Hannes van Wyk: Dankbaar en tevrede

Die kuns van druppeltjies
September 26, 2019
Boer loop deur my are – Appel
September 26, 2019

Hannes van Wyk Foto: Erina Niemand

Deur Alita Steenkamp

Diegene wat al die geleentheid gehad het om as een van Hannes van Wyk se gaste op die Kwêla-bank te sit en gesels, stem oor een ding saam: Hannes het die vermoë om ’n mens dadelik op jou gemak te stel. Sjarmant, kalm en rustig en waarlik belangstellend. Iemand wat kán luister. Hierdie wonderlike eienskappe waaroor Hannes beskik, het hom oor die jare as een van ons top televisieaanbieders gevestig.

Tans is Hannes weer op die verhoog met ’n eenmanvertoning, Sê Groete vir Ma. Dit is sy eerste eenmanvertoning in ’n baie lang tyd. 25 jaar gelede, toe hy as ’n jong akteur vir TRUK gespeel het, het hy ’n eenmanvertoning, Die Jaar toe my Ma begin sing het, gedoen. Dié stuk is gebaseer op die roman van Engemi Ferreira. Na al die jare het hy besluit om weer hierdie dapper sprong te waag – ’n eenmanvertoning is immers ’n alleenbesigheid waar jy vir ’n uur lank jou gehoor op jou eie moet vermaak.

“Dis nou al ’n geruime tyd wat ek graag weer wou terugkeer na die verhoog met ’n eenmanstuk. Ek hou daarvan om so nou en dan weer op die verhoog te wees en het laas saam met Amanda Strydom Voor ek vergeet gedoen. Ek het ’n paar idees op papier neergesit en dit vir die teksskrywer, Desiré Gardner, gegee wat die raamwerk van Sê Groete vir Ma geskryf het. Hierna het ons lekker saamgewerk en uiteindelik dink ek sy het ’n puik teks geskryf. Die stuk is uitstekend ontvang by Innibos waar ek daarmee gedebuteer het. By die Vrystaat Kunstefees moes daar inderhaas ’n ekstra vertoning gereël word. Ek kon regtig nie gevra het dat dit beter moet gaan nie en besef alte goed alles is net genade,” sê Hannes.

In Sê Groete vir Ma vertolk hy die rol van Reghardt Roberts van Aswegen, ’n man wie se ma die kern van sy bestaan is. Dit vertel die wonderlike verhaal van die besondere band tussen ’n ma en haar seun. Dis ’n eerlike toneelstuk sonder enige fieterjasies. Bloot net Hannes en twee stoele op die verhoog. Hannes sê wat hom veral verras het, is om te sien hoe baie van die ouer mans wat hierna kom kyk, intens geroer word hierdeur.

Hannes gesels graag oor sy ma Mariet, met wie hy ’n wonderlike verhouding het. Tog is hierdie teaterstuk blote fiksie, lag hy. Hy het dus nie regtig ’n troetelhoender met die naam Knoop gehad nie, en was ook nie ’n vrot rugbyspeler nie. Hannes was op skool ’n kranige tennisspeler wat provinsiale kleure verwerf het.

Kaapstad is nou al vir 25 jaar sy tuiste. Hannes het op Aliwal-Noord in die Oos-Kaap grootgeword en aan die Universiteit van die Vrystaat studeer. Selfs in die tien jaar wat hy in Egoli die rol van Krynauw Otto vertolk het, het hy weekliks tussen Kaapstad en Johannesburg gependel. Deesdae word die ateljee-opnames van Kwêla in die Kaap geskiet, maar steeds moet hy een of twee dae per week na Johannesburg reis vir werk.

Wanneer hy oor sy huis en sy hondekinders gesels, kom daar ’n weekheid in hom na vore. Dit is duidelik dat hulle vir hom besonder kosbaar is. Toto is ’n Yorkshire terriër wat ’n tweede lewenskans by hom en sy lewensmaat gekry het. Mariet is ook ’n optelhondjie wat hulle in Gugulethu uit ’n dreineringspyp gered het. Hannes se ma is summier vernoem.

Alhoewel hy nie daarvan droom om te veel goed tegelykertyd aan te pak nie, is sy skedule steeds baie vol. Twee dae van die week is hy ’n spelvervaardiger by die sepie Suidooster. Dis ’n heerlike jong span by dié sepie, maar hier is hy baie kwaai, lag Hannes. Een ding wat hy nie duld nie, is wanneer ’n akteur nie sy of haar woorde ken nie. Hy is ook die reeksregisseur van die geselsprogram, Tussen Ons, wat op kykNET&kie uitgesaai word. Hannes sal binnekort ook te sien wees in die nuwe kykNET-reeks Fynskrif II wat vroeër vanjaar geskiet is. Hy lag en sê dié keer is hy darem nie weer ’n gewetenlose moordenaar nie. In sy rol in die reeks Spoorloos wat vroeër vanjaar uitgesaai is, het hy almal verras toe dit uiteindelik uitkom dat hy die moordenaar is wat die seuntjies een vir een vermoor het. Wie sou nou ooit kon dink Kwêla se jintelman kan die rol van ’n bose skurk so uitstekend vertolk?

Dit lyk beslis of Hannes van Wyk op ’n goeie plek in sy lewe is. Hy is veral dankbaar oor die geleentheid wat hy nou weer gekry het om op die verhoog te wees. Die storie in Sê Groete vir Ma, is ’n storie wat hy gevoel het vertel moes word.

“Ek is presies waar ek wil wees. Ek werk regtig baie hard en hopelik sal daar vorentoe die kans wees om dinge ’n bietjie rustiger te vat, maar nou is nog nie die tyd om agteroor te sit nie. Ek hou van alles wat ek doen: die aanbieding is vir my heerlik, die navorsing is net so lekker. Om elke keer ’n splinternuwe karakter in ’n televisiereeks te word, is ’n heerlike uitdaging. Soms is die verhoog ’n vreesaanjaende plek, maar wanneer jy eers daar is, en die mense kom deel ná die tyd hulle waardering, dan weet jy dit is maar waar alles van jou loopbaan begin het. ’n Goeie plek om te wees.

“Dan is ek veral dankbaar om God se hand oor my lewe raak te sien. Alles is net genade en sonder Hom, was ek niks.”

Comments are closed.

error: Content is protected !!