Lotsgebonde – Die verhaal van Fritz Joubert Duquesne
November 21, 2019
Kom sit aan
November 21, 2019

Deur Neels Jackson

Ry ’n mens met die N4 van Gauteng af Nelspruit (Mbombela) toe, kom jy kort na Machadodorp voor ’n keuse te staan. Jy kan reguit aanhou (deur die tonnel, met die Elandsriviervallei langs en verby Ngodwana) of jy kan links draai op die pad deur Schoemanskloof.

Kies jy die tweede opsie, ry jy eers ’n rukkie lank op die plato voordat die pad ná De Beersnek begin afsak. Nog verder, verby Patatanek, begin ’n steil afdraande af in die kloof in.

Dis net miskien ’n kilometer ná Patatanek dat Old Joe jou op regterkant inwag. Deesdae is daar ’n netjiese stilhouplekkie waar jy kan indraai as jy van Nelspruit se kant af kom.

Die groot vraag is egter: Hoe gaan Old Joe dié slag geverf wees?

Old Joe is ’n groot, regopstaande klip wat vernoem is na Johannes Antonie (Joe) Barbas, die man onder wie se leiding die eerste grondpad deur Schoemanskloof in 1927 voltooi is.

Wouter de Witt, die kunstenaar wat deesdae verantwoordelik is vir Old Joe se veranderende gedaantes, vertel dat die bouers van grondpaaie destyds soms ’n groterige klip in die pad gekry het. Dié het hulle dan uitgehaal, wit geverf en langs die kant van die pad geplaas. So sou daar dan ’n reeks wit klippe aan weerskante van die pad gelaat word.

Toe die padbouers op ’n dag ’n buitengewone groot rots uithaal, het hulle dit wit geverf, regop langs die pad geplaas en dit na hulle toesighouer vernoem: Old Joe.

Deur die jare het mense Old Joe van tyd tot tyd oorgeverf, gewoonlik met wit en swart verf, maar dit het ’n monument vir Old Joe gebly. In 2005 het Wouter, met die kunstenaarsnaam Ghost, die taak oorgeneem.

Wouter is ’n interessante man wat onder meer kinderprogramme by Innibos aanbied. Sy kunswerke het al enigiets van uithangborde by restaurante tot hospitale se kindersale versier.

Aanvanklik, vertel hy, het hy Old Joe van tyd tot tyd op eie koste gaan verf. Sedert 2010 is Trac, die konsessie wat verantwoordelik is vir die tolpad, die wettige beskermheer van Old Joe. Nou verf hy Old Joe in ooreenkoms met hulle.

Die groot klip kry so vier maal per jaar ’n nuwe baadjie, sê Wouter. Wat hy deesdae doen, is om ’n ontwerp te teken en dit aan Trac voor te lê. Hulle keur dit dan goed en finansier die projek.

Al is Old Joe nou al lank in die land, bly hy gewoonlik aktueel. Hy het al ’n Springboktrui gedra tydens Wêreldbekertoernooie. Hy was al ’n renoster in die stryd teen die stroping van dié ou grotes. Met Kersfees en Paasfees kry hy gewoonlik ’n ontwerp wat daarby pas. Hy het al by Innibos en ander geleenthede aangesluit. Hy was selfs al Piet Botha, toe die sanger wat onlangs dood is, in die Laeveld kom optree het.

Wouter sê die onreëlmatige vorm van die klip bied nogal ’n uitdaging. Soms word die een punt aan die kant ’n neus, maar dit was al een Kersfees Maria se elmboog en ’n ander keer was dit ’n fietsryer se boud.

Die pad deur Schoemanskloof is deesdae ’n lieflike teerpad, maar Old Joe herinner almal wat daar verbyry aan die pionier wat saam met sy span letterlik die weg daar gebaan het.

Boonop is dit telkens ’n verrassing om te sien hoe Old Joe nou lyk.

Comments are closed.

error: Content is protected !!