Van waar Gehasi? – van watter familie is jy?

Opstandingsdag
April 9, 2020
Braai saam Bakkies en vriende vir ’n goeie doel
April 12, 2020

Isabel Groesbeek 

Het u dalk gedink dat familie-uitlê al lankal by die agterdeur uit is en oudmodies is of onder stof in die wakis op die solder lê? U maak ’n fout – dit is in en soos die jongmense sou sê –‘dit is cool!’ In sommige stamlande is dit selfs ’n statussimbool as jy jou stamlyn nagevors en bewys het.

Waarom prikkel die onderwerp steeds soveel mense en waarom is genealogiese navorsing van nut?

Waarde van navorsing?

Die naspeur van o.a. ’n individu (gewoon en vernaam) se geboorte-, huweliks- en sterfdata, ens. om sodoende die persoon binne ‘n familieraamwerk/verwantskap te plaas, is vir sommiges van belang om erflike opvolgingsreg en eiendomsreg te bevestig, maar vir die deursnee man of vrou op straat gaan dit dikwels net om aanvanklik sy of haar nuuskierigheid te bevredig. Dit groei gou tot ’n meer intense belangstelling en soeke na verdere verwantskappe: OF voorsate van ’n spesifieke persoon OF nasate van ’n oupagrootjie t.w.v. ’n familiesaamtrek OF familielede in buiteland wat op soek is na familie in Suid-Afrika. Die delf na vaste, sekere stamlyne en familiewortels is ’n reaksie teen ankerloosheid van die moderne bestaan en ook soms uit vrees dat sommige bewyse verlore kan gaan.
Genealogiese navorsing is aanvullend tot historiese en kultuurhistoriese navorsing en ondersteunend vir die skryf van ’n biografie of outobiografie. Dit is ’n hulpwetenskap vir genetika onder meer m.b.t. oorerwing van bepaalde fisiese en psigiese eienskappe, asook vir mediese navorsing oor oorerflike siektes (fisies en psigies).

Wanneer ’n persoon sy/haar biologiese voorouers probeer opspoor, wat ’n prikkelende en omvattende projek is, kan hy/sy bepaal vanuit hoeveel Nederlandse, Duitse, Franse, Skandinawiese, Engelse, Skotse, Joodse en ander familielyne hy/sy afstam.

Die delf in persoonlike geskiedenis stimuleer buiten ’n familietrots, ook die opbou van ’n volkstrots, maar die bewuswording dat geen familie volmaak is nie, vul ieder en elk ook met ootmoed. Die navorsing lei tot uitbreiding van algemene kennis bv. plekke word meer as bloot plekname, die betekenis van familiename en voorname word nagespeur, geografie, algemene geskiedenis, migrasie van volke, bepaalde gebeure waarmee persone uit familie in verband gestaan het, wette van land wat hulle geraak het, siektes wat hulle getref het, beroepe wat hulle beoefen het, vul en verryk ’n persoon se algemene en persoonlike kennis. Hoeveel mense het vir my deur die jare laat blyk dat hulle nooit van geskiedenis op skoolvlak gehou het nie, maar dat genealogie vir hulle nuwe wêrelde oopgemaak het.

Wat die rede vir die belangstelling ook al is, lewer deeglik nagevorste geverifieerde familiedata wat op papier of elektronies vasgelê word, ’n kosbare bydrae tot persoonlike, maar ook tot die Suid-Afrikaanse kultuurskat.

Ek moedig persone aan om familielegendes en stories op wetenskaplike wyse met soveel as moontlik bronne te vergelyk en so volledig en konsekwent as moontlik met bronverwysings (persoonlike getuienis, literatuur en/of argiefbronne) aan te teken.

Ek ontvang dikwels die vraag waarom is daar in een familie dalk soveel regsgeleerdes, musikante, onderwysers, predikante, ingenieurs, kunstenaars, ens.? Ek kan dit nie geneties bepaal nie, want ek is nie ’n genetikus nie. Ek wens gewoonlik dat die familie meer herinneringe neergeskryf het om onbeantwoorde vrae te antwoord. Wat ek egter wel kan doen, is om ’n individu se genealogie na te vors en sy/haar familieverwantskappe met historiese bronne aan te toon.

Van watter families is die lede van die Genootskap van Regte Afrikaners?

As voorbeeld van bepaling van verwantskappe van mense wat dieselfde fokus/belangstelling/passie/beroep het, het ek die lede van die Genootskap van Regte Afrikaners geneem.

Bron: Wikipedia

Embleem van die Genootskap van Regte Afrikaners is deur Gideon Retief von Wielligh (1859-1932) ontwerp.

Die Genootskap van Regte Afrikaners is op 14 Augustus 1875 in die huis van Gideon Malherbe te Paarl deur ’n groepie van 8 Afrikaanssprekendes gestig. Dié groep was die dryfkrag agter die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. 

