’n Gesamentlike Helpmekaardag
April 7, 2020
Stil Saterdag
April 9, 2020

Geskryf deur Dr. Danie Langner, Besturende Direkteur van die FAK

Johannes 19:28

Op die oog af is die ander kruiswoorde van Jesus gepas. Dit is amper wat ons van Jesus aan die kruis kan verwag: die vergifnis van ’n sondaar, die belofte van ’n paradys, die besorgdheid oor sy ma, die uitroep na God. Net as ons die boodskap van die kruis netjies wil verpak in ’n teologie van bekering, heiligmaking, regverdiging en versoening kom Jesus se noodkreet: Dipso! Ek is dors! Ja, in Grieks is dit net een gebroke uitroep oor gebarste lippe: Dipso! Die dorskreet van Jesus herinner ons dat Hy die Woord is wat vlees geword het. Dat Hy volkome mens was. Net soos ons, vleis en bloed. Jesus ken die seerkry, die aftakeling, die pyn van ons liggame. Hy het dit aan sy eie lyf gevoel. Jesus neem die gebrokenheid en sterflikheid van ons liggame ernstig op, daarom dra Hy dit ook na die kruis. 

Enige iemand kan ’n pragtige preek lewer op ’n berg langs die see waar die gousblomme heldergeel blom, maar net Een kan ’n preek lewer op ’n koppie van dors en pyn. Geloof is nie op sy beste sigbaar in die lewe se helder somerdae, of op lekker kerkuitstappies nie. Geloof word die duidelikste sigbaar langs hospitaalbeddens, in waaksale, in die onkologie-afdeling langs ’n siekbed. Daar waar ons liggame dors na genesing kan ons vashou aan Jesus wat met ’n seer, afgeranselde, bebloede liggaam gesterf het, sodat Hy ook vir ons verwonde liggame kan opstaan. Deur Sy wonde het daar ook vir ons liggame genesing gekom, sodat ons met nuwe liggame gesond en heel anderkant die graf kan uitstap.

Comments are closed.

error: Content is protected !!