Om vandag ‘n boer in Suid-Afrika te wees

Irma Venter betree die Internasionale Arena
Januarie 31, 2020
Die nuwe Afrikaanse prosaboek – ’n Bundel met ’n dik stem
Februarie 7, 2020

Titel: For the Love of the landBeing a farmer in South Africa today

Uitgewer: Tafelberg

Outeurs: Ivor Price & Kobus Louwrens

Deur Carla van der Spuy

Om te boer is een van die moeilikste, onvoorspelbaarste en lewensbedreigende beroepe in Suid-Afrika. Syfers toon dat dit gevaarliker is om in Suid-Afrika te boer as om ’n polisieman te wees. Benewens die feit dat boere en plaaswerkers dikwels die slagoffers van plaasaanvalle is, verg dit aanhou, uithou en bloedsweet om kos op mense se tafels te plaas. Hulle moet ook dikwels swaarde kruis met Moeder Natuur wat soms genadeloos kan wees.

Boonop woedaar al dekades lank hoogs emosionele debatte rondom boerdery – oor onderwerpe wat wissel van gedwonge arbeid wat na slawerny klink tot die magteloosheid en onsekerheid wat met grondeise ervaar word.

Die beeld van die stereotipe Afrikaanssprekende boer met sy tweekleur-kakiehemp, kniekouse met ’n kam en vellies duik in hierdie boek in die grond. Die leser besef gou ons boere is so uiteenlopend soos net die reënboognasie kan wees.

Maar weg van die politieke woelinge en grondhervormingswette af probeer hierdie diverse groep boere wat van Afrikaans- en Engelssprekende tot Nama- en Khoisan-afstammelinge wissel om net in vrede te saai, te plant en te oes terwyl die sweet van hulle afloop. Party leef gerieflik. Ander gaan onder rugbreekarmoede gebuk. Omdat boerdery in hul bloed is. Omdat hulle niks anders wil doen nie. En omdat hul liefde vir boerdery op megaplase net soos op piepklein stukkies grond waar bestaansboere om oorlewing veg, ononderhandelbaar is. Dis mense sonder wie ons nie kan leef nie.

Waardeer ons hulle genoeg as ons ’n liter melk of vleis in ons supermarkmandjies pak? Dink ons ooit aan wat dit verg om hierdie kos op die rakke te kry?

Ivor Price en Kobus Louwrens stel ons aan hierdie ystermanne en -vroue in kort, kompakte en lekkerlees hoofstukke voor. Die verhale beskryf die boere se vreugde, teleurstellings en trauma. Dis mensestories hierdie wat jou aan jou hart gryp. Daar word van kleurvooroordeel maar ook van hartlike buurmanskap en samewerking tussen die verskillende rassegroepe vertel. Oorwegend goedvoelstories wat ons hoop gee. En hoe hulle die ou spreekwoord “’n Boer maak ’n plan” uitleef.

Hierdie boek is deur twee top-joernaliste op ’n professionele en objektiewe, eerlike en openhartige wyse in ’n gemaklike en toeganklike skryfstyl geskryf.

So skryf Price oor sy oupa wat hulle gewaarsku het om nooit ’n wit man se motiewe te vertrou nie. “Die enigste goeie boer is ’n dooie boer”, was sy woorde. Ondanks die feit dat hy jare later egte boeregasvryheid geniet het, het hy nog steeds sy oupa se stem in sy kop gehoor. Hy vertel ook sonder skroom hoe hy self na ’n sekere rassegroep as “homogeen” verwys , so asof hulle soos ’n spesifieke beestelery deur hul eienskappe gedefinieer word.

Dit is ook inderdaad nog so dat sommige werkers steeds hul werkgewers “Baas” of “Miesies” noem hoewel jonger boere daarop aandring dat hul voorname gebruik word.

Daar word vertel van ’n Moslemvrou, ’n eerstegenerasie suksesvolle hardwerkende boer wat hoop gesien het waar ander net sand gesien het toe sy grond aanskaf. Hoe ’n boer genaamd Johan Terblanche haar mentor geword het. Daar is ook ’n storie van ’n “swart boerseun” wat vertel oor sy bure die Smiths wat ’n seëning was met die uitleen van hul plaastoerusting wanneer hulle dit nodig gehad het. Stories oor goeie buurmanskap. Die mooiste stories is die van plaaswerkers wat later grondeienaars geword het. Een vertel dat dit op die “Meneer” se aandrang was toe hy sy grond aan die regering verkoop het. En tot die regering se groot verbasing.

Een van die stories wat my die meeste ontroer het, was dié van die vriendskap jare gelede tussen ’n boer en ’n plaaswerker se seun en hoe hul paaie sonder groet of verduideliking geskei het. Dit was ’n slag vir ’n jong kind se gemoed. Daar is verhale van aanvanklike sonde met die bure wat later op respek en vriendskap uitgeloop het.

Hierdie boek preek of dweep nie, maar ’n mens kan nie anders as om jou hoed hoog te lig vir ons taai boere nie. Niks kan tussen hulle en hul liefde vir die grond kom nie. Een boer vertel hy kan nie onthou hoeveel keer hy as jong man weens sy pas in die tronk gegooi is nie. Hy het toe ’n “plaasslaaf” geword wat aan verskeie plase vir gratis arbeid verkoop is. Die boek skram ook nie van plaasmoorde af weg nie (daar is mos onder sommiges ’n siening dat jy ’n rassis is as jy ontsteld oor plaasmoorde is).

Soos een boer sê: “As jy positief wil wees oor boerdery, moet jy veel verder as politiek kyk.”

’n Vroueboer merk op dat boerdery die beroep is wat in die Bybel genoem word. Om die grond te bewerk, was die eerste taak wat God aan die mensdom gegee het.

Die boodskap is duidelik; Boere is nie pampoene nie. Hulle is landbouers, sakemanne, vindingryke entrepreneurs en vasbyters. Hulle is die ongesonge helde in ons land. Hierdie boek loof hulle. Dis hoogtyd en welverdiend.

Ek salueer hulle en ek bedank die skrywers.

Comments are closed.

error: Content is protected !!