Die liedjieboer sal altyd musiek maak
November 22, 2019
FAK vereer tannie Min en oom Lance
November 22, 2019

Die Hudsonbaaise griet waarvoor ons ’n duisend myl gery het en weer ’n duisend myl terug. Foto: Neels Jackson

Deur Neels Jackson

Of dit al iewers in ’n Afrikaanse woordeboek staan, weet ek nie. Wat ek wel weet, is dat daar Afrikaanse voëlkykers is wat die woord “twitch” by die Engelse gaan leen het, soos wat ons voorsate woorde soos “speaker” en “pennie” uit Engels gaan haal het.

Twitch. Dit is om besondere moeite te doen om een spesifieke voëlsoort te sien, sodat jy dit op jou lewenslys kan afmerk. Jy kan dit as werkwoord gebruik: “Ons het die pikkewyn getwitch.” Of jy kan dit as ’n selfstandige naamwoord inspan: “Die boomkoester was eintlik ’n maklike twitch.”

Die regmerkie wat jy op ’n lysie maak om aan te dui dat jy ’n voël gesien het, gee vir baie voëlkykers (nie vir almal nie, maar vir baie) ’n besondere bevrediging. Baie voëlkykers hou ’n lewenslys by waarop alle voëls wat hulle nog ooit gesien word, afgemerk word. Party het elke jaar ’n jaarlys. Party het ’n tuinlys. Daar is vakansielysies, provinsiale lysies, fotolysies.

Jaarliks word daar op die laaste Saterdag in November ’n Groot Voëlkykdag gehou waarin spanne met mekaar meeding om te sien wie die meeste voëls binne 24 uur kan afmerk.

Maar die mees besondere regmerkies bly maar dié van ’n behoorlike twitch.

Dis nou amper tien jaar gelede dat die nuus onder voëlkykers versprei het dat daar ’n Hudsonbaaise griet in die Weskus Nasionale Park by Langebaan gesien is.

Griete is groterige voëls met lang snawels en lang dun beentjies wat gewoonlik by vlak water te sien is. Dis waar hulle klein goggatjies vang en vreet. Suid-Afrikaanse voëlkykers ken die bandstertgriet en die swartstertgriet as trekvoëls wat ons streek in die somer besoek.

Maar die Hudsonbaaise griet is die spreekwoordelike “ander dam se gans”. Soos sy naam aandui, is dit ’n Amerikaanse voël. Dit migreer volgens die seisoene tussen Noord- en Suid-Amerika. Soms gebeur dit egter dat so ’n voël in die een of ander weerstelsel beland wat dit oor die oseaan waai sodat dit in Suid-Afrika pleks van Suid-Amerika beland. En dan is dit vir Suid-Afrikaanse voëlkykers ’n rare geleentheid om so ’n voël te kan sien.

Dit is wat vroeg in 2010 met die Hudsonbaaise griet gebeur het, en dis hoekom ’n klompie van ons Gautengers begin planne maak het. Eers moes ons seker maak dat die griet nie net een keer gesien is en toe weg is nie. Dit moes darem lyk of hy ten minste voorlopig daar sou bly, sodat ons nie verniet die moeite sou doen om ’n reis van ’n duisend myl aan te pak nie.

Daarna moes elkeen sorg vir ’n paar dae verlof. Gelukkig kon ons op Langebaan slaapplek gereël kry. Vier van ons kon ’n kar volmaak sodat ons die koste so laag as moontlik kon hou. Niemand van ons het geld gehad om rond te gooi nie. As ons dit gehad het, sou ons afgevlieg en ’n kar gehuur het.

Ons het vroegoggend vertrek en teen donker die aand in Langebaan aangekom. Dit het besondere betekenis aan die woord “dagreis” gegee.

Die volgende oggend was ons douvoordag in die voëlskuiling waarvandaan die griet gesien is. En ons was nie die enigste nie. Daar was ’n hele paar ander voëlkykers ook.

Maar dit het gou geblyk dat die gety nie in ons guns was nie. Dit was laagwater en die voëls, wat by die waterlyn hou, was ver van ons af. Die gety sou eers die middag inkom en die waterlyn en die voëls na ons kant toe opstoot. Ons kon ’n rustige vroeë middagete gaan geniet.

Teen hoogwater was ons terug op ons pos, maar die griete was nêrens. Eers na ’n ruk het ’n swerm van hulle ’n verbyvlug gedoen – en daar was hy tussen die res. Die enigste van die griete met swart onder sy voorvlerke.

Die swerm het ’n paar keer gedraai voordat hulle kom sit het. So dat ek darem ’n so-so-erige foto van die ster van die middag kon kry. Maar die regmerkie was verseker.

Ons het dit die aand gaan vier en donker die volgende oggend die terugtog aangepak.

Elke twitch is uniek. Soms is die teikenvoël ’n heel vreemde besoeker. Ander kere is dit bloot ’n skaarserige spesie wat skielik op ’n plek maklik te sien is. Die Hudsonbaaise griet het ’n poging van drie dae geverg, maar die gevlekte riethaan ’n paar jaar gelede in Midrand, was minder as ’n uur ver.

En uiteindelik gaan dit tog oor meer as ’n regmerkie. Dit gaan oor die verwondering oor die verskeidenheid van die lewe om ons.

Comments are closed.

error: Content is protected !!