“Van voor af begin” – Mariska
Oktober 23, 2019
“Waar is jou hoop?” – Mike
Oktober 23, 2019

As jy dink dat “’n Afrikaner, ’n Indiër, ’n bruin man en twee Engelse ouens stap by ’n kroeg in” die begin van ’n grap is, dink weer.

Dit is presies die samestelling van die nuwe Afrikaanse groep Posduif, wie se jongste enkelsnit en musiekvideo, “Een vir my”, pas uitgereik is. Hulle beskryf die liedjie as Afrikaanse pop met ’n bietjie koperblaasinstrumente en dit gaan oor die tipe liefde wat die moeite werd is om voor te veg.

Dit is geskryf deur Nick Jordaan en James Boland, onderskeidelik die kitaarspeler en hoofsanger van die groep. Hulle vertel dat hulle een aand by James se huis was en besluit het om ’n Afrikaanse liedjie te skryf. Hulle het tot drie-uur die volgende oggend wakker gebly, en “Een vir my” was die gevolg daarvan.

Die idee van die musiekvideo was heel eenvoudig, maar dit vang die boodskap van die liedjie vas; die gedagte was om die groeplede voor te stel, maar ook ’n gevoel van liefde tussen twee mense uit te beeld. Volgens James het hulle met kleure gespeel en die skote so naby as moontlik gehou om ’n gevoel van intimiteit te skep. Die boodskap is dat liefde dieselfde is as om te leer dans; twee mense ontmoet mekaar waarna verskeie dansklasse volg totdat die bewegings begin vloei en hulle deel van mekaar word.

Nick vertel waar die naam van die groep vandaan kom: terwyl hulle besig was om aan ’n naam te dink, het ’n vriend met Posduif vorendag gekom, en hulle het dadelik daarvan gehou. Aangesien hulle wil hê dat hul musiek ’n boodskap moet oordra, was die naam perfek.

Die groep is nie heeltemal onbekend nie, aangesien die meeste lede ook deel was van die gewilde groep Rubber duc. Die groep bestaan uit Nick Jordaan, Amiel Gopal, Sheldon Sham, Leeroy Sauls en Brendon Campbell. Die toevoeging van James Boland as hoofsanger het daartoe gelei dat die groep op Afrikaanse musiek begin konsentreer het; dit het gelei tot die ontstaan van Posduif.

Hul musikale invloede strek van gospel tot by jazz en pop; dit word op ’n unieke manier gekombineer. Hulle is ’n multikulturele groep in elke opsig, en die verskillende invloede maak hul musiek interessant. Hulle deel almal ’n passie vir musiek en ’n behoefte om ’n positiewe boodskap deur middel daarvan oor te dra.

Hier is die skakel na die musiekvideo: https://youtu.be/6M-domiQvCQ

Comments are closed.

error: Content is protected !!