Wie is deel van die FAK-Kultuurnetwerke?

Trekleier Jan du Plessis (1803-1877)
April 6, 2020
’n Gesamentlike Helpmekaardag
April 7, 2020

Deur Marianda Schlebusch

Wie is deel van die FAK-Kultuurnetwerke?

As ons FAK-Kultuurnetwerke voorstel as ’n tafel, met lede van ’n familie rondom, wat die kultuurorganisasies voorstel, kyk ons die volgende ruk na elke “familielid” rondom die tafel.

Volkspelebeweging

Die gedagte van ’n eie Afrikaanse Volksang- en Volkspelebeweging het in 1912 by SH Pellissier ontstaan.  Hy – destyds visehoof van die Hoërskool Boshoff – en JM Meiring, was in Nääs, Swede, om hulle daar verder in skrynwerk te bekwaam. Nadat die dagtaak afgehandel was, het die jongmense saans geleenthede geskep vir ontspanning. Hulle het in die kleurvolle volksdrag van hul verskillende lande bymekaar gekom en volksang en volksdanse beoefen. Net die Suid-Afrikaners was nie in volksdrag geklee nie, want hulle het nie oor so iets beskik nie. By die aanskoue van hierdie kleur- en glansryke optredes het SH Pellissier besluit dat wanneer hy weer in sy eie land terug is, hy dit sy taak gaan maak om die jongmense van sy volk te mobiliseer en aan te spoor om ook ’n spelende, singende en werkende volk te word. SH Pellissier het die volgende vier Sweedse danse vertaal en aan leerlinge van sy skool geleer:

  • Boemfaderalla
  • Nikko-dikkom-dei
  • Ses wakker meisies in ’n kring
  • Die Vaste band.

Tydens ’n Sondagskoolpiekniek op 28 Februarie 1914 is dié spele toe die eerste keer op ’n plaas met die naam Vuisfontein, ’n paar kilometer noord van Boshoff, vertoon.

Hierdie spele het toe bekend gestaan as die “Swedish Games”. By al die pieknieks is daar destyds “games” gespeel, o.a. Jolly Miller, Early (Ellie) Rose, Daar kom die wa, ens. Hierdie ywer het daarop uitgeloop dat ’n groep volkspelers in 1953 na Europa vertrek het om hierdie kultuurskat bekend te stel. Die volkspelers sou ook as ambassadeurs vir hulle land optree, want daar is oral by privaat mense tuisgegaan.

Die Beweging het hom egter nie net op die behoud van oorsese kontak en toere toegelê nie, maar ook binnelands verskeie toere gereël om volkspele aan ons eie mense bekend te stel. Die eerste het in 1955 plaasgevind en is gevolg deur ander in 1958, 1960, 1972, 1974 en 1986. Gedurende 1976 is daar ook ’n baie suksesvolle sangtoer deur die land gereël. ’n Sanggroep maak ook deel uit van die binnelandse toer van 1986. Volkspele was ook nog altyd deel van ons land se groot volksfeeste soos die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949, die Van Riebeeckfees (1952), die Uniefees (1960) en al die groot landswye Republiekfeeste daarna. Daar lê ’n blink en vreugdevolle toekoms vir die Afrikaanse Volksang- en Volkspelebeweging voor as elke volkspeler en volksanger getrou bly aan die ideale van die stigter.

Laat ons sing, speel en strewe – en ons lewe verryk met die veredelende wekroep: WERK!

Daar is ’n Volkspele-laer in jou omgewing – word deel van die Kultuurnetwerk en kom ontmoet hierdie lid van die familie!

Bron: http:// http://volkspele.co.za/avvb/

Comments are closed.

error: Content is protected !!