“Van voor af begin” – Mariska

“Voor jou” – Caroline-Grace Brüssow
Oktober 23, 2019
“Een vir my” – Posduif
Oktober 23, 2019

Skaars ’n jaar na die vrystelling van haar debuutalbum en twee radiotreffers is Mariska terug met haar jongste enkelsnit en musiekvideo.

“Van voor af begin”, ’n opgewekte liedjie met ’n country-klank, is deur Vaughan en Nerine Gardiner geskryf en vertel die verhaal van ’n meisie wat dagdroom oor die goeie tye saam met haar geliefde en wens dat sy hierdie tye van voor af kan herleef. Sy verduidelik dat die liedjie gaan oor die liefde tussen twee mense en herinner jou dat die liefde steeds bestaan en dat ’n mens steeds daarin kan glo. Sy vertel dat sy haar van die begin af in die storielyn kon inleef en dat sy dit geniet om musiek te sing wat in haar kop vassteek.

Die musiekvideo is geïnspireer deur Hailee Steinfeld se Capital letters en die Hilary Duff-rolprent A Cinderella story. Dit is op Zonnehoeve Equestrian Estate, ’n perdeplaas by Ruimsig asook in Constantia Kloof verfilm, en Fathom Media was verantwoordelik vir die verfilming daarvan.

“Van voor af begin” is die derde enkelsnit vanaf haar album Dankie, wat uit twaalf oorspronklike snitte deur liedjieskrywers soos Johan Oberholzer, Vaughan Gardiner en Rudi Claase bevat. Sy het ’n BMus (Hons)-kwalifikasie agter haar naam en het al die klavier, die klawerbord en die viool leer bespeel. Sy is ook tans besig met haar BA-graad in sielkunde en het reeds aan haar volgende album begin werk.

Die skakel na die musiekvideo is: https://youtu.be/T5I4gsw5mQQ

Comments are closed.

error: Content is protected !!