Die Gelofte
September 26, 2019
Asem – Vincent Gordon
September 26, 2019

Die afgelope tyd het die gewildheid van rymklets in Afrikaans al hoe meer toegeneem, veral weens kunstenaars soos Hemelbesem en Early B, wie se musiek meer gereeld oor die radio gehoor word.

Nou is daar nóg ’n nuwe Afrikaanse rymkletser op die toneel, naamlik Jean du Plessis, wie se eerste treffer, “Kaas elke dag”, veral onder jongmense byval gevind het. Jean se verhoognaam is Jan Bloukaas, en sy debuutalbum, Lewe, is onlangs vrygestel. Die eerste snit op die album, wat reeds ’n treffer is, is “Desember”, waarop Mariné Moffat saam met hom sing. Dit laat ’n mens sommer net uitsien na die einde van elke jaar, wanneer baie mense met vakansie gaan. “Laat dit bons” is ’n snit wat veral op jonger luisteraars gemik is en die dansvloere gou vol behoort te kry. “Tortelduif” is, om die minste te sê, ’n aangeleerde smaak. Die woorde van “Kreef Moolman” sal jou dalk laat lag. Die titelsnit het ’n bietjie meer om die lyf as die meeste snitte op die album. Dieselfde geld die volgende snit, “Ons figure dit uit”, wat gaan oor hoe ’n mens die lewe hanteer. “Rof” is ’n snit wat net by jonger luisteraars byval sal vind. “Laat die kinders kuier” is die tipe snit wat veral by partytjies gespeel behoort te word; dit is gemik op diegene wat die lewe net wil geniet. Georic Lomas se eerste CD het seker omtrent twee jaar gelede verskyn, en hy was te sien in die rolprent As jy sing. Hy sing saam met Jan Bloukaas op “Volwassenheid”.

“Siff innie diffness” se lirieke is absoluut niksseggend, maar sy teikengehoor sal nie omgee nie. “Vriende” is die teenoorgestelde; dit is ’n huldeblyk aan sy vriende. “Ruk bos” is nog ’n snit wat eerder vir die dansvloer bedoel is. “Verloor beheer” is die kortste snit op die album, en as ’n mens die bonussnitte buite rekening laat, die laaste een. “KykNet en chill” is die eerste bonussnit op die album; Murray Lubbe het hierdie snit gemeng; terwyl Danny Smoke vir die res van die album verantwoordelik was. “Kaas elke dag” het ’n nuwe sêding in Afrikaans gewild gemaak, naamlik “Ek hou van kaas bra”. Dis een van daardie snitte waaroor jy mal sal wees of waarvan jy absoluut niks sal hou nie. “Lassit” is een van die beter snitte vanaf die album; baie mense kan hulle met die woorde identifiseer. “Hartklop”, die laaste snit op die album, is nie te sleg nie.

Afrikaanse rymklets is een van daardie musiekvorme waaroor ’n mens nie neutraal kan wees nie; jy kan nie genoeg daarvan kry nie of jy kan dit absoluut nie verdra nie. Dit kan van hierdie album gesê word; dit is op ’n jonger gehoor gemik en dit sal veral byval vind onder diegene wat lief is vir partytjie hou. As jy nie in een van hierdie kategorieë val nie, sal jy nie van hierdie album hou nie.

Comments are closed.

error: Content is protected !!