Boer loop deur my are – Appel
September 26, 2019
Lewe – Jan Bloukaas
September 26, 2019

Op 16 Desember 2018 was dit die 180ste herdenking van die slag van Bloedrivier; asook die gelofte wat Sarel Cilliers afgelê het en elke dag nog op daardie dag herdenk word.

Nou is ’n hele CD met liedjies met die gelofte as sentrale tema vrygestel; die titelsnit is ’n beryming van die gelofte wat deur Johan Vorster en Christoph Kotze geskryf is. Christoph het die laaste tyd groot sukses as sanger onder sy verhoognaam Appel behaal. Die lied word deur Appel, Adam Tas, Juan Boucher, Chris Chameleon en Ghapi gesing. Ghapi sing die volgende snit, “Goliat”, wat hy saam met Appel en Johan Vorster geskryf het. Daarin word die slag van Bloedrivier met die tweestryd tussen Dawid en Goliat vergelyk. “Boer loop deur my are” is die titelsnit van Appel se jongste album en dis reeds ’n treffer. “Manne van faam” is ’n komposisie van Chris Chameleon, en hy sing dit ook self. Hierin sing hy van mense met integriteit, wie se woord hul eer is. Juan Boucher se gewildheid as sanger het die laaste tyd geweldig toegeneem; sy bydrae tot die album is “Kampvuur”; nog ’n komposisie van Appel en Johan Vorster.

Lianie May het lanklaas ’n soloalbum vrygestel, maar haar bydrae tot die album is “Roepstem”. “Boeredans” is ’n lekker snit van Appel; hy en Johan Vorster het dit saam geskryf en dis lekker om te hoor dat Ricus Nel die konsertina en die banjo bespeel. Jan Rhaap se bydrae tot die album is “Ons kan nie breek nie”, waarin hy sing van die Afrikaner se vasberadenheid om te oorleef. Neil Somers het ook lanklaas ’n album vrygestel, maar het “Bloedgrond” self geskryf. Bok van Blerk het al ’n hele aantal Afrikaner-protesliedjies opgeneem, en “Sing Afrikaner sing”, die titelsnit van een van sy suksesvolste albums, is een van ’n aantal wat geskik sou wees vir hierdie album. Adam Tas en Koekoes Bezuidenhout het “In die huis waar stilte woon”, saam geskryf; hierin sing Adam van ’n plaasmoord. “Uit klip gekap”, geskryf deur Johan Vorster en Sean Else, is ’n snit vanaf Corlea se nuwe CD, Onbreekbaar. Die laaste snit op die album, “1000 kerse”, is ’n spanpoging van Karlien van Jaarsveld en Dewald Wasserfall.

Die sentrale tema van Afrikanertrots en alles wat daarmee gepaard gaan, kom op byna elke snit voor; jy sal jou daarmee kan vereenselwig of dit sal jou glad nie aanstaan nie. As jy wel trots Afrikaans is, sal jy hierdie album geniet.

Comments are closed.

error: Content is protected !!