Hannes van Wyk: Dankbaar en tevrede
September 26, 2019
Die Gelofte
September 26, 2019

Nadat Christoph Kotze aanvanklik as ’n liedjieskrywer bekendheid verwerf het en gesorg het vir treffers vir kunstenaars soos Laurika Rauch, Theuns Jordaan en Karlien van Jaarsveld, het hy self twee jaar gelede onder die verhoognaam Appel agter die mikrofoon ingeskuif en sy debuutalbum, Lei my na die water, vrygestel.

Die album was ’n sukses, maar is nou heruitgereik onder die titel Boer loop deur my are, met ’n paar snitte wat weggelaat is en ’n aantal nuwes wat bygevoeg is. Die titelsnit was reeds ’n treffer en sal veral by boere byval vind. Dit is ook ’n liedjie waarin hy onbeskaamd sê wie hy regtig is. “Jagter” is seker een van die mooiste Afrikaanse liedjies wat die afgelope jaar of wat verskyn het. Jy hoef nie lief te wees vir jag om dié liedjie te waardeer nie. Die feit dat dit reeds ’n treffer is, behoort niemand te verbaas nie. Op hierdie liedjie wys hy dat sy hoë en lae register ewe goed klink. “Hande bak” is nog ’n moontlike treffer. Bok van Blerk sing saam met hom op “Lemoene”, nog ’n snit wat al ’n treffer was. Baie mense dink dit is effens suggestief, want daar word nie noodwendig na vrugte verwys nie. Nugter weet hoekom mense altyd meer in ’n liedjie moet sien as wat daar is nie. “Dronkbel” is ’n lekker snit, en hierin vertel hy die verhaal van ’n ou wat sy vrou bel nadat hy te veel gedrink het en in hegtenis geneem is. “Lekker ou” vertel van ’n man wat daarvan hou om te kuier en wie se geselskap baie mense geniet.

“Kom en lê my neer” was een van ’n trilogie musiekvideo’s wat hy gemaak het nadat hy omtrent vyf jaar gelede byna by die dood omgedraai het. Met hierdie snit, asook ’n paar ander, wys hy sy dieper kant. “Tamaletjie” is een van die snitte waarvoor ’n mens lekker lag; dit vertel van die stryd tussen kinders en hul skoonouers. “Boskind” is nog ’n lekker snit wat ’n treffer behoort te word. “Vroumens” is die tweede snit wat deel van die trilogie gevorm het; hy het dit spesiaal vir sy vrou geskryf. Dit is regtig ’n besonder mooi snit wat radiolugtyd verdien. Die kitaarwerk op “Terpentyn” is besonder goed; dit is nog ’n pragtige snit. “Lei my na die water”, die titelsnit vanaf sy vorige album, was natuurlik ’n treffer en is die laaste van die drie snitte wat deel van sy trilogie was. Dit is intussen deur Demi-Lee Moore gesing toe sy aan Die kontrak deelgeneem het, en haar weergawe het self ook gewild geword. “Draak se rug” is eintlik die Drakensberge, en hierin verwys hy na die Anglo-Boereoorlog. “Binnedorp” is ’n bewys dat Appel weet hoe om ’n storie te vertel; hierdie keer van ’n man wat in ’n kroeg sit en klavier speel terwyl mense drink. In “Hatfield Square” bring hy hulde aan een van Pretoria se kuierplekke wat nie meer bestaan nie. Enigiemand wat in Pretoria studeer het, sal van hierdie snit hou. “Die kamer brand” is ’n mooi snit met uitstekende kitaarwerk. “My broer” is ’n pragtige huldeblyk aan sy broer, wat ver van hom af woon. Enigiemand wat na ’n broer verlang, sal van hierdie snit hou. Appel dra die laaste snit, “Lied vir Luna”, aan sy dogtertjie op.

Daar is ’n groot tekort aan kunstenaars wat die musiek en woorde van elke snit op ’n album skryf; Appel is een van die min wat in daardie kategorie val en daarvoor verdien hy die grootste respek. Hy weet ook hoe om ’n balans tussen humor en erns te handhaaf; daarby kan hy ’n storie baie goed vertel. Dit alles maak dat hierdie album baie sterk aanbeveel kan word; dit is trouens een van die bestes wat die afgelope jaar vrygestel is.

Comments are closed.

error: Content is protected !!