Kerslig en konsertina – Hannes Schoeman
September 26, 2019
Bizzy Lizzie is besiger as ooit
September 30, 2019

Sedert die 1990’s was Ronell Erasmus een helfte van die groep Touch of Class, met Deon van der Merwe wat deurentyd saam met haar deel daarvan was, maar ’n paar jaar gelede het Ronell besluit om weg te breek omdat sy net op Christelike musiek wou konsentreer.

Haar eerste album in vyf jaar, U is almagtig, is vanjaar vrygestel. Die eerste snit op die album, “Aan die voete van Jesus”, is deur ene pastoor H van Zyl geskryf. Dit sal byval vind by diegene wat van die musiek van kunstenaars soos Cathy Viljoen hou. “As die liefde regeer” is ’n Afrikaanse vertaling van Jennifer Rush se treffer, “The power of love”; dis jammer dat die oorspronklike komponiste van die komponiste van dié liedjie nie die erkenning wat hulle verdien, op die omslag gegee word nie. Die titelsnit, geskryf deur Arri Opperman, is ’n hoogtepunt op die album. “Die eensame pad” en “Daar is ’n Man” is nog twee komposisies van pastoor H van Zyl; weer eens sal dit by die liefhebbers van meer “tradisionele” Christelike musiek byval vind. “In die hemel” was een van Juanita du Plessis se grootste Christelike treffers. Ronell het drie snitte op die album self geskryf; “U is alles binne my” is die eerste daarvan. “By Jesus”, asook “My liewe kind”, is nog twee komposisies van pastoor H van Zyl, en weer eens is dit gemik op liefhebbers van tradisionele Christelike musiek.

“Via Dolorosa” was die titelsnit van Jan de Wet se uiters suksesvolle album wat ook die treffer “Hierdie Kind” ingesluit het; Jan het die Afrikaanse woorde daarvoor geskryf. “Ek kniel voor U” is op die wysie van Vangelis se bekende “Conquest of paradise”. “Ek klou aan U” is nog een van Ronell se oorspronklike komposisies, en een van die beter snitte op die album. Philip en Ella Kotze was een van ons land se gewildste sangpare; hulle het “Ken jy die Heilige Gees” geskryf. “Hy leef”, ’n komposisie van Cor Uys, was oorspronklik ’n treffer vir Willie Joubert. “Oseane”, die laaste van Ronell se eie komposisies, is nog een van die beter snitte op die album. Die laaste snit, “Ons sal sing”, is ’n tradisionele komposisie, en nog ’n goeie snit.

Op die ou einde sal jou indruk van hierdie album afhang van wat jy van Christelike musiek verwag. As jy ’n liefhebber is van die meer tradisionele tipe Christelike musiek, soos dié wat gesing word deur kunstenaars wat uit die meer gevestigde charismatiese denominasies kom, sal jy dalk hiervan hou, maar as jy op soek is na ’n meer kontemporêre klank, sal jy teleurgesteld wees.

Comments are closed.

error: Content is protected !!