Dagdrome in Suburbia – Francois van Coke

Haar rubrieke oor alledaagse lief en leed is heerlike leesstof
November 26, 2019
Robynprinses
Desember 3, 2019

In 2015 het Francois van Coke sy eerste soloalbum vrygestel nadat hy aanvanklik ’n lid van die groepe F****polisiekar en Van Coke Kartel was.

Sy treffer, “Toe vind ek jou”, saam met Karen Zoid, het ’n groot gunsteling geword, selfs onder mense wat nie gewoonlik na sy musiek luister nie. Sy tweede album, Hierdie is die lewe, het omtrent twee jaar later verskyn en het die treffer “Dit raak beter” opgelewer.

Nou is hy terug met sy derde album, Dagdome in Suburbia. Die album begin met ’n baie kort inleiding, “In die nuus”, en die tweede snit, “Ek probleem”, is gemik op diegene wat kwaad vir die wêreld is. “As ek kon”, is effens rustiger en veral Johnny de Ridder se klavierspel is baie goed, en hierin sing hy van ’n ouer wat sy of haar kind/ers teen die wêreld wil beskerm. “Daarsy boys” is die eerste enkelsnit vanaf die album, en hierin spoel hy sy mond uit oor mense wat in die voorstede woon en by ’n bekende gesinsrestaurant eet, soos wat ’n mens in die musiekvideo kan sien. Die frustrasie van mense in die voorstede is die onderwerp van die titelsnit. “Een lewe” verwoord die frustrasies van diegene wat probeer om iets van hul lewens te maak.

In “Bomskok” draai Francois nie doekies om nie; hy sê sommer reguit wat hy dink van wat om hom gebeur. “Wilde tye” sluit hierby aan, dit is maklik om hom daarvan te beskuldig dat dalk té sinies is. Die voorlaaste Afrikaanse snit op die album is “In die oomblik”; hierin sing hy van mense wat agter rekenaars wegkruip en agter hoë mure wegkruip. “Not like them” is die enigste Engelse snit op die album en hier kom ook ’n bietjie rymklets voor. Francois bewys dat hy net so goed Engels as Afrikaans kan sing en skryf. Tasché, wat die afgelope reeks van The Voice gewen het, sing saam met Francois op “Hey babe”, die laaste snit op die album. Francois het vir Tasché van die begin af met haar loopbaan bygestaan en sy is besig om haar debuutalbum by sy ateljees op te neem. Hierdie snit is een van die bestes op die album.

Hoewel min indien enige van die snitte op die album oor die radio gespeel sal word, is dit glad nie die idee wat Francois met die album gehad het nie. Sy teikengehoor is dié wat half moedeloos met die lewe is en wat vrae oor die toekoms, nie net van hulleself nie maar ook van die samelewing oor die algemeen, het. As jy ’n aanhanger van Francois se musiek is, sal jy hierdie album geniet, maar indien nie, sal jy nie anders oortuig word nie.

Comments are closed.

error: Content is protected !!