“Vier seisoene kind” – Tasché en Francois van Coke
November 7, 2019
Vloek
November 13, 2019

deur Carina Diedericks-Hugo

Penguin Random House

Die bekende jeugboekskrywer Carina Diedericks-Hugo se langverwagte volwasse roman is in Januarie 2019 uitgegee.

Dié rillerdebuut vertel die verhaal van die beeldskone digter Anna Neethling wat jare gelede finaal uit die uitgewer Malan Sinclair se lewe gestap het. Hul verhouding was ’n verwoestende maalkolk wat sy huwelik en loopbaan wou verswelg. Ná jare daag sy onverwags by sy kantoor op en word, ná ’n helse uitval voor sy kollegas én sy vrou, dood langs sy motor gevind.

Malan besluit om van die lyk ontslae te raak, maar ’n paar dae later word ’n uittreksel uit Anna se dagboek en sy bebloede sakdoek by hom afgelewer. Malan word die hoofverdagte in haar moord. Die uittreksel beskryf gebeure wat meer as ’n dekade gelede tydens ’n drinkparty op ’n wynplaas afgespeel het. Iets het daardie aand in die kelder gebeur en meer as een paar hande is bevlek.

Karaktermoord is miskien nie vir sensitiewe lesers nie, maar belowe om jou tot laat in die aand wakker te hou. Dit is ook as e-boek beskikbaar.

Oor die skrywer

Carina Diedericks-Hugo is die skrywer van die  Thomas@-boeke, wat op kykNET as ’n televisiereeks uitgesaai is. Haar werk is vir die Sanlam- en die MER-prys benoem en het reeds ses ATKV-toekennings ontvang. As sy nie skryf nie, werk sy as bemarkingsbestuurder van ’n wynlandgoed in Stellenbosch.

Comments are closed.

error: Content is protected !!