Camille van Niekerk staan deesdae as die #Afrimerikaner bekend

Rooiborsduif – Gedigte oor die liefde
September 26, 2019
Die kuns van druppeltjies
September 26, 2019

Camille van Niekerk is ’n Amerikaanse sangeres wat ’n voorliefde vir Afrikaans danksy haar Suid-Afrikaanse man, Jaco, ontwikkel het.

Haar Afrikaanse weergawes van bekende treffers soos “Sonvanger”, “Breyten se

Brief”, “Vier Seisoene Kind” en “Skipskop”, wat sy aanvanklik vir haar man en sy ouers gesing het, het ’n internetsensasie geword.

In November 2017 het sy ’n video op Facebook geplaas waar sy “Sonvanger” van Valiant Swart sing en dit het blitsig in die Suid-Afrikaanse gemeenskap versprei. Die sukses van daardie video en ander wat daarop gevolg het, het gelei tot ’n band met Jan Blohm en Vonk Musiek

Hulle het vir haar ’n CD-kontrak aangebied en toe sy ’n liedjieskrywer moes kies, het sy sonder weifeling op Gian Groen besluit, wie se musiek en lirieke diep met haar resoneer.

Die gevolg was die pragtige “Proteas op die tafel” en “Hier het ek jou gevind”.

Camille het in Junie ook saam met Gian deur Suid-Afrika getoer en opgetree.

Daar word na jou as die #Afrimerikaner verwys. Hoe voel jy daaroor?

Ek beskou dit as ’n reusekompliment! Die Afrikaners, beide hier en oorsee, het my só verwelkom. Hulle hou aan om aan te moedig soos ek dié taal leer en die proses met hulle deel.

Hoe het jy en Jaco ontmoet?

Ek en Jaco het op hoërskool ontmoet. Sy gesin het in 2004 na die VSA verhuis en ons het in 2008 ontmoet. Ek het agter hom in die Amerikaanse geskiedenisklas gesit en ons het gereeld in die moeilikheid by die onderwyser beland omdat ons te veel gepraat het. In die volgende somer het ons saam musiek begin speel en op universiteit begin uitgaan.

Wat is die moeilikste ding of woord wat jy in Afrikaans moes leer?

Woorde met die kort “i”-klank soos byvoorbeeld in “sit” was nie maklik om baas te raak nie. Die “i”-klank in Amerikaanse Engels is ’n bietjie anders. Ek is geneig om dít op die Amerikaanse wyse uit te spreek. Dít het veral in die ateljee nou tydens my toer aan Suid-Afrika gereeld opgekom, waar ek my heel eerste vollengte-album in Afrikaans opgeneem het. Nog ’n moeilike klank is die rollende “r”. Dit is maklik genoeg op sy eie, maar dit raak al hoe moeiliker as dit tussen konsonante is.

Wat is vir jou die kosbaarste ding van Afrikaans?

Ek is mal daaroor om met mense regoor die wêreld in Afrikaans te gesels wat ek nie andersins sou nie. Afrikaans is só mooi taal met ’n ryk en diverse geskiedenis. En natuurlik is ek versot daarop om op ’n dieper vlak met Jaco en sy gesin in hulle moedertaal te kan praat.

Wat is jou gunsteling woord in Afrikaans?

Dit móét “lekker” wees. Ons het eenvoudig nie ’n eweknie in Engels wat op soveel verskillende situasies van toepassing kan wees nie. Ek vertel Amerikaners dat die eerste woord wat hulle in Afrikaans móét leer, “lekker” moet wees, gevolg deur “dankie”.

Vertel ons bietjie meer van jou eerste album in Afrikaans. Hoe voel jy daaroor? Wat is jou gunstelingliedjie daarop en hoekom?

Ek is baie opgewonde. Baie liedjies op die album is Afrikaanse klassieke liedjies soos “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, “Skipskop” en “Lisa se klavier”. Hierdie liedjies lê baie Afrikaners na aan die hart. Ek voel geëerd om hulde aan die oorspronklike skrywers en sangers van dié liedjies te bring. Dis baie moeilik om ’n gunsteling te kies, maar ek hou baie van “Stiltetyd” wat Gian Groen geskryf het. Ek kan nie wag dat Suid-Afrikaners dit hoor nie.

Jy het juis saam met Gian Groen op dié album gewerk en ook saam met hom in Suid-Afrika opgetree. Hoekom juis Gian?

Gian skryf pragtige lirieke. Sy melodieë is uniek en onvergeetlik. Nadat ek na “Vier Seisoene Kind” en “Gita Blom” geluister het, het ek geweet ek wil saam met hom werk. Ons deel ook toevallig baie musiekinvloede en ons hou albei van folk/blues en ’n country-klank. Ons pas perfek bymekaar.

Tydens Camille se onlangse se besoek aan Suid-Afrika het sy dit geniet om liedjies uit haar skoonma se FAK-Sangbundel te lees en sing.

Comments are closed.

error: Content is protected !!