Dié taalprofessors vors nou vloekwoorde na

Oase vir donkies
November 26, 2019
Haar rubrieke oor alledaagse lief en leed is heerlike leesstof
November 26, 2019

Prof. Gerhard van Huysteen

Deur Yolanda Barnard-Lemmer

Hy lyk glad nie soos ’n akademiese lettervreter nie. Inteendeel, sy swart kniebroek boetser sy winterbruin, stewige kuite (toevallig is dit regte wintersonbruin en nie met ’n onnatuurlike verbruiningsroom besmeer nie), op sy T-hemp brul ’n mannetjiesleeu; sy maanhare, pure Afrika-rastalokke.

Dit is ’n laat Augustus en professor Gerhard van Huysteen (49) of proffie Kaalkop, soos hoe Rian van Heerden graag verwys na sy taalgenoot op die kykNET-program Op die Spel, sit en koffie drink by ’n koffiekroeg in Lynnwood, Pretoria. Sy een oog op sy tablet, die ander op sy horlosie.

Hy is besig dié proffie. As hy nie klasgee aan die Noordwes Universiteit nie – Afrikaans natuurlik, soek hy borge vir nuwe navorsingsprojekte, skryf akademiese artikels vir internasionale publikasies, navigeer hy tussen die sintaksis en morfologie, die Afrikaanse Taalkommissie, en red die nie-spellers op die webwerf VivA van rooigesigte.

Dan is hy ook die man wat gesorg het dat Microsoft ’n Afrikaanse speltoetser op hulle dokumente laai. Al die pad na Ierland om te onderhandel en toe Afrikaans eers sy vastrapplek op Microsoft kry, het hy vinnig onderhandel vir ’n speltoetser in ander Suid-Afrikaanse tale.

Daar is baie woorde om dié morfoloog (dit is in ’n neutedop die bestudering van woorde) te beskryf, maar doffel, bleeksiel of gawie Japie pas hom glad nie.

Sy meestersgraadverhandeling het oor die leksigrafiese hantering van seksuele uitdrukkings in Afrikaans gehandel en nou vry hy ook na borge om sy nuwe navorsing oor vloek te finansier. Ja, vloek. Dáárdie akkies en moeraai en taboe-woorde wat ons so lekker in Afrikaans laat val.

“My ma vloek glad nie en ek het eers haar toestemming gevra voordat ek met die projek begin het,” knipoog hy. “Daar is so baie om oor vloekwoorde navorsing te doen. Dit is ’n unieke eiland – ’n mikrokosmos waarin byna alle aspekte van taal bestudeer kan word. Byvoorbeeld, hoekom gebruik ons die akkies woord om iets soos koue of hitte of skoonheid te beskryf? Dit is akkies snaaks en akkies koud. My navorsing gaan ook fokus of vloekwoorde wel skade aan jou kind kan doen.”

Die webwerf vloek.co.za is al geregistreer en die inhoudsblad skater in jou gesig: Vloek, swets en skel in Afrikaans. Vertel jou vriende of dalk jou ma.

Sy studente dink hy is so cool soos ’n skemerkelkie by ’n Sandtonse hotel. Sonder die #hutsmerk, sê hy, “my studente sê daardie woord is nou outyds.”

As hy eers sy blou brilraam op sy neus druk, oor sy blink kaalkop vryf en begin om klas te gee, weet sy studente daar gaan niks boring aan die les wees nie.

“Ons het die jaar elf honneursgraadstudente wat in Afrikaans spesialiseer. Ons hoef nooit bang te wees dat Afrikaans gaan sterf nie.” “Die tweedejaarstudente is soos my kinders, ek leer baie by hulle. Ek het nou die dag in die klas gevra hoekom een van die studente so ’n dom fout gemaak het. ’n Student het my vinnig tereggewys: dit is lelik om die woord dom te gebruik, gebruik eerder onkundig.” Raps oor die vingers …

Intussen het hy ook TV-celebstatus gekry. Na vier reekse van Op die Spel is hy van Pretoria tot in die Kaap bekender as Bokomo-hawermout. “Mense erken my soms in winkelsentrums. Staan ek daar met my inkopiewaentjie en dan vra hulle my hoe jy hawermout spel. En dan spel ek maar die woord.”

G’n akademiese meederwaardigheid nie. Hy boer op Facebook-groepe en is vrygewig met sy taalraad. “Ek sit nie in ’n akademiese ivoortoring nie en sal nooit neerhalend wees teenoor mense wat nie kan spel nie. Wat is in elk geval belangriker; om interessant reg te spel of om die straatkind op die hoek kos te gee?”

“Ek lag saam met die mense vir die taalfoute – nie vir hulle nie. En as ek dalk ’n obskure of snaakse taalfout op Facebook sien en dit deel, sal ek altyd die mense se name uitvee.”

Hy lees baie – deesdae net op sy Kindle. Selfs as hy op die strand lê, sleep hy sy Kindle saam en lees akademiese boeke. Fiksie, nie-fiksie, en dan luister hy ook – so tussen Potchefstroom en Pretoria – na oudioboeke. Dit, glo hy, is die toekoms. “As ek in my kristalbal kyk, sien ek dat die geskrewe woord oor ’n paar duisend jaar nie meer gaan bestaan nie. Boeke en dokumente gaan voorgelees word. Ons is nou in ’n elektroniese era.”

Hy het steeds baie boeke (regte boeke). “Ek moes ten duurste boekrakke laat inbou om al my boeke te huisves. In ’n stadium het ek net ophou boeke koop. Ek het net doodeenvoudig nie plek vir al my boeke nie. En kry ’n waterbestande Kindle – om in die bad te lees.”

Skielik, uit die bloute: “Ek wonder waar die woord doek soos in tafeldoek vandaan kom. Ek moet dit gaan navors.”

Navorsing, professorskap. Dit is wat hy sedert standerd 7 (graad 9) wou word. ’n Professor.

En as hy moet terugkyk oor die afgelope dertig jaar het hy sy skooldroom geleef. Die akademiese leer geklim. Eers junior dosent toe buitegewone professor. Sy werk is sy lewe en die akademie en liefde jel nie so lekker nie …

Maar hy het sy honde – wat hy vir ’n pamperlangsessie geneem het – en sy akademie en sy drafskoene. Hy draf tot 21 kilometer op ’n slag.

Prof. Kaalkop is gelukkig.

Comments are closed.

error: Content is protected !!