Hierdie boek behoort in ‘n televisiereeks omskep te word

Dié boek gaan ’n staatmaker word!
Maart 13, 2020

Deur Petronel Fourie

Outeur: Etienne van Heerden

Uitgewer: Tafelberg

Die biblioteek aan die einde van die wêreld behoort in ’n televisiereeks omskep te word – dit bied ewe veel spanning, intrige en verrassings as enige Amerikaanse wegholsukses wat mense tot die middernagtelike ure aan hul televisieskerms vasgenael hou, maar met ’n aktuele Suid-Afrikaanse storielyn wat jou verstom én opvoed.

Van Heerden bied dit as ’n historiese riller aan wat “’n eerste weergawe van die geskiedenis” weergee. Die roman is ’n episode in ’n vervolgverhaal wat put uit die neerslag van hierdie troebel tyd waarin ons leef. Woelige aanlyn debatte het ’n tuiste gevind in die gedagtes en dialoog van die karakters en die buite wat deur sosiale media swiep, het die verhaalgang bepaal. “Menings en formulerings en uitroepe en slagspreuke en frases en clichés in digitale en gedrukte vorm op plaaslike en internasionale forums, vind jy in hierdie teks,” verduidelik die skrywer in sy erkennings.

Die boek takel verskeie aktuele kwessies wat sedert omtrent 2016 die nuus gehaal het en verweef dit in ’n storielyn met uiteenlopende karakters. So beleef die leser byvoorbeeld die #FeesMustFall-betogings op die Universiteit van Kaapstad se kampus vanuit die oë van drie studente wat saam klas loop: ’n swart vrouestudenteleier wie se familie sterk ANC-bande het, ’n wit man wat vir Afrikaans wil veg en ’n arm bruin man wat ’n toekoms probeer skep deur ’n kwalifikasie agter sy naam te kry, maar intussen spartel om liggaam en siel aanmekaar te hou. Hul argumente en die beweegredes vir hul aksies is heeltemal uiteenlopend, maar het elk meriete, op sy eie manier.

Maar die storielyn is nie tot kontemporêre Suid-Afrika beperk nie, dit kruis die grense na China en Londen, en na die toekoms met kunsmatige intelligensie en onsigbare monitering en beheer wat rillings by mens se ruggraat afstuur. Namate die grense tussen mense uitgedaag word en universele eenvormigheid verkondig word, kom privaatheid en daardie ontwykende “safe space” waarna almal – op verskillende maniere – smag, in die gedrang. “Gee China tien jaar en die wêreld word ’n plek sonder grense,” verklaar een karakter. Dis heeltemal moontlik, maar is dit hoegenaamd wenslik? Hoe weeg die voordele teen die nadele op? Dís die soort vrae waarmee die leser moet wroeg. 

’n Verdere kinkel in die kabel is die grense tussen verlede, hede en toekoms. Waar trek jy die lyn? Wat moet mens onthou, wat moet jy vergeet, hoe beweeg jy vorentoe? Elizabeth, ’n wit vrou, sê op ’n punt vir haar ewe wit vriend, wat in ’n krisis gedompel is danksy ’n onbesonne Twiet: “Ons het nie ’n hede in hierdie land nie, Ian. Ons het net ’n onafgehandelde verlede.”

Lojaliteit en vertroue is nog ’n tema wat mens tussen die lyne raaklees. Hoe ver strek ’n mens se verpligting teenoor jou familie, jou etniese groep, jou politieke party, jou herkoms? Watter wortels is die diepste en watter strominge is die sterkste? Watter kant kies jy vandag en tot watter uiterstes sal jy gaan om jou lojaliteit aan jou mense te bewys? Meer nog, is daar nog plek vir lojaliteit in die wêreld van kunsmatige intelligensie en sentrale beheer, of is dit ’n uitgediende begrip wat nie deel van die toekoms gaan vorm nie?

Van Heerden verweef die feite baie vernuftig met fiksie en voer dit soms tot die uiterste – ’n voorskou van die gevolge wat vandag se snelle tegnologiese ontwikkeling vir Jan Alleman se daaglikse lewe kan inhou. Die boek vra “wie is jy, en wie mag jy wees?”. In die stryd om selfbehoud, identiteit, vryheid en blote voortbestaan, word absurde aksies in bepaalde omstandighede die enigste uitweg, sodat die wêreld soos ons dit vandag ken, vandag se realiteit, eintlik onrealisties word. Dít is die gewaarwording waartoe ek gekom het met die lees van dié boek.

Aan drama, verrassings, intrige – en pragtige taalgebruik – het hierdie boek geen tekort nie. Jy moet mooi kophou om die draad te volg, om daardie biblioteek aan die einde van die wêreld se adres te ontdek. Wanneer jy die boek ná die laaste bladsy toeslaan, wil jy eintlik weer voor begin. Maar hierdie is immers ’n vervolgverhaal, die volgende episode wag op Twitter, Facebook en die nuusnetwerke …

Comments are closed.

error: Content is protected !!