Die nuwe Afrikaanse prosaboek – ’n Bundel met ’n dik stem

Om vandag ‘n boer in Suid-Afrika te wees
Februarie 7, 2020
Vergeet my nie
Februarie 13, 2020

Samestellers: Sonja Loots en Steward van Wyk

Uitgewer: Human en Rousseau

Deur Petronel Fourie

Dié bundel bied nie maklike leesstof nie. Om jou weg deur die verhale te vind, is dikwels ’n surrealistiese ervaring.

In die voorwoord sê die samestellers dat die versameling ’n viering van verskeidenheid wil wees en ’n verruimende, vars blik op die Afrikaanse kortverhaal bied. Verskeidenheid is daar wel, maar die temas bly swaar, intens, tappend. Slaaptydstories is dit nie.

Talle verhale handel oor kos, maar die verskeidenheid van bestanddele wat die dis uitmaak, is soms wrang op die tong, soms bitter, selde soet – ’n uitdaging vir die tradisionele palet. Ander stories het ’n hartseer ondertoon. Niemand leef lank en gelukkig saam aan die einde van hierdie verhale nie, want die harde werklikhede word meermale aan die bod gebring.

Jy gaan klassieke verhale deur welbekende skrywers lees, asook voorheen ongepubliseerde verhale deur nuwe stemme. Jan Rabie, wat in die laat 1950’s die kontoere van die literêre landskap verlê het met sy soms absurde, soms filosofiese, soms politieke “prosas”, soos hy na sy kortverhale verwys het, dien as inspirasie. Deur die verhale in nege afdelings te groepeer wat elk deur ’n Rabie-verhaal ingelei word, wou die samestellers met hierdie publikasie ’n bloemlesing van eggo’s, spore en teenspraak bied in die werk van die wyd uiteenlopende skrywers wat hom opgevolg het.

“Die doelwit was om verskillende stemme toe te laat om te oorvleuel, mekaar dood te praat, mekaar te bevraagteken, mekaar te koggel of mekaar te ondersteun. Ons wou veral ook die keuse verteenwoordigend maak van verskeidenheid, met spesifieke aandag aan genoeg ruimte vir die voorheen gemarginaliseerde posisie van vroue, diere, gaywees, orale tradisies en omgangsvariante van Afrikaans.”

Dié fokus verduidelik deels die gewigtigheid van die inhoud. Nuwe temas soos armoede, molestering en verkragting, plaasmoorde, bendegeweld en dwelms, en rassekwessies is ook neergepen om die volle Suid-Afrikaanse verhaal oor te dra.

Verhale wat my werklik getref het, was die wrede realiteit wat Petra Muller in “Die oë, die oë” beskryf, Jaco Kirsten se pragtig nostalgiese “Die Verjaarsdagete”, en Dana Snyman se moderne weergawe van “Roikappiki”. Alexander Strachan se grensoorlogverhaal “Die muurprent” het my tussen die oë getref. “Droogte”, waarmee Jan Rabie die laaste afdeling van die bundel inlei, het my tot stilstand geruk.

Die verskeidenheid skrywers wat in die bundel opgeneem is, gee die leser oorgenoeg geleentheid om te kies en te keur. Sommige verhale wat die eerste keer in hierdie boek gepubliseer is, verdien hul plek tussen die ou gesoutes, soos Sisca Julius se “My pappa was ’n dromer”, wat my aangegryp het. Tog snuffel mens onvermydelik so teen die helfte van die boek weer jou gunstelinge uit, wat vir elke leser sal verskil, en gee in ’n bundel van 674 bladsye moontlik voorkeur daaraan.

Saam gelees het dié verhale die groot verantwoordelikheid om die Suid-Afrikaanse werklikheid deur ’n prisma te belig, met inbegrip van verskille en onopgeloste spanninge. Die samestellers hoop dat die bundel nuwe gesprekke sal ontlok en nuwe betekenisprosesse aktiveer.

Die nuwe Afrikaanse Prosaboek bevat verhale wat skok, wat aanstoot gee en afstoot, wat verwar en verwond. Uit ’n literêre hoek beskou, is dit alles verdienstelike skryfwerk, maar die gewig van die inhoud dreig om die leser lam te lê. As jy teen die helfte van die boek só voel, hou moed, want die tweede helfte bevat minder stremmende stories – óf jou kop en gemoed is teen daardie tyd opgewarm en gepantser teen die aanslae wat aanvanklik afgestoot het.

Dis ’n boek wat in sy doel slaag en met sy dik stem sekerlik oor die jare heen weer van die rak afgehaal sal word om deurlopend aan die Suid-Afrikaanse debat deel te neem.

Comments are closed.

error: Content is protected !!