“Waar is jou hoop?” – Mike
Oktober 23, 2019
My beste en meer – Manie Jackson
November 7, 2019

Omtrent twintig jaar gelede het Kurt Darren, wat op daardie stadium al ’n album of twee vrygestel het maar nie veel sukses behaal het nie, besluit om sy musiekstyl te verander en in Afrikaans te begin sing.

Dit het dadelik vrugte afgewerp, en hy het die een trefferalbum na die ander vrygestel; en die trefferslyste van elke radiostasie begin oorheers. Hy het omtrent dieselfde tyd elke jaar ’n nuwe album vrygestel en verseker dat hy byna die heeltyd radiolugtyd gekry het.

Die afgelope paar jaar het hy sy aanhangers ’n bietjie langer laat wag, en sy laaste album, Laat die dansvloer brand, wat omtrent twee jaar gelede vrygestel is, het omtrent net die titelsnit as treffer opgelewer. Nou is hy terug met sy jongste album #Partytjiedier, en die vraag is of hy op sy sukses van die verlede kan voortbou.

Die titel van die album gee ’n mens reeds ’n aanduiding van wat om te verwag en die eerste snit, “Klein Saterdag”, is daarop gemik om die dansvloere vol te kry. Klein Saterdag verwys na ’n Woensdag, want dit was altyd die dae toe Weermaglede sport beoefen het. Dit is die eerste enkelsnit vanaf die album en is reeds besig om ’n treffer te word. “Dit is naweek” sluit hierby aan, dit is nog ’n partytjieliedjie. Kurt was hierdie keer meer by die kreatiewe proses betrokke en hy het “Heel aand lank” saam met Neil Schoombee en Sean Butler geskryf. “Gelukkigste man op aarde” is miskien een van die beste snitte op die album. Die titelsnit sal mense beslis op die dansvloer kry; dit is natuurlik ’n moontlike treffer. “Somerlyf” is nog ’n snit wat Kurt saam met Sean Butler en Neil Schoombee geskryf het. “Tydbom”, ’n komposisie van Dirk van Niekerk saam met Kurt, is ’n baie goeie snit, en behoort baie radiolugtyd te kry. Kurt kon nog altyd ewe goed Engels en Afrikaans sing, en “Oh my soul”, die enigste Engelse snit op die album, behoort lugtyd te kry op radiostasies wat nie Afrikaanse musiek speel nie. Emil Struwig en Don Kelly het gehelp om “Sing” te skryf; dit is ’n lekker snit wat gewild behoort te word. Die volgende snit laat ’n mens kopkrap: wat presies is ’n “Hallejula-soen”? “Roekeloos”, ’n komposisie van Don Kelly en Neil Schoombee, is onbeskaamd op ’n jonger gehoor gemik. Kurt laat nie net die dansvloer brand, om die titel van sy vorige album aan te haal, nie, want “Droomvanger” is ’n baie mooi snit. Dit sal goed wees as Kurt al hoe meer sulke snitte in die toekoms kan opneem. Die laaste snit is ’n nuwe weergawe van “Laat die dansvloer brand”.

Dit is nie so maklik om ’n oordeel oor hierdie album uit te spreek nie. Aan die een kant gee Kurt sy aanhangers presies wat hulle wil hê, en daar is geen twyfel dat Kurt presies weet hoe om ’n partytjie lewe te gee nie. Daar is egter ook ’n ander kant; teen die tyd wat Kurt sy volgende album vrystel, is hy vyftig jaar oud en ’n mens wonder of dit nie dalk tyd geword het dat hy ’n nuwe rigting begin inslaan en die partytjiemusiek aan jonger kunstenaars oorlaat nie. Jy moet maar self besluit watter argument vir jou swaarder opweeg.

Comments are closed.

error: Content is protected !!