Die Here se tyd is die regte tyd

Van Groen en Goud tot Hie’ kommie Bokke
November 21, 2019
Dié wolwe is plat op die aarde
November 22, 2019

Demi Lee Moore Foto: Chantelle Loots

Deur Seugnet van Zyl

So sê die sangeres Demi Lee Moore, waar sy in haar en haar kêrel, Barthlo Visagie, se nuwe huis in die ooste van Pretoria sit.

Die Kaapse nooi het die Moederstad vir die Jakarandastad verruil nadat sy byna ’n jaar gelede VIA se sangkompetisie Die Kontrak gewen het.

“My lewe het handomkeer verander. Eerstens het ek die Kaap verlaat. Ons het ’n huis gekoop. As jy vir my ses maande terug sou sê dat ons ’n huis sou koop, sou ek vir jou gelag het. Dit was net die regte tyd. Ek is bly dit het tien jaar gevat voor dinge regtig in plek geval het.”

Vir 10 jaar lank was restaurante, hotelle en markte haar verhoog, maar nou is sy volbepreek tot Mei volgende jaar.

Sy sê sy en Barthlo, wat deesdae ook haar kitaarspeler en toerbestuurder is, mis nie die Kaap nie.

“Dit is ’n nuwe begin in Pretoria vir ons. Dis ’n hele nuwe hoofstuk. Dit is baie opwindend en dis net baie lekker hierso vir ons. Ons is ook heeltyd besig hierbo. Hy is my beste vriend. Ons doen letterlik alles saam. Ons baklei glad nie. Ons is altwee so dankbaar dat dinge so goed uitgewerk het en ons nou voltyds saam kan optree.”

Haar debuutalbum, Mis Eet Slaap Herhaal, het by die Ghoemas in April vanjaar vyf pryse gewen, onder meer vir die beste verkoper.

Dié album het nou al amper platinumstatus bereik.

“Die grootste en beste ding wat seker met my kon gebeur het, is dat my debuutalbum saam met Coleske Artists, só goed gedoen het. Dit was die topverkoper van die jaar. Ek sou dit nooit kon droom nie. Uiteindelik sing ek nou my eie musiek en dit doen so goed en die mense hou daarvan. Ek knyp nog steeds myself.”

Een ding wat vir Demi Lee uitstaan is haar ondersteuners.

“Sonder hulle ondersteuning is ek niks. Ek doen altyd moeite ná ’n optrede. Ek sal daar staan totdat ek met die laaste persoon gepraat het. Daai mense staan daar net om met my te praat. Jou ondersteuners is letterlik jou noodlyn. Dit is die rede hoekom jy kan doen wat jy doen. Dis vir my die belangrikste om hulle te leer ken en nie net vinnig ’n foto saam met hulle te neem nie.”

Tydens Die Kontrak is nog ’n droom van haar verwesenlik. Dié droom was om country-musiek te sing. Sy en haar afrigter en mentor op dié televisiereeks, Monique Steyn, het die Country-treffer “Dianne” saamgesing.

“Toe die mense aanklank vind daarby, het dit my só gelukkig gemaak, omdat ek vir soveel jaar probeer het om country te sing. Toe kom ‘Amanda’ (die duet wat sy saam met Steve Hofmeyr sing). Ek weet nou ek kan country sing en die mense geniet dit. Dis vir my die lekkerste ding.”

Sy sê mense het haar hart leer ken deur die liedjies wat sy gekies het om op Die Kontrak te sing.

“Ek het regtig in myself geglo. Ek het nog altyd gesing. Ek is baie gelukkig gewees om ’n loopbaan deur musiek te hê. Ek wou my eie musiek maak en het daarom geweet ek gaan hulp daarvoor nodig hê,” verduidelik sy hoekom sy juis vir Die Kontrak ingeskryf het. Haar ouer sussie, Aimee, was die grootste dryfveer agter dié besluit.

Al is die hoofstad nou hulle nuwe huis, mis sy veral haar ma, Marlene, en ouer sussie, Aimee.

“Dit was nog altyd net ek, my ma en my suster, wat 3 km van my ma se huis af bly. Ek het hulle elke liewe dag gesien. Ek sê altyd ons is ’n tripod, want die een been kan letterlik nie sonder die ander een nie.”

Demi Lee se pa, Herman Moore, is op 36 weens maagkanker oorlede toe sy sewe jaar oud was.

Sy werk reeds aan haar tweede album, terwyl sy, Barthlo en hulle drie hondekinders in Pretoria nesskop.

Comments are closed.

error: Content is protected !!