Mens kan baie by die Japannese leer oor hoflikheid, vriendelikheid en harmonie
November 25, 2019
Oor wremel en verlore onskuld
November 26, 2019

Sandra Prinsloo Foto: Theana Breugem

Deur Alita Steenkamp

“Sandra is volgens my die enigste aktrise wat werklik ’n transformasie ondergaan op die verhoog. Of sy Magdaleen in Die Naaimasjien is, of Susan Nell in Kamphoer, sodra Sandra Prinsloo haar eerste tree op die verhoog neem, is Sandra nie daar nie. In haar plek is ’n ten volle geloofwaardige karakter saam met wie ons reis.” Hierdie woorde van die vervaardiger en regisseur Hennie van Greunen het die vinger op die pols wat die talent van hierdie doyenne van die Suid-Afrikaanse teaterbedryf betref.

Sandra Prinsloo se loopbaan in die kunstebedryf strek oor dekades en al lewer sy altyd ’n wonderlike bydrae as deel van ’n ensemble op die verhoog, is dit juis in haar eenvrouvertonings waar sy haarself keer op keer as meester bewys. Verhoogproduksies soos Die Naaimasjien, Oskar en die Pienk Tannie en Moedertaal het uitstekend gevaar en het keer op keer vir uitverkoopte sale en teaters gesorg. Tans is sy in die briljante eenvroustuk, Kamphoer – Die verhaal van Susan Nell te sien.

Hierdie produksie het vanjaar by die Vrystaat Kunstefees geopen en is gebaseer op die roman Kamphoer wat Francois Smith geskryf het, en wat gebaseer is op die ware verhaal van Susan Nell wat Nico Moolman in The Boer War opgeteken het. Toe Sandra Kamphoer gelees het, het dit haar diep geraak. Cecilia du Toit het dit in samewerking met Sandra en Lara Foot in ’n verhoogteks verwerk.

“Dit is so ’n aangrypende storie, ’n epiese verhaal wat meer as honderd jaar gelede afspeel, maar wat vandag nog geldig is. Hierdie verhaal van ’n vrou wat ’n enorme letsel saam met haar dra, maar ten spyte van alles uitstyg en ’n sukses van haar lewe maak, het my aangegryp. Dis ’n donker verhaal maar ’n relevante en ware storie en toe ek die geleentheid kry om Susan Nell op die verhoog te word, kon ek nie nee sê nie. Al was dit geensins beplan nie, is die stuk juis relevant in die lig van die opstand en optogte van vroue landswyd wat almal teen geweld teen vroue beswaar maak en sê: Genoeg is genoeg!,” gesels Sandra Prinsloo.

Die twee jong vervaardigers van Theatrerocket Productions, Rudi Sadler en Johan van der Merwe het weer eens met hierdie produksie goud raakgeboor. Met Lara Foot as regisseur, en Sandra as verteller van die aangrypende gebeure, is hierdie ’n sublieme produksie wat teatergangers aan die einde hiervan vir ’n oomblik stom slaan voordat die applous op Sandra neerreën.

Sandra vertel dat dit telkens ’n gevoel van dankbaarheid is wat deur haar gedagtes vlieg in daardie spesiale oomblik. “Wanneer die verhoogligte donker word, en die gehoor bly doodstil, is dit ’n intense ervaring. Gelukkig weet ek met Kamphoer – Die storie van Susan Nell, dat dit ’n goeie stilte is. Oomblikke later, wanneer hulle dan wel begin klap, weet jy hulle is diep geraak en die gevoel wat dan deur my gedagtes flits is: ‘Dankie!  Mission accomplished.’ Dit is tog die taak van ’n akteur om die storie so te vertel dat dit die mense raak en wanneer dit duidelik is dat jy as akteur dit reggekry het, is dit ’n baie lekker gevoel.”

Vanjaar is ook die 120jarige herdenking van die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, en ’n stuk soos Kamphoer is daarom heel van pas.Sandra vertel dat haar pa se familie uit die Oos-Vrystaat gekom het en as kind het sy dikwels stories van die oorlog by haar grootouers gehoor. Haar grootouma was ’n dapper vrou wat voor die Engelse weggevlug het met die perde en in Lesotho in die berge gaan skuil het. Haar oupagrootjie is weer gevange geneem en na Ceylon gestuur. Al hierdie dinge het altyd bloot net onder die oppervlak gelê, onthou sy. Om met ’n verhaal soos dié van Susan Nell se verkragting ’n stem te gee aan die slagoffers in die oorlog, veral die vroue en kinders, hoop sy om sekere van die stigmas wat aan verkragtingslagoffers kleef, te besweer en om mense so ver te kry om oor hulle pyn en trauma te praat.

Sandra sien uit na ’n speelvak van drie weke in Oktober in die Baxter-teater in Kaapstad met Kamphoer – Die Storie van Susan Nell. Vir die duur hiervan sal sy tuis kan wees in haar statige huis in Kalkbaai waar Romeo en Olga altyd getrou op haar tuiskoms wag. Dit is die twee Labradors met wie sy nou al ’n paar jaar lank haar tuiste deel. Die twee is ook dan elke dag haar stapmaats in die duine voor teen die see, iets wat sy koester. Die gesonde leefstyl wat Sandra handhaaf, dra beslis by tot die feit dat die ouderdom haar nie inhaal nie. Sy hou van Pilates, joga, stap, swem, roei en seil en wanneer die geleentheid hom voordoen om enige van hierdie aktiwiteite te beoefen, gryp sy dit aan. In die winter is dit veral vir haar lekker om bloot net na die baai voor die huis te kyk waar die walvisse elke dag kom speel.

Sandra kan terugkyk op ’n besonderse loopbaan wat nie bloot net beperk was tot die verhoog nie. Daar was uitmuntende televisierolle en ook heerlike hoogtepunte op die silwerdoek. Wie sal dan ooit kan vergeet dat sy en Marius Weyers twee van die blinkste sterre was in Jamie Uys se 1980 rolprent, The Gods must be Crazy? Vir Sandra is dit besonder lekker dat daar steeds wonderlike rolle na haar kant toe kom. Sy is nog geensins van plan om agteroor te sit of af te skaal nie. Solank die geleenthede opduik, gryp sy dit aan.

“Dis so lekker om amper voltyds teater te kan doen,” sê Sandra. “Vir lank was dit nie moontlik om ’n lewe uit die teater te maak nie, en nou is daar weer talle geleenthede. Die verhoog bly wonderlik en dis vir my so lekker om nog te kan speel. Ek is besonder dankbaar dat al hierdie kwaliteit rolle na my kant toe kom! Om boonop in my moedertaal te kan werk, die taal waarin ek myself emosioneel die heel beste kan uitdruk, is ’n heerlike voorreg!”

Sandra is deesdae ook in Die Testament, ’n aanlyn blitssepie wat deur Via en Netwerk24 vervaardig word en op Netwerk24 uitgesaai word, te sien. Netwerk24-intekenare kan tot einde November elke weeksdag na ’n 5-minute-episode van Die Testament op Netwerk24 kyk. Die reeks met onder meer ook Nico Panagio en Rolanda Marais speel af in die weelderige wêreld van Kaapstad se vooraanstaande sosiale kringe. Sandra maak ’n paar verskynings in die rol van die  gelduitlener, Natasja Ludick.

Comments are closed.

error: Content is protected !!