Haar rubrieke oor alledaagse lief en leed is heerlike leesstof

Dié taalprofessors vors nou vloekwoorde na
November 26, 2019
Dagdrome in Suburbia – Francois van Coke
November 28, 2019

Deur Petronel Fourie

Vervleg

Outeur: Petro Hansen

Uitgewer: Protea

Die titel van dié boek het my nuuskierigheid geprikkel en na my naaste woordeboek gedryf. Die HAT definieer die woord ‘vervleg’ as ’n werkwoord, wanneer ietsverbind word deur te vleg. Figuurlik vervleg herinneringe mettertyd. Dié bundel rubrieke, wat oorspronklik in Beeld en Die Burger verskyn het, is ’n vervlegging van Petro Hansen se ervarings en herinneringe, ’n lappieskombers van stories waaraan die leser hom of haar kan verwonder.

Petro skryf boekdele oor haar belewenisse in die bosveld, terwyl jy jou verkneukel in haar kampkaskenades en plaasstaaltjies op die Springbokvlakte en Brits se kontrei. Jy lees uittreksels uit haar reisjoernaal, luister met ’n traan en ’n lag na familieverhale, leef jou in die dikwels alledaagse en soms ook verfrissend vars ervarings wat sy neergepen het. Bowenal bied Vervleg vir die leser ’n skatkis van ménsestories, mense met wie jy kan vereenselwig, meely of beny.

Haar kinderdae kom klop ’n paar keer aan en sy vertel ook van haar eie kinders. Sy skryf dikwels oor haar liefde vir Afrikaans, met woorde soos “pypkaneel” en “appelliefie” wat haar hart verweek. Haar woorde is goed geweeg en gemaklik, nooit hoogdrawend of dralend nie. Mens sien sommer die sterk skemering in jou geestesoog met dié beeldende beskrywing: “Laatmiddag ry die son en die maan wipplank.”

Die kort vertellings is meestal emosiebelaai. Soms lees jy hartseer en verlange raak, soos in die gloed van ’n kampvuurtjie op ’n winternag of by die dood van ’n geliefde. In Johannesburg se middestad ervaar jy haar weemoed, wanneer sy skryf dat die straat waarin sy staan ’n verwaarloosde kind is. Vuil. Bemors.

Jy kan die gevaar aanvoel wanneer sy vertel dat sy tydens ’n besoek aan New York gesit en kyk het “hoe die naglewe soos ’n honger wolf vanuit sy dagskuiling die betonoerwoud binnegesluip het”.

Net ’n paar bladsye verder vee mens weer die lagtrane af wanneer jy lees oor ’n heldhaftige reddingspoging – van ’n mak vlakvark! Jy sien die gebeure soos dit ontvou danksy Petro se raak beskrywings en kry lus om vir haar ’n Bell’s te pos nadat jy lees: “My San Marina’s se hakke is afgeskryf, maar ek het my deel gedoen vir volk en varkeland.”

Party verhale was die resultaat van haar werk as advokaat, ander blote waarnemings oor toevallighede of groot gebeure wat die nuus gehaal het. Soms is sy self ’n karakter in die storie, dan weer die buitestaander, die derdepersoonsverteller.

Haar rubrieke oor alledaagse lief en leed is heerlike leesstof. Dit stof sommer ’n mens se eie jeugherinneringe vir jou af en bied genoeg stof tot nadenke. Dit vervleg jou eie ervarings met dié van hare en bied die soort warmte wat net ’n tradisionele lappieskombers kan bied.

Comments are closed.

error: Content is protected !!