Verlede jaar het die skrywer, sanger, akteur en sjef Willie Strauss ’n kookboek, Daar is ’n Engel in my koskas, uitgegee en vanjaar kook hy dié resepte voor die kamera in Willie kook! Hy som sy resepte as boerekos met ’n fokstrot op, want al sy geregte het net so ietsie by waaraan ouma nooit sou dink nie. Sy bobotie, byvoorbeeld, het nie net die prosaïese knippie borrie en kerrie by nie, maar gedroogde bosbessies, tamaties en suurlemoensap.
“My resepte is almal baie maklik om te maak. Die bestanddele is gewoonlik in jou koskas en die resepte is flatervry,” sê Willie.
Hoe het jy aan hierdie idee gekom?
Ek dreig al so lank om my eie
kookvideo’s te maak. Ek kry gereeld navraag daarvoor. Op ’n dag het ek besluit
die tyd is nou reg en ek is gereed daarvoor. Ek is baie dankbaar vir die Cullinan
Spar wat my help om die video’s te maak en daarbuite te kry. Nou moet ek mense
kry om deel te word van my YouTube-kanaal sodat hulle op hoogte kan bly van
elke maand se video.
Wat is vir jou
die lekkerste van dié kookvideo’s?
Ek geniet filmwerk en kook.
Nou kan ek dié twee kombineer. Dit is baie persoonlik omdat ek dit in my eie
kombuis verfilm. Dit voel dan of jy saam met my kook.
Dis duidelik
dat jou kookboek en Willie kook! mekaar komplimenteer? Hoekom albei?
Ek dink die video’s is net ’n
vertakking van die kookboek. Die kookboek doen baie goed en die video’s is ’n
manier om die boek se resepte te bemark. Ek gaan ook resepte doen wat nie in
die boek is nie, maar meestal kook ek die gewildste resepte. In die video’s
gaan ek ook idees gee om tafel te dek en wys om handwerkartikels te maak. So af
en toe sal ’n bekende gesig saam met my kom KOOK!
Dink jy dis
soms makliker as iemand die sjef/kok die resep sien maak eerder as om dit net
in ’n resepteboek te lees?
Definitief. Nou kry jy die
geleentheid om saam met my te kook. Mense hou daarvan. Ek probeer die video’s
lig en vermaaklik hou. Ek is nie ’n opgeleide sjef nie, ek het net ’n passie
vir kos. So, ek is ’n gewone mens op straat wat kook. Geen bestanddele met name
wat jy nie kan uitspreek nie. Maklike kos wat jy kan kook en geniet.
Jou liefde vir
kook kom van jou ma af, is ek reg? Wat dink jy sou sy van die twee ondernemings
van jou sê?
Jislaaik, ek dink my ma sou so
trots gewees het. Sy wou so graag my boek gesien het. My ma was ook net ’n
gewone boervrou wat lief was vir kook en om mense kos te gee.
Het jy ’n gunstelingresep?
Ek dink ’n Sondagmiddagskaapboud op die tafel met gebakte aartappels bly my gunstelinggereg, maar dan is ek ook lief vir ’n geurige bobotie en ’n stadig gekookte beesstert … nee! Daar gaan ek alweer met ’n klomp resepte. Moeilik om ene te kies.
Kyk hoe Willie kook voor die kamera: