Kerslig en konsertina – Hannes Schoeman

Jou huis – Elvis Blue
September 26, 2019
U is almagtig – Ronell Erasmus
September 26, 2019

Baie mense dink dat Boeremusiek gewoonlik net daarop gemik is om mense op die dansvloer te kry, maar dit is nie altyd die geval nie.

Hannes Schoeman se nuwe CD, Kerslig en konsertina, is op aanvraag saamgestel, en volgens Hannes is dit ’n opvolg op sy album Deurnagwalse, wat rustiger Boeremusiek bevat het. Daar is egter nie net walse op die album nie; volgens Hannes kan ’n mens in ’n motor na die CD luister, maar hy wou nie hê dat mense aan die slaap raak terwyl hulle daarna luister nie. “Oupi se seties”, een van Hannes se eie komposisies, gee ’n mens ’n idee van wat op die album verwag kan word; regte, tradisionele Boeremusiek sonder tromme, klawerborde of ander elektriese instrumente. Die enigste instrumente wat saam met die konsertina op die album gehoor kan word, is ’n ritmekitaar en ’n banjo; en dis hoe dit hoort. Hannes het ook die derde snit op die album, “Al te vrolik polka”, gekomponeer. “Draai en swaai” en “Die misvloer seties” is nog twee hoogtepunte op die album. “Plek in my hart” is nie ’n oorspronklike komposisie nie; dit is ’n liedjie van Nana Mouskouri, naamlik “A place in my heart”, wat ons as “Die lewe sonder jou”, gesing deur die A Capella-koor, leer ken het. Interessant genoeg bespeel Hannes die Boerekonsertina op hierdie snit. Dit is ook nie net erkende komponiste van Boeremusiek wat bydraes tot hierdie album gelewer het nie; Jezelle Rossouw het die snit “Suidwes my land” gekomponeer; sy is ’n gebore Namibiër. Dit is seker een van die mooiste snitte op die album.

“Jap trap” (sic) is nog ’n lekker snit en ’n bewys dat die CD darem nie té rustig is nie. “Ek strooi rose” is die tweede snit op die album wat nie ’n oorspronklike komposisie is nie, maar dit maak nie saak nie. “De Bruynstraat” is ’n baie lekker oorspronklike komposisie. “Pieter-Jan-wals” is nog een van Hannes se oorspronklike komposisies. “Aita-seties” en “Trou-met-my-wals” is die laaste twee van Hannes se komposisies op die album. Die legendariese konsertinaspeler Japie Laubscher sou vanjaar ’n honderd jaar oud gewees het; Hannes bring hulde aan hom met twee van sy komposisies, naamlik “Lantern-polka” en “Magoebaskloof”. Laasgenoemde is op openbare aanvraag ingesluit.

Hierdie CD is ’n bewys dat daar altyd ’n plek vir tradisionele Boeremusiek sal wees; daarby lyk dit asof die neiging om elektriese instrumente in hierdie musiekvorm te gebruik, al hoe minder voorkom. Elektriese instrumente hoort buitendien nie in Boeremusiek nie. Boeremusiek sal natuurlik altyd sy kritici hê, maar vir liefhebbers daarvan sal hierdie album beslis die moeite werd wees!

Comments are closed.

error: Content is protected !!