Bizzy Lizzie is besiger as ooit

U is almagtig – Ronell Erasmus
September 26, 2019
Katvoet: Meesterlik in Afrikaans
September 30, 2019

Lizz Meiring

Deur Alita Steenkamp

Vivien Leigh, wat roem verwerf het vir haar rol as Scarlett O’Hara in die epiese Gone with the Wind, het eenmaal gesê: “Komedie is veel moeiliker as ’n tragedie. Dis baie makliker om mense te laat huil as om hulle te laat lag.” Iemand wat heelhartig hiermee saamstem, is Lizz Meiring, wat vanjaar feesvier om 35 jaar in die vermaaklikheidsbedryf te gedenk. Hierdie 35 jaar strek vanaf die tyd toe sy haar honneursgraad voltooi het. Sy het eintlik haar buiging op die verhoog veel vroeër gemaak. “Om mense te laat lag, is vrek moeilik, want nie almal lag oor dieselfde goed nie,” sê sy sonder om twee keer te dink.

In haar teater-, rolprent- en televisieloopbaan, het sy egter keer op keer al bewys dat sy hierdie vaardigheid met ’n fyn komiese presisie bemeester het. Dink maar aan rolle soos dié van Molly in Molly en Wors en Ouboet en Wors, en Tossie Venter in Die Munisipaliteit van Gwarra. Wie onthou nog die nimlike Sussie van Zyl in Manakwalanners? Al hierdie rolle, het van Lizz volksbesit gemaak, en tog strek haar veelsydigheid veel wyer as haar meesterlike karakterwerk in komedies. As jong aktrise was sy te sien as Lady Macbeth in ’n produksie van die destydse TRUK. Sy het ook uitstaande ernstige teaterstukke geskryf, daarin gespeel en geregisseer. Die totaal van al die produksies waarby sy betrokke was in hierdie 35 jaar, het reeds die 2000 kerf oorskry. ’n Vrou van vele talente.

Wanneer ʼn mens met Lizz gesels, is dit juis haar plat-op-die aarde, maar geen-nonsensbeleid wat ’n mens beïndruk. Sy lag en sê in die tagtigerjare, toe sy haar vaardighede as akteur geslyp het, is hulle beslis nie voorberei op die begrip van roem en faam nie. Hulle is opgelei om ’n ‘heilige taak’ te verrig en stories aan mense te bring.

“As akteurs is ons net die kanale om die storie te vertel. Dit gaan glad nie oor die akteur agter die karakter nie. In ’n spesifieke toneelstuk of rolprent of televisiereeks dien ons bloot die verhaal. Dit is die belangrikste ding wat ek in hierdie 35 jaar geleer het. Ek sê altyd vir die jong kunstenaars wat neig na grootkopkry – ‘Onthou, vir elkeen wat jou voorkeer en vertel hoe oulik jy is, is daar 500 wat jou nie kan verdra nie,’” sê sy.

Diegene wat saam met Lizz werk, het egter die grootste bewondering vir haar uitstekende entrepreneurskap en veral haar vermoë om hard te werk. Wanneer sy nie die rol kry wat sy gehoop het om te kry nie, sê sy, dan skep sy vir haarself ’n rol wat haar uitdaag. ’n Ware teater-entrepreneur!

“Ek is ’n vreugdevolle, gelukkige werkolis, omdat ek dit so verkies. Tog weet ek ook dat dit nodig is om soms asem te haal en dan bring ek tyd deur saam met my honde, word rustig in my tuin, gaan loop in ’n winkelsentrum of reis iewers heen. Maar in my werk is ek ’n slawedrywer vir myself en ’n perfeksionis as regisseur. G’n wonder die mense noem my drilsersant Meiring nie.” Weer lag sy spontaan.

Lizz was pas weer by die Innibosfees en die Vrystaatse kunstefees in Bloemfontein te sien in twee produksies: Non met vakansie saam met Wynand van Vollenstee en Die Sjokoladeshow saam met Jak de Priester.

“Wanneer dit by feeste kom, is ek soos ’n ou kat met ’n dik stert,” sê Lizz. “Sedert 1983, toe daar bloot nog net die Grahamstad Kunstefees in Suid-Afrika was, weet ek wat dit is om in feesproduksies te speel. Daar was goeie en slegte tye, maar ons het nog altyd oorleef.”

Lizz vertel dat sy in ’n huis grootgeword het waar kuns ’n belangrike plek gehad het. Haar ouers was kunskenners en -liefhebbers en daar is gereeld kunsuitstallings in haar ouerhuis gehou. Vandag bring haar eie kunsversameling vir haar baie vreugde. Dis egter nie net die kuns van mense soos Judith Mason, Maggie Laubscher, Pierneef, Frans Oerder en Sanna Swart wat haar na aan die hart lê nie, maar enigiemand wat dit regkry om met musiek of dans of visuele kuns stories te kan vertel, beïndruk haar.

’n Heerlike produksie waarmee Lizz tans by verskeie geleenthede optree, is die verhoogstuk Lizz 35. Sy noem dit “’n Klets-en-skets-konsert”. Hierdie produksie, sê sy, het sy juis geskep om te vertel wat dit verg om hierdie wonderlike, maar waansinnige beroep, te oorleef. Sy bied ’n kykie agter-die-skerms, vertel van interessante mense wat haar pad gekruis het, ver paaie se reis en vreemde kleedkamers. Die reaksie van die gehoor is deurgaans geweldig positief en wanneer Lizz aankondig dat sy nou gaan afsluit, is daar altyd iemand in die gehoor wat spontaan skreeu: “Nee, ons wil nog sien!”

“Ek geniet Lizz 35 besonder baie want met 35 jaar se snaakse, hartroerende, rare, waansinnige en wonderlike situasies en insidente, is daar soveel om te deel. Dis beslis nie ’n egoïstiese kykie na my eie loopbaan nie, maar eerder ’n viering van kreatiwiteit met verskillende karakters en sketse en vertellings. Dis die storie van ons almal. Hoe ons onsself en ons vermoëns ontdek, betwyfel en herontdek,” sê sy.

Lizz vertel graag hoe sy op 9-jarige ouderdom haar eerste verhoogrol vertolk het in ’n produksie, met die titel Die vrou van Suid-Afrika. Prof. Anna Neethling-Pohl, stigter van die dramadepartement by die Universiteit van Pretoria – wat hierdie produksie aangebied het – het na Lizz gekyk en gesê: “Daar brand ’n vuur in jou. En daai vuur gaan nooit dood nie. My arme, arme kind.” Watter profetiese woorde was hierdie nie? Meer as 35 jaar later brand Lizz se vuur steeds hoog en helder.

“Ek is gek oor wat ek doen,” sê sy dan. “Party dae is makliker as ander en ek werk regtig baie hard. Daar is nie een oomblik wat ek jammer is oor ek hierdie keuse gemaak het nie. Ek is ongelooflike bevoorreg om te kan doen wat my hartstog is. Dis nie almal wat daardie voorreg het nie!”

Comments are closed.

error: Content is protected !!