“Voel my pols” – Joe Foster en Johan C. Venter
Oktober 23, 2019
“Tussen die lakens” – Elandré
Oktober 23, 2019

Een van die suksesvolste egpare in die plaaslike musiekbedryf is Wynand en Lindi Delport; die twee lede van die groep Anders.

Hul jongste enkelsnit, “Pretoria”, is pas vrygestel. Dit is ’n liedjie waarin hulle hulde bring aan die stad waar hulle woon. Die liedjie gaan oor Lindi se grootwordjare in Pretoria; die goeie en die slegte tye. Sy het nie net in Pretoria grootgeword nie, hulle maak ook hul dogter hier groot. Hulle beskou die liedjie as ’n tipe kreet of temalied vir Pretoria en hulle hoop dat dit mense se herinneringe sal laat opvlam.

Die musiekvideo is in samewerking met André Velts en Werner Nortjie gemaak; dit vertel nie noodwendig ’n storie nie, maar die doel was eerder om met Pretoria te spog en die skoonheid van die stad vas te vang. Die orkes wat op die verhoog saam met hulle optree, is ook deel van die musiekvideo. Omdat dit Lindi se storie is, was die idee dat sy deur die strate met ’n fiets moes ry, veral verby die plekke wat deel van haar storie gevorm het.

Wynand en Lindi het mekaar ontmoet toe hulle sestien jaar oud was en ’n jaar later het hulle ’n verhouding aangeknoop nadat hul gemeenskaplike liefde vir musiek hulle na mekaar toe getrek het. Hulle het al vier albums vrygestel en verskeie toekennings gewen,  en hulle sê hulle sal in die toekoms die verhoog met kunstenaars soos Elvis Blue, Ricus Nel, Monique Steyn en Riana Nel wil deel.

Anders is een van die min groepe wat ewe suksesvol en geloofwaardig is, maak nie saak of hulle kommersiële of Christelike musiek sing nie, en hierdie nuwe enkelsnit behoort vir hulle ’n groot treffer te wees.

Hier is die skakel na die musiekvideo: http://www.youtube.com/watch?v=9R-7rdI3BGU

Comments are closed.

error: Content is protected !!