Dana Snyman hou mense om hom dop en skryf oor die realiteit wat hy in kafees en koffiewinkels sien

Stomende liefde in predikantsvrou se samesweringsroman!
November 22, 2019
Wenkbrou – hulle skrik vir niks!
November 22, 2019

Deur Petronel Fourie

Soekmekaar

Outeur: Dana Snyman

Uitgewer: Tafelberg

’n Klomp bekende vreemdelinge op die hoërskoolklubhuis se stoep, dertig jaar ná hul matriekeksamen. Dít is waar Dana Snyman se soektog na verskillende “mekaars” in Suid-Afrika begin. Hy word deel van “’n raaisel wat julle gesamentlik probeer oplos”, en trek sy leser in die res van die bundel ook by die raaisel in.

Talle van die 59 stories speel op Ventersdorp af. “Ek ry al dieper die dorp in, al dieper my geheue in, verby die apteek waar ons altyd Myprodol vir ma gekoop het, die AWB-kantoor …”

Sy ouers speel ’n sentrale rol in die bundel. Sy pa se betrokkenheid by die AWB, sy ma wat moes ondersteun eerder as om self uit te styg, en waar hy as enigste, soms rebelse kind in dié prentjie ingepas het. Mens lees tussen die lyne dat bloed – eintlik alle bande van liefde en gemeensaamheid – tog dikker as water is.

Snyman skryf oor stereotipes en vooroordeel, veral wat ras betref. Sy skrywes gooi die soeklig oor die diep klowe wat daar tussen rasse en klasse bestaan, tussen ryk en arm, tussen skynheiliges en die res. Hy het ook nie noodwendig die middele om brûe oor dié klowe te bou nie en verontskuldig homself geensins van vooroordeel nie, maar wroeg dikwels juis met daardie natuurlike geneigdheid om die “baas”-rol in te neem. Tog wil hy die gesprek aan die gang hou, aanhou soek, hopelik vind.

“Hoe verbind is soveel van ons nie aan mekaar nie. Wit en swart. Pa en Ma en ek, en Katrina en Sara en Tumi. Ons en hulle. Ons.”

Soms raak Snyman sinies, kwaad, ontnugter. “Afrika het ons ingehaal. Op Ventersdorp, Springfontein en Ceres. Jy sien dit oral. Afrika. Soms maak dit my bang, want oor die jare heen het Afrika ook vir my ’n ander woord geword vir dít wat nie werk nie of dít wat mens nie verstaan nie. Afrika is slaggate in die pad. Afrika is beurtkrag. Afrika is ek wat omkoopgeld by die Ressano Garcia-grenspos betaal.”

In die verhaal “Credo van ’n Afrikaner” skryf hy dat ’n klomp waarhede, halwe waarhede en versinsels wat hy vooraf beskryf, tesame met ’n eng interpretasie van die Bybel en die geskiedenis, sy karakter help vorm het, hom die mens gemaak het wat hy is. Hier in Afrika, in Afrikaans.

“Soveel van wat ek is, is onder beleg en verdenking. Ek is ’n onsekere, wankelende Afrikaner.”

Die skielike dood van sy verloofde Anette vind ook neerslag in die bundel, dit is deel van sy seer en onsekerheid, onlosmaaklik deel van Snyman se verhaal. Hy bied ’n aangrypende beskrywing van die depressie wat sy geliefde geteister het wanneer hy sê dat dit ’n verskriklik stuk waarheid is “wat hoop in wanhoop verander tot jou angs vir die lewe groter kan raak as jou angs vir die dood”.

Hoewel ernstige sake hierdie bundel oorheers, skemer Snyman se skerp humor tog plek-plek deur. Soos wanneer hy oor sy ouma se bakvernuf skryf en die verdwyning van die goeie ou tuisnywerheid. “Jy kry ook nie altyd meer ’n skon in ’n tuisnywerheid nie, Ouma – ’n doodgewone, Christelik nasionale skon, met botter op, en ’n dik laag appelkooskonfyt en gerasperde kaas. Dis nou net muffins.”

Snyman hou mense om hom dop en skryf oor die realiteit wat hy in kafees en koffiewinkels sien. Hy is ’n meester observeerder en insinueer eerder as om sy mening oor mense en situasies reguit uit te spreek. Met sy slim, eenvoudige skryfstyl maak hy sy punt sonder om dit uit te spel.

Soekmekaar maak jou soms kriewelrig, laat jou dink en vrae vra oor goed en sleg, reg en verkeerd. “Ons soek na mekaar terwyl ons na onsself soek,” sê hy. Is Snyman se waarheid ook my waarheid? Is sy realiteit ons almal s’n? Dis vir elke leser om self te besluit.

Comments are closed.

error: Content is protected !!