Alles net vir jou – Sonja Lochenberg

My beste en meer – Manie Jackson
November 7, 2019
The country collection Vol. 3 – Steve Hofmeyr
November 7, 2019

In 2006 het die Suid-Afrikaanse musiekbedryf vir die eerste keer kennis gemaak met ’n pragtige blondekop met ’n heserige stem wat maklik met Patricia Lewis verwar sou kon word.

Sonja Lochenberg het egter gewys dat sy oor baie meer talent beskik, en haar debuutalbum, Twee plus twee, het die treffer “Hier is my hemel” oplewer. Hierdie liedjie, geskryf deur niemand minder nie as Blackie Swart, het sterk standpunt teen gondhervorming ingeneem.

Haar tweede album, Droom van my, het twee jaar later verskyn maar sedertdien was sy maar stil. Nou is sy terug met haar nuwe album, Alles net vir jou.  Die eerste snit vanaf hierdie album is “Afrikaans die taal van my hart”; haar eie komposisie soos die meeste snitte op die album.  Hierin sing sy van haar moedertaal. “Nooit” is ’n moontlike treffer; veral jongmense sal hulle met die woorde kan identifiseer.  “Altyd naby” is ’n mooi snit wat dalk ’n treffer kan word. “Boertjie van die klein Karoo” is ’n lekker snit waarvan veral jonger luisteraars sal hou. Sonja het “Mamma” vir haar ma geskryf. “Jy’s die ridder” is ’n lekker snit wat radiolugtyd verdien.  Die kitaarwerk op die titelsnit is baie goed, dit is nog ’n moontlike treffer.  Die sprokie-tema van “Jy is die ridder” word verder gevoer met “Sneeuwitjie”.

Die lirieke van “Wat het van jou hart geword” sal ’n mens laat dink; jy moet soms twee keer dink voordat jy ’n verhouding verbreek. “Ek smaak jou stukkend” is nie baie goeie Afrikaans nie, maar dis hoe die jongmense deesdae praat. “Jy’s ’n deel van my” is nog ’n goeie snit wat sy self geskryf het. Die laaste Afrikaanse snit, en die laaste een wat sy geskryf het, is “Hou vas aan jou hart”. Sonja het ’n groot deurbraak gemaak deur Rudi Claase te kry om die laaste snit, “Send a message to my heart”, saam met haar te sing. Miskien kan hy in die toekoms weer saam met haar werk, en wie weet, dalk skryf hy nog ’n liedjie of twee vir haar

Sonja kon nog nie ’n groot deurbraak op stedelike radiostasies maak nie en dis moeilik om te verstaan hoekom. Sy is ’n talentvolle sangeres en liedjieskrywer wat meer erkenning verdien as wat sy tot dusver gekry het.

Comments are closed.

error: Content is protected !!