Kaapsehoop sal jou bekoor!
November 22, 2019
Stomende liefde in predikantsvrou se samesweringsroman!
November 22, 2019

Prof. Danie Goosen, (voorsitter van die FAK), Hugo en Sonja Meyer (ouers van die ontslape skilder, Walter Meyer) die akteur Frank Opperman, Marna Jordaan (hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria), Charles Smith (Netwerk24 se sentrale nuushoof en die nuusredakteur van Volksblad in die Vrystaat en die Noord-Kaap) en dr. Danie Langner (besturende direkteur van die FAK) tydens vanjaar se Prestige-aand. Foto: Christiaan de Beer

By vanjaar se FAK Prestige-aand is ’n akteur, joernalis, onderwyser en skilder vir hulle onderskeie uitsonderlike kultuurprestasies in Afrikaans vereer.

Die akteur Frank Opperman het die FAK Prestige-toekenning vir uitnemende kultuurprestasie in die Afrikaanse toneelkuns ontvang, Charles Smith, tans Netwerk24 se sentrale nuushoof en die nuusredakteur van Volksblad in die Vrystaat en die Noord-Kaap, is met die FAK Prestige-toekenning vir die bevordering van Afrikaans in die media vereer en Marna Jordaan, hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, het die HB en MJ Thom Prestige-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse onderwys en opleiding ontvang. Die NP van Wyk Louw-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse taal en kultuur is ook postuum aan die ontslape skilder Walter Meyer toegeken. Meyer is bekend vir sy skilderkuns van die Kalahari en die Karoo. Meyer is in 2017 in Upington onder tragiese omstandighede dood. Sy ouers, Hugo en Sonja, het sy toekenning in ontvangs geneem. Hulle het een van sy skilderye, ’n uitbeelding van die plek waar die Bethulie-konsentrasiekamp was, aan die FAK geskenk.

Prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, het gesê dit is vir die FAK ’n onmeetlike voorreg om erkenning te gee aan mense uit eie geledere wat vir ons ’n toonbeeld van vryheid is.

“Vryheid en uitnemende handeling is volgens ons tradisie nie twee uitsluitende dinge nie. Inteendeel, hulle vooronderstel mekaar. Vryheid gebeur in en deur uitnemende handeling. Anders geformuleer, vryheid gebeur in en deur die bemeestering van die reëls ten grondslag van die verskillende sfere van die lewe waarby ons is. As sodanig weerspreek die nakoming van die reëls nie soos wat dikwels gedink word ons vryheid nie. Inteendeel, die bemeestering van die reëls ten grondslag van die klavierspel, die onderwys, maak juis vryheid moontlik.

“Sonder dié voorbeelde van vryheid onder ons eie mense dreig kultuurgemeenskappe om slegs die laagste gemene delers op te soek; sonder hierdie voorbeelde dreig hulle om in die gemeenplasige, die goedkoop antwoord en die kort paadjie vas te val; sonder hierdie voorbeelde dreig hulle om kultureel afgestomp te raak en met ’n soort dowwe blik in die oog ’n geestelike doodskoot af te wag.

“Die teendeel is egter ook waar. Met hierdie voorbeelde van vryheid uit eie geledere kan kultuurgemeenskappe selfs die ernstigste fisiese, militêre, ekonomiese en demografiese druk weerstaan – en ook florerende gemeenskappe wees.”

Frank, wat ons vir meer as 40 jaar op die TV en op die planke vermaak, het sedert Orkney Snork Nie in ’n magdom ander TV-rolle, verhoogproduksies en rolprente opgetree.

Dit sluit onder meer Die Vierde Kabinet, Gautengeleng, Pandjieswinkel, Munisipaliteit van Gwara Gwara, Vlug na Egipte en Ouboet en Wors in, om maar net ’n paar te noem. The Big Time, waarin hy die Griek Chris Karedes kort na Orkney Snork Nie gespeel het, bly ná al die jare by verre sy gunstelingtelevisierol. Dié televisiereeks is destyds ook met verskeie toekennings bekroon.

Hy verkies egter teater. Dit is vir hom die lekkerste, want om ’n toneelstuk oor en oor en sodoende beter te doen, is juis wat hom na hierdie kunsvorm aantrek.

Frank is tans in teaters te sien met sy sesde soloverhoogstuk, Donkie, in samewerking met die skrywer Dana Snyman.

Dit is vanjaar Charles se 30ste jaar by Volksblad. In sy tyd as joernalis by Die Volksblad, wat nou net as Volksblad bekendstaan, het hy verslag gedoen oor onder meer die verkiesing in 1994, die Tempe-skietery in 1998, Hansie Cronjé se dood en die Lesotho-onluste in 1998 en 1999.

As Volksblad-verslaggewer het hy oor die dekades bekend geraak as die vergestalting van ’n meesterjoernalis – op die voorfront van Lesotho, waar hy tydens politieke onrus met ’n vuurwapen teen die kop aangehou is, tot Hollywood, waar hy op Oscar-aand ongemerk met die glansmense van die rolprentwêreld gemeng en van agter die skerms oor hulle berig het.

Op 21 November vanjaar verskyn die boek Nuusmakers – stories oor mense, nuus en gebeure oor 30 jaar uit Charles se pen. Volksblad, moederkoerant van Bloemnuus, betree ’n nuwe joernalistieke terrein met dié publikasie van ’n eerste eie glansboek met ’n versameling van Charles se beste stories en foto’s as joernalis-skrywer wat hy vir die koerant gelewer het.

Dit is vanjaar Marna se 39ste jaar in die onderwys. Sy meen sy is as onderwyser gebore. Onderwys is haar passie en die kinders is haar lewe. Albei haar ouers, wie ook haar grootste rolmodelle was, was albei onderwysers gewees. Marna is vroeg skool toe en dalk ook omdat die onderwys haar so ooglopend besiel het. Sy het as kind in die middae alewig weggeloop om in die skool in Haenertsburg, waar haar pa koshuisvader was, se klaskamers te gaan speel en het ook as kleuter met haar ma se potlode onder haar kussing geslaap, want sy het toe al vir haar ma vertel hoe sy ook soos sy, ’n juffrou gaan word.Sy is sedert 2008 die hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria.

Walter se werk word gereeld as “tradisioneel”, en selfs “konserwatief” beskryf omdat hy getrou gebly het aan die medium van verf en nie deel geword het van die kontemporêre eksperimentering met nuwe mediums soos video of installasies nie. Hy word ook gereeld met Pierneef vergelyk met een verskil, naamlik dat Pierneef Afrikanernasionalisme deur die landskap vergestalt het, terwyl hy die kwyn van nasionalisme en die agteruitgang van die platteland op sy doeke vasgevang het.

Sy landskappe slaag daarin om die unieke Suid-Afrikaanse lig uit te beeld. Die son wat ongenaakbaar op mens en dier neerdaal en alle dinge byna in ’n verblindende helderheid verswelg, kan tereg met Claude Monet se impressionistiese aanwending van lig vergelyk word. Soms is die lig so oorweldigend dat die landskap uit fokus sweef, byna soos ’n Gerhard Richter, ’n Duitse visuele kunstenaar, wat as een van die belangrikste kunstenaars van die 20ste en 21ste eeue beskou word.

Walter het nie gereeld mense uitgebeeld nie, maar eerder dit wat oorgebly het nadat die menslike teenwoordigheid verdwyn het, die murasie, die dorstige bloekomboom, die karwrak en die dorre aarde.

Comments are closed.

error: Content is protected !!