Asem – Vincent Gordon
September 26, 2019
Jou huis – Elvis Blue
September 26, 2019

Dit het lank geduur voordat Dirk van der Westhuizen sy deurbraak in die Afrikaanse musiekbedryf gemaak het, maar met sy vorige album, Sexy vi my, het hy nie net groot sukses behaal nie, maar ook die kans gekry om by Afrikaans is groot op te tree.

Nou is hy terug met sy jongste album, Stoom, en die vraag is of hy daarop kan voortbou. Die titelsnit, wat Dirk saam met Johan Oberholzer geskryf het, gee ’n mens ’n idee van wat om te verwag; dit sal dadelik by Dirk se aanhangers aanklank vind. Ferdinand Skead was die regisseur van die album; hy en Dirk het “Onder die ligte” saam geskryf. Weer eens is dit reg in sy ondersteuners se kraal. Johan Oberholzer het “Groen lig”, een van die beste snitte op die album, geskryf. “Trap oor die lyn” het ’n lekker reggae-agtige ritme en behoort ’n treffer te word. Bobby van Jaarsveld sing saam met Dirk op “Dis wat ons wil hê”; dit is regtig ’n lekker snit. “Jy is mooi” is nog ’n snit wat deur Dirk saam met Ferdinand Skead geskryf het, en enige meisie wat sukkel met haar selfbeeld, behoort hierna te luister. “Staar” is nog ’n snit wat by Dirk se aanhangers aanklank sal vind. Die titel en lirieke van “Lusmakertjie” vertel sy eie verhaal. “Net hier net nou” is dalk een van die beste snitte op die album. “Die tennis-tune”, waarop Dirk met die Flooze, Sorina Erasmus se alter ego, saamgespan het, was so suksesvol dat hulle dit weer op “Sout en peper” gedoen het. Hierdie snit is egter onluisterbaar. “ATKV-tune” is vir diegene wat gereeld by ATKV-oorde gaan vakansie hou. “Die koor” is ’n skitterende komposisie van Johan Oberholzer en wys ’n ander kant van Dirk. “Die seer van die Seun” is ’n nog ’n skitterende snit; vir die eerste keer het Dirk ’n Christelike snit opgeneem en ’n mens hoop dat dit die radiolugtyd wat dit verdien, sal kry.

Daar is min twyfel dat Dirk dieselfde sukses met hierdie album sal behaal as wat met sy vorige een die geval was. Sy aanhangers sal weer kry waarvoor hulle gevra het, maar daar is ook ’n paar snitte waarop hy wys dat hy tot meer as elektroniese dansmusiek in staat is.

Comments are closed.

error: Content is protected !!