Diegene wat hou van kunstenaars soos Dirk van der Westhuizen, wat wel later saam met Vincent op die album sing, sal hierdie snit geniet. “Sweet” (in Afrikaans uitgespreek) is deur Stefan Ludik, wat onder die naam Elvis se seun sing, geskryf. Stefan sing ook saam met hom. Ondanks die titel is “Girlfriend”, geskryf deur Vincent en Ferdinand Skead, ’n Afrikaanse liedjie. “Jy doen dit vir my”, wat Vincent alleen geskryf het, is dalk een van die lekkerste snitte op die album. “Oor begin” is nog ’n komposisie van Waldo Greeff en miskien een van die beste snitte op die album. “Tussen vriende en vure” is ’n lekker snit wat Vincent saam met Ferdinand Skead geskryf het. Daar is twee weergawes van “Broos”, geskryf deur Waldo Greeff, op die album. Die elektroniese weergawe kom eerste op die album voor, maar die akoestiese een, aan die einde van die album, klink baie beter. “My somer song” is sonder twyfel een van die beste snitte op die album. “Wat ’n man wil hê”, is nog ’n baie goeie snit; Byron Kuntz het dit saam met Vincent geskryf. Byron het al saam met ’n paar groot name in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gewerk en hy is een van die redes hoekom Gerhard Steyn tot dusver so suksesvol was. “Jy steel my hart” is ’n komposisie van Vincent, Ferdinand Skead en Fanus Pienaar; dit behoort ’n treffer te word. “Op my bokskitaar” is nog ’n hoogtepunt op die album. Daarteenoor is “Gooi die bass” en “Laat die dansvloer stamp”, waarop Dirk van der Westhuizen saam met hom sing, absoluut onluisterbaar. Die oorspronklike weergawe van “Jy doen dit vir my” klink baie beter as die “remix”, die voorlaaste snit op die album, maar die akoestiese weergawe van “Broos” is nog ’n hoogtepunt.

Hierdie album laat ’n mens met gemengde gevoelens. Ja, daar is ’n paar goeie, soms uitstekende snitte wat radiotreffers kan word, maar in sy geheel is dit eerder op die dansvloer gemik en daarom sal dit hoofsaaklik byval vind by diegene wat gereeld in klubs en kuierplekke kom.

Comments are closed.

error: Content is protected !!