Symptome – Sunel
Desember 3, 2019
Sterker – Riana Nel
Desember 3, 2019

In die 1970’s het John Edmond ’n aantal groot treffers op Springbok Radio se Top 20 gehad, onder meer “Fairy tales”, “Round and around”, “Toy train” en “Goodbye is the saddest song”.

John het lank laas nuwe musiek uitgereik, maar nou het sy seun John Ross Edmond, vorendag gekom met ’n konsepalbum waarin hy die Anglo-Boereoorlog in herinnering roep. John het Engels grootgeword, maar kan Afrikaans vlot praat.

Die meeste snitte op die album is John Ross se eie komposisies, en die eerste snit, “Ons is Boere”, is een daarvan. Hierin sing hy van die Boere se strewe om hul eie identiteit te vestig en die rol wat hul geloof daarin gespeel het. Die sinskonstruksie van “Wat in die hel was dit voor”, is dalk nie korrekte Afrikaans nie, maar hierin sing hy van die sinloosheid van oorlog. Bok van Blerk was die eerste sanger wat hulde aan genl. Koos de la Rey gebring het, maar John Ross doen dit ook op “Skud hand met De la Rey”. Die honkietonk-klavier op hierdie snit is regtig iets besonders. “Die slag van Elandsrivier” vertel van ’n veldslag wat in Augustus 1900 in die destydse Wes-Transvaal plaasgevind het. Onder die soldate wat daaraan deelgeneem het, was van die destydse Rhodesië, Australië en Kanada afkomstig. In “Boerekrygers” sing John Ross van die menslike aspek van die oorlog. John (senior) speel mondfluitjie op hierdie snit. “Tommie se dagboek” vertel van ’n Britse soldaat se ervaring van die oorlog. “Vreesloos” vertel die verhaal van die veldslag by Berg-en-dal wat naby Machadodorp in Mpumalanga plaasgevind het. Die slag van Magersfontein, wat deur Etienne Leroux se roman Magersfontein o Magersfontein verewig is, word in “Die heuwel by Magersfontein” besing. Dit gaan egter oor meer as net die veldslag; hy sing ook van ’n jong soldaat wat trom gespeel het en gesneuwel het. Die Boere het hom vereer deur hom daar te begrawe. “Vlug weg” vertel ’n ware liefdesverhaal wat tydens die oorlog tussen ’n Britse soldaat en ’n Boeremeisie afgespeel het. “Britse Tommy Atkins” vertel die verhaal van ’n Britse soldaat wat in die vreemde geveg het.

Terwyl die mans aan die oorlog deelgeneem het, is vroue en kinders in konsentrasiekampe aangehou, en op “Geseënde engele” bring John Ross hulde aan Emily Hobhouse en ander vroue wat na die krygsgevangenes omgesien het. Geen album oor die Anglo-Boereoorlog sou volledig wees sonder die volksliedjie “Sarie Marais” nie; dis goed dat John Ross dit volledig opgeneem het. John Ross vertel die storie egter verder. Die laaste snit is “Ons vlag”, waarin hy sing van die strewe na vrede in ons land.

Een ding waaroor daar geen twyfel kan wees nie, is dat John Ross sy pa se musiektalent geërf het. Hy klink selfs na sy pa, wat min opnames in Afrikaans gemaak het. Dit is ook duidelik dat John Ross ’n liefde vir geskiedenis het; dit was seker wat hom geïnspireer het om hierdie album saam te stel. Dalk sal sy Engelse aksent, verkeerde aksente op sommige lettergrepe en taalfoute hier en daar vir sommige mense hinderlik wees, maar as jy self in die geskiedenis belangstel, sal jy hierdie album geniet.

Comments are closed.

error: Content is protected !!