The country collection Vol. 3 – Steve Hofmeyr

Alles net vir jou – Sonja Lochenberg
November 7, 2019
“Nonna” – Appel
November 7, 2019

Dit is vanjaar dertig jaar sedert Steve Hofmeyr sy eerste album, Desertbound, vrygestel het; sedertdien het hy gemiddeld een album per jaar uitgereik.

Benewens sy Afrikaanse musiek, asook konsepalbums soos sy kinderalbum Laaities en ladies en sy rugbyalbum, Die Bok kom weer, het hy ook ander musiekgenres aangepak. Sy eerste country-versameling was so gewild dat hy besluit het om met nóg twee op te volg.

Die derde en laaste album in hierdie reeks is pas uitgereik, en bevat nie net bekende country-liedjies nie, maar ook treffers wat in hierdie styl verwerk is. Die eerste snit op die album is sy weergawe van Exile se groot treffer “The part of me that needs you most” en dis opvallend dat Steve se weergawe in ’n laer toonaard as die oorspronklike een is. Die volgende snit is ’n effense verrassing, naamlik Joe Dolan se laaste Suid-Afrikaanse treffer, “It’s you, it’s you, it’s you”. Joe het ’n hoë tenoorstem gehad en Steve se weergawe word weer eens in ’n laer toonaard gesing. Die musikale verwerking is só goed dat hierdie snit radiolugtyd verdien. Creedence Clearwater Revival se musiek is tydloos en daarom is dit geen verrassing dat Steve een van hul treffers ingesluit het nie. “The midnight special” was seker een van hul heel grotes, en Steve se weergawe is baie goed. Op sy vorige country-versameling het Steve die Don Williams-treffer “Amanda” saam met Demi-Lee Moore gesing. Dit was so suksesvol dat hulle hierdie keer twee snitte saam opgeneem het. Die eerste een is “When you say nothing at all”, oorspronklik ’n country-treffer vir Alison Krauss, maar die meeste mense onthou Ronan Keating se weergawe uit die rolprent Notting Hill. Steve se lae register op sy weergawe van die Bruce Springsteen-komposisie “Fire”, wat ’n treffer vir The Pointer Sisters was, klink fantasties. Een van die heel bekendste country-liedjies is “Mamas don’t let your babies grow up to be cowboys”, oorspronklik ’n treffer vir die country-legendes Willie Nelson en Waylon Jennings. Steve se weergawe is uitstekend. Steve het met Riana Nel, Demi-Lee Moore en Ricus Nel saamgespan vir John Denver se treffer “Take me home country roads”, wat ook op Ricus se jongste album ingesluit is. Nog ’n groot verrassing is ’n baie goeie opname van Engelbert Humperdinck se treffer “Radio dancing”. Die tweede snit wat Steve saam met Demi-Lee sing, is “I will always love you”, wat deur Dolly Parton geskryf is en ’n groot treffer vir Whitney Houston was. Hul weergawe is baie beter as die een van Whitney Houston. Steve sing die bekende treffer “Always on my mind” in baie dieselfde styl as Willie Nelson. Die laaste snit is ’n lewendige opname van Kris Kristoffersen se “Why me Lord”, waarop Riana Nel saam met hom sing.

Steve is een van daardie kunstenaars oor wie niemand neutraal is nie; jy aanbid hom of jy haat hom. Hy het egter hierdie keer ’n album uitgereik wat by almal, sy grootste aanhangers en sy venynigste kritici, byval sal vind. Hierdie album is Steve op sy heel beste en kan nie sterk genoeg aanbeveel word nie. Dié wat ook nog nie sy ander twee country-albums het nie, kan gerus ook ’n plan maak om dit in die hande te kry.

Comments are closed.

error: Content is protected !!