Camille van Niekerk staan deesdae as die #Afrimerikaner bekend
September 26, 2019
Hannes van Wyk: Dankbaar en tevrede
September 26, 2019

’n Kroon verskyn nadat ’n druppel in die rooi vloeistof geval het. Foto: Neels Jackson

Deur Neels Jackson

Fotografie help ’n mens om te sien.

’n Foto kan beweging vries, sodat ’n mens, nadat die aksie verby is, detail kan sien wat in ’n breukdeel van ’n sekonde afspeel en dan verby is. Dink aan die bokser se gesig wat vertrek as die hou hom tref. Die manier waarop die tennisspeler se arm buig as hy die hou slaan. Die vloei van die water oor die swemmer se kop.

Makrofotografie stel ’n mens in staat om klein detail te sien wat die blote oog nie maklik onderskei nie, soos die haartjies op ’n by se lyf, of die netwerk van ’n naaldekoker se vlerk.

Met druppeltjiefotografie het jy ’n kombinasie daarvan. ’n Druppeltjie wat in vloeistof val, is klein en dit gebeur vinnig. Maar met ’n kamera kan ’n mens agterkom wat regtig aan die gebeur is.

Wanneer die druppel val, verplaas dit eers ’n klompie vloeistof sywaarts. Dit veroorsaak ’n opwelling amper soos die rand van ’n krater. Maar dis net ’n breukdeel van ’n oomblik daar en dan sak dit weer terug.

As ’n mens die foto op die regte oomblik in hierdie fase neem, dan lyk die rand van die “krater” soms soos ’n klein kroontjie.

Maar die druppeltjie wat van bo af val, val ook af in die vloeistof in, en dan word dit boontoe gedruk, sodat daar ’n klein “pilaar” uit die vloeistof uit opstaan nadat die “kroon” of “kraterrand” teruggesak het.

En as ’n tweede druppeltjie van bo af val en hierdie “pilaartjie” op sy bopunt tref, dan sprei dit kant toe in die mooiste patrone. Soms lyk dit soos ’n sambreeltjie, soms laat dit ’n mens dink aan ’n sprokieswêreld se paddastoele.

Dit klink alles eenvoudig, maar dit is glad nie so nie.

Eerstens verg dit ’n hele opstelling om die druppeltjies presies op die regte plek en oomblik te laat val.

Tweedens gebruik die ouens wat sulke fotografie doen, gesofistikeerde tegnologie om die tydsberekening so te kry dat die tweede druppeltjie presies op die regte oomblik val sodat die eerste een se “pilaar” op sy hoogtepunt getref word.

Derdens gebeur dit alles in die donker, met ’n kameraflits wat ook op presies die regte oomblik moet skiet om die beweging van die druppeltjies te vries. Dit is nie ’n vinnige sluiterspoed wat die beweging vries nie, maar die breukdeel van ’n sekonde wat die flits se lig op die druppeltjies skyn.

Vierdens is die vloeistof wat ’n mens gebruik belangrik. Skoon water is blykbaar nie die beste nie. Mense eksperimenteer met verskillende mengsels om die regte graad van vloeibaarheid te kry wat die mooi effekte oplewer.

En as ’n mens dit alles reggekry het, dan is daar nog ruimte vir eksperimente om verskillende effekte op die foto’s te verkry. Party mense speel met die kleur van die beligting, maar ’n mens kan ook speel met die kleur van die vloeistowwe wat gebruik word.

So kan ’n mens sorg vir foto’s van wit of rooi of groen sambreeltjies, of watter ander kleur jy voor lus is. Of ’n mens kan kleure kombineer. ’n Wit druppeltjie wat in ’n bak met rooi vloeistof val, voeg ’n dimensie by vergeleke met ’n rooi druppel in rooi vloeistof.

Daarby het fotografie natuurlik meer dimensies as bloot ’n getroue weergawe van die werklikheid. ’n Kunsfotograaf kan in die prosessering van ’n foto steurende elemente verwyder, soos oortollige of uitfokus klein druppeltjies, of lastige weerkaatsings wat die oog wegtrek van die skoonheid van wat gebeur.

En op hierdie manier het ’n eenvoudige druppel wat in ’n bak vloeistof val, ontwikkel tot ’n hele subgenre van kunsfotografie wat die mooiste prentjies oplewer.

*Enigiemand wat ’n kursus in druppeltjiefotografie wil doen, kan Christiaan Kotze skakel by 083 274 3588.

Comments are closed.

error: Content is protected !!