My beste en meer – Manie Jackson

#Partytjiedier – Kurt Darren
November 7, 2019
Alles net vir jou – Sonja Lochenberg
November 7, 2019

Dit is aanstaande jaar twintig jaar sedert Bles Bridges in ’n motorongeluk dood is, maar dit het nie lank geduur voordat sy opvolger na vore gekom het nie.

Manie Jackson se gelyknamige deurbraak-album het tien jaar later verskyn, en sedertdien het hy verskeie trefferliedjies en -albums vrygestel. Nadat sy aanhangers lank moes wag, is sy eerste amptelike trefferversameling, My beste en meer, pas uitgereik. Dit bevat sewentien van sy grootste treffers deur die jare asook drie nuwe snitte. Die eerste nuwe snit is ’n besliste treffer, “Waarom het jy nie nee gesê?”, waarvoor Manie die Afrikaanse woorde geskryf het. Een neiging wat dalk ’n bietjie té gereeld in sy musiek voorkom, is dat hy soms praat en sing; terwyl daar byna niemand meer is wat dit in hul musiek doen nie. Op “Ek, Bles en Gé” bring Manie hulde aan ’n aantal plaaslike kunstenaars wat deur die jare oorlede is. Die derde nuwe snit, “Sê nou”, is nog ’n moontlike treffer.

Manie se grootste treffer tot dusver was seker “Die hemel weet”, vanaf sy gelyknamige album. Dit is die Afrikaanse weergawe van die country-sanger Alan Jackson se treffer “Between the devil and me”. Nog ’n groot treffer wat kort daarna gevolg het, was “Julia”. Een van die heel mooiste snitte wat Manie tot dusver opgeneem het en beslis op hierdie versameling hoort, is “Bring die sterre nader”, waarvoor Sarah Theron, Don Kelly en Neil Schoombee die Afrikaanse woorde geskryf het. “Engele” is nog ’n snit waarop Manie praat en sing. “Loop net langs my spore”, waarin hy van ’n pa se verhouding met sy dogter sing, het oorspronklik op die album Liefde en genade voorgekom. Manie het met Frikkie de Bruyn en Marius de Vos saamgespan en “Vir Pa” saam geskryf. Die verhouding tussen ’n pa en sy kind is op nog ’n snit, die titelsnit vanaf sy album “Sprei jou vlerke”, ter sprake. Die volgende twee snitte het albei op die album Onthou my voorgekom; die titelsnit was ’n treffer en “Dorings vir Ma” is een van daardie snitte waarmee die meeste mense hulle kan identifiseer. “Liefde en genade” was die titelsnit vanaf nog een van sy trefferalbums, die lirieke “vir ’n honderd duisend jare” wat daarin voorkom, is net heeltemal oordrewe. “Onthou se jodel” is nog ’n snit waarop hy hulde aan gister se kunstenaars bring maar kom ons wees sommer blatant eerlik; jodelmusiek is nie radiovriendelik nie en is net op ’n baie beperkte gehoor gemik. Dit verander egter niks aan die feit dat Manie baie goed kan jodel nie. “Laat dit reën” is ’n hoogtepunt. Pieter Krugel het dit ingeskryf vir die enigste Afri-Visie-kompetisie wat tot nog toe gehou is en Louis Fivaz het dit vir daardie kompetisie gesing. Manie se opname was egter dalk ’n groter treffer.

Die titelsnit vanaf die album Palms van my hande is ’n komposisie van Ray Dylan. Rudi Claase het seker vir omtrent elke Afrikaanse kunstenaar liedjies geskryf, en sy twee komposisies wat op hierdie versameling voorkom, “Nog net een keer” en “Donker hart”, was groot treffers. Manie het onlangs tydens ’n konsert gesê dat hy onderneem het om op elke album, en tydens elke konsert, minstens een Christelike lied te sing uit dankbaarheid nadat hy ’n terugslag in sy gesondheid oorleef het. Vier jaar gelede is die uiters onderskatte sanger en liedjieskrywer Fredi Nest aan kanker oorlede. Hy het die lied “Vuur hier binne my”, wat tot eer van die Here is, in Afrikaans en Engels geskryf en Manie se opname van die Engelse een, “Fire within me”, saam met Fredi, is hier ingesluit. Die album sluit af met “Die Onse Vader”, maar nie heeltemal soos ons dit ken nie. Cliff Richard het ’n weergawe daarvan op die wysie van “Auld Lang Syne”, bekend as “The millennium prayer”, opgeneem, en intussen is daar Afrikaanse woorde daarvoor geskryf. Manie het hierdie Afrikaanse weergawe opgeneem; dit is die laaste snit op hierdie versameling.

Daar is goeie redes hoekom Manie die afgelope dekade een van ons land se voorste kunstenaars geword het. Sy musiek is op ’n breë gehoor gemik en hoewel nie almal noodwendig van al die snitte op hierdie album sal hou nie, is daar tog iets vir byna elke musieksmaak. Diegene wat hom al sien optree het, sal ook weet dat hy ’n baie goeie verhoogpersoonlikheid het. As jy dalk enige van sy vorige albums misgeloop het, of al sy musiek op een album wil hê, kan jy hierdie album by jou versameling voeg.

Comments are closed.

error: Content is protected !!