Oor wremel en verlore onskuld
November 26, 2019
Die dag wat ons niks gesien het nie
November 26, 2019

Dana Snyman en Mathys Roets saam op die verhoog in die toneelstuk Lag van die huil

Deur Yolanda Barnard-Lemmer

Die Elgro-hotel naby Potchefstroom se middedorp is ’n plek met baie stories, legendariese kelners en drinkebroers. Dit is die milieu waarin Dana Snyman sy onthou-stories giet.  Die hotel is net so oor die 50 jaar oud. Die swembadwater blou, maar die bodem en die rande, oud-gevlek. Die kroegman dra nog ’n strikdas en ’n swart manelpak (al draai die temperatuur naby 25).

Geen wonder Dana het dié hotelsaal gekies om saam met die sanger Mathys Roets by die Aardklop Kunstefees die vertoning Lag van die huil,  aan te bied nie.  Die advertensie vir die stuk noem dit ’n bittersoet storiereis wat jou soms laat lag en soms laat huil.

Die wat Dana se stories ken, weet dat hy oor nostalgie skryf – iets wat soms in die letterkunde bekendstaan as geheue- en identiteitsprosa.  En Mathys weer is bekend vir sy verhalende musiek.  Dana verwys soms na hulle twee as die afvlerkvoëls. Mathys, wat na ’n motorfietsongeluk in ’n rolstoel gekluister is en Dana, wat baie gereeld vir die swart hond van depressie moet wegkruip.

Gesien in die konteks, is dit verstaanbaar waarom dié twee ’n gedugte verhoogspan vorm.

Die tweede vertoning by die Elgro was bykans uitverkoop. ’n Mens wonder egter of die tieners , wat so verveeld saam met ma en pa of ouma en oupa die saal binne gesakkie het, regtig Dana se stories van verlies en nostalgie verstaan. Dana en dalk ook Mathys se gehore is ouer. En as die ouergenerasie (Dana se generasie) tot sterwe kom, sal hy ’n mark vir die I-pad en Twitter-generasie kan vind?  Soos toe Dana die gehoor vra: “Onthou julle die spaarboekie van die Volkskasbank?”

“Ja, lag die gehoor, ons het nog iewers so ’n boekie.” Die tieners het redelik verveeld voor hulle uitgestaar.

Onthou jy, onthou jy?

Die konsep van die vertoning is eenvoudig. Dana, wat die afgelope paar jaar regtig in ’n goeie verhoogstorieverteller ontpop het,  vertel ’n storie. Sommige van die stories het al wel in een van sy nege boeke verskyn en Mathys sing ’n liedjie wat by die storie pas.

Soos die storie oor die man en vrou wat hy langs die pad ontmoet het. Iewers in die Karoo. Tussen niks en nêrens. Hulle het ’n ou karavaan by hulle gehad. Sonder ’n kar. Dan beskryf Dana die man se droomvrou.  “Hulle kyk jou nooit in die oë nie … daardie langs-die-pad-staners se vroue ….” Mathys eindig die storie met die liedjie Droomvrou.

Mathys en Dana het verlede jaar oor die konsep gesels en het die vertoning al by ’n paar lokale aangebied.  Dit is nie die eerste keer dat Dana kragte met ’n sanger snoer nie.  Hy het al ’n paar vertonings saam met die amper-gestorwe groep Klopjag gedoen, maar hy en Mathys werk net. Miskien is dit omdat Dana met sy pankop en ronderaambril en Mathys met sy liedjies nostalgie skree.

Dit is duidelik dat die vertoning, wat so 80 minute lank is, nie veel beplanning en repetisie geverg het nie. Dit is ’n vorm van informele teater – iets wat dalk nog op ons Suid-Afrikaanse verhoë gaan vlamvat.

Hopelik gaan Mathys en Dana die land vol toer want teatergangers wat van nostalgie gekombineer met musiek en stories hou, sal lag-lag die kaartjiepryse betaal.

Comments are closed.

error: Content is protected !!