Country – Demi Lee Moore
Desember 10, 2019
Hardebaard kuierliedjies
Desember 11, 2019

Dit is vanjaar twintig jaar sedert Suid-Afrika een van sy legendariese kunstenaars verloor het toe Gé Korsten oorlede is.

Sedertdien het ’n handjievol tenore op die toneel verskyn, maar daar was tot dusver min wat sy skoene kon volstaan. Een van dié wat homself al as ’n talentvolle en veelsydige kunstenaar gevestig het, is Jannie Moolman wat, nadat hy op hoërskool in die Natalse Jeugkoor gesing het, voltyds tot die musiekbedryf toegetree het en al bewys het dat hy ewe goed opera en ligte musiek kan sing.

Nadat Jannie twee duetalbums saam met Corlea Botha vrygestel het, is hy eindelik terug met sy eerste solo-album in ’n lang tyd, naamlik Dig by my. Die titel is eintlik ’n uitstekende woordspeling, aangesien die hele album bestaan uit lirieke deur liedjieskrywers met uitsonderlike lirieke wat net so wel gedigte kon wees, asook toonsettings van ’n paar gedigte.

Die eerste snit op die album is Jannie se weergawe van “Lisa se klavier”, wat natuurlik deur Koos Kombuis geskryf is en deur die jare deur verskeie kunstenaars, onder meer Dozi, Laurika Rauch en selfs The Parlotones opgeneem is. Baie mense sal vra of dit nie al tot vervelens toe gesing is nie, maar dan luister jy na Jannie se weergawe. Jy sal aanvanklik dink jy luister na ’n klassieke album, aangesien die pianis op die album, Elben Schutte, die Maanligsonate van Beethoven daarby ingewerk het. Elben was medeverantwoordelik vir die musikale verwerkings op die album.  Nog ’n belangrike verandering is dat Elben en Jannie die liedjie na ’n sesmaat toe verander het; dit alles maak dat ’n mens van voor af luister na ’n liedjie wat andersins holrug gery sou wees.

Die tweede snit is “Heimwee”, maar nie die een wat deur S le Roux Marais gekomponeer is nie. Dit is eerder ’n nuwe snit wat Jannie saam met Sunette Bridges geskryf het. Dit kan maklik ’n treffer word. Die volgende snit is nie onbekend nie; William Blackrose het nog net ’n paar snitte opgeneem; een daarvan was “Die waarheid”, wat ongelukkig in die vergetelheid verdwyn het. Daarom is dit wonderlik dat Jannie besluit het om dit weer op te neem. Koos du Plessis en Lucas Maree was twee van ons land se beste liedjieskrywers en daarom is dit net gepas dat Jannie hulde aan hulle albei gebring het; “Sprokie vir ’n stadskind” en “Gebed” was twee van Koos se grootste treffers, en Lucas het een van die mooiste Afrikaanse liedjies tot nog toe geskryf, naamlik “Die weduwee se kruik”.

Jannie het die bekende lied “O Boereplaas”, wat deur dr. CF Visser (die stigter van Die Voortrekkers, Vader Visser) gekomponeer is, saamgevoeg met Hugo se skitterende treffer “Jantjie Pieterse”. Dit is een van die hoogtepunte van die hele album. Die eerste snit op die album wat die toonsetting van ’n gedig is, is “In die Hoëveld”; Toon van den Heever het die gedig geskryf en Joe Niemand het die toonsetting behartig. Jannie beskou Coenie de Villiers as een van die liriekskrywers wat weet hoe om poësie en musiek te kombineer; hy het besluit om “Kleintyd verby” in te sluit. Die laaste twee snitte is ook toonsettings van gedigte, naamlik “Hoe ver is eendag” van Antjie Krog en “Die beiteltjie” van NP van Wyk Louw. Die saksofoon op eersgenoemde snit is regtig iets besonders.

Daar is deesdae min kunstenaars wat musiek vrystel wat van ware integriteit getuig. Daarom is hierdie album die moeite werd; die lirieke, die musikale verwerking en Jannie se stemwerk is alles van hoogstaande gehalte. Dit is ’n album waarna jy nog baie lank sal kan luister en waarvoor jy nie moeg sal word nie. Dit is sonder twyfel een van die beste albums van die jaar tot dusver en kan nie sterk genoeg aanbeveel word nie.

Comments are closed.

error: Content is protected !!