Mens kan baie by die Japannese leer oor hoflikheid, vriendelikheid en harmonie

‘n Belofte vir Bippie
November 25, 2019
Geen tyd vir stilsit nie!
November 26, 2019

Deur Petronel Fourie

Sushi en Shosholoza

Outeur: Erns Grundling

Uitgewer: Queillerie

Sushi en Shosholoza is Grundling se reisjoernaal op sy verkenningstog van Japan vir ’n televisiereeks. Die idee was om vir Suid-Afrikaners ’n kykie na Japan se kultuur te gee in aanloop tot die Wêreldbekerrugby wat in September en Oktober vanjaar daar plaasvind.

Die boek se titel is ’n slim sinspeling op die rugbytoernooi, aangesien susji, daardie rou visrepies wat in klewerige rys toegerol is, ’n sterk Japannese konnotasie het en Shosholoza hier by ons baie gewild geword nadat Suid-Afrika in 1995 die Rugbywêreldbeker gewen het. In Japan kan jy gelyktydig susji eet en Shosholoza sing, want dié tradisionele happie is selfs in die rugbystadions te koop!

Grundling was van kleins af rugbymal en vertel dat Naas Botha se biografie sy lewe verander het. Ten tyde van sy Japannese toer het meer as 30 Suid-Afrikaners hul rugby in Japan gespeel. Hy ontmoet ’n paar van hulle daar en kry ook kans om met die rugbylegendes Dan Carter en Jake White te gesels.

Hy skryf breedvoerig oor die Japannese gebruike wat hy beleef, voor en agter die skerm. Al die besonderhede waarvoor daar nie tyd in die TV-reeks was nie of wat nie visueel uitgebeeld kon word nie, word in die boek beskryf. Spontane oomblikke, veral flaters, sorg vir goeie televisie en hy sluit ook genoeg daarvan by die boek in.

Die Japannese manier van dink en doen verskil baie van ons s’n. Grundling ervaar en beskryf dit dwarsdeur die boek, soos die konsep “wabi sabi”, waarvolgens verganklikheid en onvolmaaktheid verwelkom word. Waar Westerlinge skoonheid as iets perfek of simmetries beskou, sien die Japannese dit presies teenoorgesteld. Vir die Japannese is harmonie, ewewig en balans die belangrikste in alles wat jy doen. Eenvoud kom eerste en jy leef vir die oomblik.

Grundling besef dis onregverdig om Japan se standaarde met Suid-Afrika s’n te vergelyk, maar droom tog oor ’n vooruitstrewende vaderland as Japan se veilige en stiptelike openbare vervoer tuis toegepas kan word. Hy vind uit wat Suid-Afrikaners in Japan die meeste van hul geboorteland mis en kry self nuwe waardering vir ’n paar dinge in sonnige Suid-Afrika.

Hy besoek ’n katkafee en ’n teekamer. Hy leer hoe om ’n elektroniese toilet te gebruik en hoe om origami te vou. Hy pak twee pelgrimstogte aan, ontspan in warmwaterbronne, mediteer en doen joga. Hy trek kimono’s aan en neem aan ’n sumo-geveg deel. Grundling belééf Japan en deel dit vrygewig met sy lesers. 

Hoewel dit vir baie mense waarskynlik na die ideale werk klink om ’n nuwe land te deurkruis en boonop daarvoor betaal te word, lees mens in dié dagboek van die vele onsekerhede en uitdagings wat hy in die gesig moes staar.

Grundling kom tot die gevolgtrekking dat mens baie by die Japannese kan leer oor hoflikheid, vriendelikheid en harmonie. “En hul vermoë om op te staan en die land te herbou ná groot terugslae, of dit nou natuurrampe of oorlog is.”

“Japan is ’n bestemming wat jou lewe kan verander en jou met nuwe oë laat kyk na die mense om jou, na jouself en die lewe.”

Comments are closed.

error: Content is protected !!