Kamphoer: ‘n Verhaal oor keuses
November 26, 2019
Dié taalprofessors vors nou vloekwoorde na
November 26, 2019

Hansie en Grietjie is uit 'n woud gered en bly nou by Eseltjiesrus

Deur Lizma van Zyl

Iemand het een keer gesê die hemel is die plek waar die donkie uiteindelik sy wortel kry; hel is die ewigheid waarvoor hy daarvoor wag.

Buite die skilderagtige dorpie McGregor in Die Wes-Kaap is daar egter ’n plek waar donkies wel híér en nóú hulle wortels kry – én veel meer …

Die Eseltjiesrus Donkey Sanctuary het sy deure 12 jaar gelede amptelik geopen nadat Johan en Annemarie van Zijl ’n paar jaar vantevore deur die dierebeskermingsvereniging (DBV) gevra is om met die versorging van twee erg verwaarloosde donkies te help. “Vaal” en “Japie” het in die Van Zijl’s se harte gekruip en is toe sommer deur die egpaar aangeneem. Die twee lang-ore het die saadjie geplant vir ’n plek van veiligheid en herstel vir mishandelde, beseerde en verwaarloosde donkies, hetsy die totstandkoming van Eseltjiesrus.

Die oase vir dier (én mens) het op die oomblik 24 florerende permanente donkiebewoners wat met toewyding en deernis deur kundiges versorg word. Johan en Annemarie staan na meer as ’n dekade steeds bankvas agter die stuur van sake, maar kan nou danksy ’n groter span meer tyd spandeer aan bewusmaking oor die noodsaaklikheid daarvan om donkies se lewensomstandighede te verbeter. Annemarie se kwartaallikse nuusbrief, LANG-OOR NUUS – DONKEY TAILS sowel as haar internasionale nuusbrief, Donkeys for Africa – ’n platform vir donkie-organisasies wêreldwyd, is maar net twee van die vele uitreik- en bewusmakingsprojekte deur dié groot diereliefhebbers. Hulle bied ook gereeld werkwinkels aan vir donkie-eienaars en dierewelsynswerkers, iets wat hulle in die langtermyn hoop om veel meer van te doen.

Dis alombekend dat talle nieregeringsorganisasies soos Eseltjiesrus weens onder meer ’n gebrek aan fondse hulle deure moet sluit. Eseltjiesrus staan egter sterk en volgens Annemarie is dit te danke aan uitstekende personeel, administrasie en geldelike bestuur asook ’n bekwame en kundige raad. ”Dit laat ons toe om te ontspan en te fokus op donkiewelsyn,” sê Annemarie.

Volgens haar is bewusmaking van die allergrootste belang om langtermynveranderings teweeg te bring in die manier hoe mense na donkies kyk en hulle behandel. “Om diere se welsyn te verbeter, moet jy met ménse werk. Begin waar moontlik by die kinders met hulle natuurlike entoesiasme en nuuskierigheid. As hulle leer en bewus raak, kan hulle hul ouers beïnvloed.”

Annemarie beklemtoon ook die waarde van bymekáár leer. “Leer vir een eienaar om sy diere beter te versorg en die ander sal wel die voordele opmerk en mettertyd self belangstel in verbeterde welsyn. One Health, One Welfare; gesonde mense- en dieregemeenskappe is interafhanklik en strek tot mekaar se voordeel.”

Donkies is al vir meer as vyfduisend jaar die hardwerkendste van alle diere. Hulle is ook die diere wat die ergste mishandel, verwaarloos en onderskat word. Daar word beraam dat daar 44 miljoen donkies in die wêreld is waarvan die oorgrote meerderheid (steeds) daagliks onder dikwels haglike omstandighede as pak- of trekdiere gebruik word. Annemarie sê donkies kén van swaarkry en herken dit ook in mense. “Hulle is baie intuïtief. Van ons donkies sal na ’n sekere besoeker gaan en doodstil staan om omhels te word terwyl die persoon se trane vrylik loop. Daardie mens ervaar in daardie oomblik onvoorwaardelike liefde en aanvaarding.”

Annemarie vertel donkies het almal unieke persoonlikhede en hulle eie snaaksighede: “Ziggy sal byvoorbeeld opmarsjeer na ’n groep en sommer ewe kordaat dwarsdeur hulle loop; Andy en Sheila is nog baie menssku en skaam weens mishandeling maar probeer baie hard om mense te vertrou. KitKat is die perfekte seun – hy sou nou hoofprefek wees as hy kon skoolgaan …”

Besoekers aan Eseltjiesrus vertrek met nuwe insigte. Die meeste stap weg met die besef dat donkies wél ’n wonderlike ding is, maar dit strek veel verder. Die kalm atmosfeer van Eseltjiesrus en die rustige manier waarop besoekers deur bekwame gidse aan die langore bekendgestel word, bring die kuiergaste tot stilstand. Soos Annemarie sê: “Voorwaar ’n uitdaging in hierdie gejaagde tye.”

Dié terugvoering op Eseltjiesrus se Facebook-blad is een van talle met dieselfde boodskap: Die sanctuary het my perspektief oor donkies heeltemal verander. Wat ’n wonderlike ondervinding, ook vir kinders!

Ek vra laastens vir Annemarie wat sy dink ’n donkie vir ’n mens sou sê as hy/sy kon praat: “In die woorde van Peter Snyders … Ek’s oek important! Behandel ons met respek en ons sal julle dien tot ons nie meer kan nie.”

Besoek gerus Eseltjiesrus se webtuiste en Facebook-blad om meer te leer en uit te vind hoe jy kan help. https://www.donkeysanctuary.co.za/

Het jy geweet..?

Donkies gebruik hulle ore om hulself mee af te koel én te kommunikeer.

Donkies is bekend daarvoor dat hulle koppig en halsstarrig is, maar dis slegs omdat hulle drang tot selfbehoud baie hoog is

Comments are closed.

error: Content is protected !!