Stoom – Dirk van der Westhuizen
September 26, 2019
Kerslig en konsertina – Hannes Schoeman
September 26, 2019

Deur die jare was daar min Idols-wenners wat volhoubare musiekloopbane gevolg het; die meeste het miskien een of twee albums vrygestel en toe net verdwyn.

Daar is egter één uitsondering, naamlik Elvis Blue, wat sedert sy oorwinning gewys het dat hy ernstig opgeneem moet word, soos die feit dat sy debuutalbum dadelik na afloop van die kompetisie gereed was, bewys het.

Hy het intussen ook ’n gunsteling onder Afrikaanse musiekliefhebbers geword en nadat hy lank stil was, het hy vanjaar sy jongste album, Jou huis, vrygestel. Die eerste snit, “Die mooiste woord” is, soos elke ander snit op die album, sy eie komposisie. Veral die a capella-gedeelte aan die einde klink baie mooi. Die lirieke van “Beloofde land” is ’n bewys dat hy in die toekoms van Suid-Afrika glo. Die titelsnit is ook die eerste enkelsnit; Theuns Jordaan sing saam met hom en die lirieke is lekker nostalgies. Dit is besig om ’n groot treffer te word. “Mamma blou” is nog ’n goeie snit wat hy self gekomponeer het; dit is aan sy vrou opgedra. Snotkop is die ander kunstenaar wat saam met Elvis op die album gehoor kan word; Snotkop rymklets saam met hom op “Langpad alleenpad”. Enigiemand wat sukkel met ’n swak selfbeeld behoort net na “Weer 16” te luister. Daar is nog ’n liedjie met die titel “Langpad”, en dit word as “Langpad twee” op die album aangedui. Dit is ’n suiwer akoestiese snit waarop daar niks anders as kitaarbegeleiding is nie. “Branders” is nog ’n goeie snit wat hy self geskryf het. “Was dit nie vir jou” is nog ’n snit wat hy aan sy vrou opdra en waarop hy vir haar dankie sê vir haar ondersteuning. Die laaste snit op die album, “Die kamer”, is weer eens sy eie komposisie; enigiemand wat niks anders as liefde het om vir iemand te gee nie, sal hulle hiermee kan vereenselwig.

Soos gewoonlik het Elvis Blue weer vorendag gekom met ’n album wat as een van die bestes van die jaar beskou kan word. Die feit dat elke snit sy eie komposisie is, is ’n bewys dat ’n mens hom as sanger en liedjieskrywer ernstig kan opneem; daar is ongelukkig te min sulke kunstenaars in die musiekbedryf. Die enigste jammerte is dat die album so kort is; die tien snitte is altesaam net meer as ’n halfuur lank. Nogtans kan dit baie sterk aanbeveel word.

Comments are closed.

error: Content is protected !!