Dié wolwe is plat op die aarde

Die Here se tyd is die regte tyd
November 21, 2019
Die liedjieboer sal altyd musiek maak
November 22, 2019

Spoegwolf is van agter: Moskou du Toit, Chris von Wielligh, Danie du Toit en Albert van der Merwe Foto: Alet Pretorius

Deur Seugnet van Zyl

Wat kry jy as jy ’n historikus, ’n sjef, ’n ingenieur en ’n advertensiekopieskrywer saamgooi? Wel, eerstens maak hulle saam as Spoegwolf musiek, maar uiteindelik is hulle net vier baie goeie vriende wat daarvan hou om te braai as hulle nie musiekmaak nie.

Om die manne van Spoegwolf alledaags te noem, sal beslis ’n onreg wees; hulle is so plat op die aarde dat jy jou byna kan verbeel hulle is nie een van die grootste Afrikaanse rock-musiekgroepe in Suid-Afrika nie.

Spoegwolf bestaan uit die broers, Danie en Moskou du Toit, Chris von Wielligh op kitaar en klavier en Albert van der Merwe, wat baskitaar speel. Danie is die hoofsanger en Moskou speel tromme. Danie, wat tans besig is met sy doktorsgraad in geskiedenis oor die Afrikaanse rolprentbedryf ná 1980, bestuur en besit die Drum-restaurant in Stellenbosch saam met Moskou, ’n sjef. Chris is besig met sy meestersgraad in ingenieurswese en Albert doen deeltyds TV-reklame en bemarking.

Oor hulle sukses is hulle baie beskeie. Dis byna asof die grootsheid daarvan hulle juis nederig hou.

“Ek dink mense raak meegevoer met die harde ligte en harde musiek. Ons is net mense,” som Danie hulle groot aanhang op.

Hul nuutste album, Koma, is die eerste Afrikaanse album wat tot bo-aan die treffersparade van Apple Music geklim het, net enkele ure nadat dit in Februarie vrygestel is. Hulle het destyds met die #1-sukses gesê: “Partykeer droom jy dat jy ’n fiets vir jou verjaarsdag sal kry. Dan word jy wakker en die hele Afrikaanse gemeenskap koop saam vir jou ’n Ferrari.” “Lenie Blou II”, hulle jongste liedjie, is binne net twee dae meer as 50 000 gekeer op YouTube gekyk. En steeds is hulle nie gewoond aan dié ontvangs nie.

Danie sê hulle is baie dankbaar. “Ons het nie gedink ons sal hierdie ontvangs van ’n song kry nie.” Tydens drie optredes in Oktober in Pretoria, Johannesburg en Potchefstroom kon gehore dié liedjie regstreeks hoor. By een van hierdie optredes kon hulle letterlik net hoor hoe hard die skare dié liedjie saamsing en niks anders nie. “Die monitors was nie bevoeg vir die klank van die crowd nie. Die crowd het dikteer waar die song is. Ons kon niks hoor nie. Ons kon net hulle hoor.” Tydens ’n optrede vroeër vanjaar by die Vrystaatse Kunstefees het Danie gesê: “Dis nie net ek, Albert, Moskou en Chris nie. Nee, Spoegwolf het nog ’n lid. Spoegwolf is ek, Albert, Moskou, Chris en JY!”

Op die vraag oor wanneer hulle besef het hulle is nou groot oftewel nie meer net ’n ondersteuningsgroep nie, kom daar net ’n gesamentlike skaam lag.

“Ons het nog nie. Ek dink ons as band is almal chronies ongelukkig oor waar ons is en nooit waar ons wil wees nie. We are going to get there one day. This is not enough. Ons soek nog altyd van daai eerste show voor vier mense in ’n rolbalklub na iets beter,” sê Danie. Só verklap hy eintlik Spoegwolf se suksesgeheim: die konstante soeke na iets beter en dis juis dít wat al vier se voete stewig op die grond hou.

Danie, oftewel Reënwolf soos hy na homself verwys, is al die Freddie Mercury van Afrikaans genoem  en pastoor Danie, spirituele leier van die kultus Spoegwolf, wat die psalms soos “Blou”, “Storm”, “Geel” en “Skaduwee” sing. Hy beantwoord egter sy selfoon as Danie van Drum-restaurant. Dis dié einste Danie wat ingestem het vir ’n onderhoud op sy verjaarsdag tydens ’n onlangse optrede in Pretoria.

Hoe dié gewone mens en dié een op die verhoog, wat meestal sonder ’n hemp en kaalvoet voor honderde verskyn, bymekaar kom, verduidelik Danie dat hy deur Bruce Springsteen geïnspireer is, wat op ’n keer verduidelik het dat hy bloot op een persoon in die gehoor fokus en daardie persoon namaak. 

“Op dié manier verseker jy dat elke optrede net so goed soos die vorige een is. Dit word dan eintlik ’n baie eerlike conversation tussen jou en die crowd. Dis baie inspirerend.”

Moskou sê hulle verkry ook energie van mekaar wat as groep saamsing. Danie beaam dít dan weer: “A band is bigger than the venue.”

Hulle werk nou baie hard aan hulle vyfde album, See, wat op 14 Februarie volgende jaar uitgereik gaan word.

 “See is ook ’n konsepalbum nes Koma. Van ‘Swaartekrag’ met uitsluitsel van ‘Somer’ is daar ’n golf wat ons heeltyd gebruik het in die imagery van die albums. Dit is ’n golf wat heeltyd oor ’n berg kom. Dis amper hierdie koms van ’n mooi ding. Ek het as ’n student baie see toe gery, want dit laat jou klein voel, want jy is klein. Ons almal is eintlik klein en onbelangrik. Jou probleme is klein en onbelangrik en die see is ’n mooi herinnering daaraan.  As jy by die see is, besef jy, jis, ek neem myself nou veels te ernstig op,” verduidelik Danie.

Hy sê daar is ook ’n paar lekker temas op die nuwe album.

“Ons werk met die idee van wonde. Jou wonde is soos jou seile. Die album gaan oor temas wat die moeite werd is om oor te praat.”

Moskou beskryf dié album as “African upbeat met epic rock gemeng. Dit gaan epic wees.”

Hulle eerste album, Swaartekrag, het in 2012 verskyn.  In 2015 Somer, Die Donker Toring in 2017 en Koma in 2019.

Voordat hulle moet ry om vir die aand se optrede te repeteer, maak hulle tyd vir hulle ondersteuners waar hulle saam met hulle vir foto’s poseer.

Comments are closed.

error: Content is protected !!