Op 25 September 1875 vergader die GRA vir die tweede keer na stigting onder die voorsitterskap van SJ du Toit. 

Doel: “Om te staan vir ons Taal, ons Nasie en ons Land.”
Missie:

  • Vertaling van die Bybel in Afrikaans;
  • Uitgawe van ’n maandblad, Die Afrikaanse Patriot;
  • Opstel van ’n Afrikaanse Spraakkuns en Woordeboek.

LiedIeder nasie het sy land

Die lede van die GRA het egter in die geheim vergader, omdat die algemene publiek sterk gekant was teen die idee van ’n Afrikaanse skryftaal en dit selfs geminag het.

Die stigterslede was:

  • Gideon Jozua MALHERBE, ten tye van stigting ’n 42-jarige wynboer, grondspekulant en eienaar van huurhuise. Gideon is op 2 Julie 1833 in Groot Drakenstein as die seun van (s.v.) Petrus Jacobus MALHERBE(1792-1864) en Leonora Elisabeth Du TOIT (1793-1880) gebore en te NG Kerk Paarl op 21 Julie 1833 gedoop. 

Sy moeder is ’n suster van DF (Oom Lokomotief) en SJ du Toit se vader, David Petrus du Toit (1801-1866), asook ’n suster van DF (Dokter) du Toit se oupa Daniël Francois du Toit (1795-1880).

Gideon tree op 12 Mei 1856 vir die eerste keer in die huwelik met Justina Wilhelmina Nancy van der LINGEN (1837-1866) (ses kinders met 2 klein oorlede) en na afsterwe van sy eerste eggenote op jeugdige leeftyd vir ’n tweede keer op 15 Desember 1872 met Dorothea Christina JASPERS (1846-1897) (tien kinders met 1 klein oorlede) en vir die derde keer as 76-jarige wewenaar op 31 Mei 1910 met die weduwee Johanna Alberta RETIEF vrh. Minnaar (1847-1924; geen kinders). Hy sterf tuis te Pastorielaan, Paarl op 10 September 1921 weens ’n tumor in sy mond en lyding van ongeveer veertien dae (KAB: MOOC 6/9/2154: 3075 (1921). Boedel.). Hy is in die Strooidakkerkhof begrawe. 


Die TAALMUSEUM is tans gevestig in sy historiese huis te Paarl, waar die GRA gestig is.

  • Casper Pieter of ook soms Casparus Petrus HOOGENHOUT, 32-jarige pasgetroude immigrant uit Nederland ten tye van die stigting van die GRA. Hy was die letterkundige redakteur van Die Patriot. Hy is op 11 Maart 1843 te Amsterdam, Nederland gebore en het in 1860 in die Kaap aangekom. As die stamvader van die HOOGENHOUT-familie dien hy vir 40 jaar as onderwyser by die Groenbergskool, Wellington en leef hom uit as skrywer en digter. Die weduwee Catharina Maria MARAIS vrh. Le Roux (1847-1942) word sy bruid op 29 Maart 1875 en sy oorleef hom met 20 jaar as hy te Wellington op 13 Januarie 1922 te sterwe kom en sy op 31 Oktober 1942 te ‘Optehorst’, Bovlei, dist. Wellington. Ses kinders, 4 seuns en 2 dogters, is uit die huwelik gebore, o.a. hul derde seun, Petrus Imker HOOGENHOUT (1884-1970) wat sy vader se voetspore in die onderwys volg en as die eerste hoof van die Hoërskool Bethal, skrywer se alma mater, wat later na hom vernoem is, in 1918 aangestel is. 


Na Imker se uittrede uit die onderwys en toetrede tot die staatsdiens was hy o.a. Administrateur van SWAS (1943-1951) en Ambassadeur in sy vader se land van herkoms, Nederland (1951-1957), waar hy ereburgerskap van Culemborg, Nederland ontvang het.

  • Daniël Francois du TOIT, bekend as ‘Oom Lokomotief’ouer broer van SJ du TOIT en 29 jaar ten tye van stigtingsvergadering, is te familieplaas ‘Kleinbosch’, Daljosafat op 15 Januarie 1846 as seun van David Petrus du TOIT (1801-1866) en Helena Elisabeth du PLESSIS (1811-1888) gebore en te NG Kerk Wellington op 22 Februarie 1846 gedoop. Hy was joernalis en onderwyser te Hugenote Gedenkskool. 

Sy vader is ’n broer van DF (Dokter) du Toit se oupa, Daniël Francois du Toit (1795-1880).

Hy is te Paarl op 30 Oktober 1882 met Anna Susanna du PLESSIS getroud, maar sy sterf nie lank na die geboorte van hul enigste kind en dogter nie. Hy tree op 30 Maart 1886 te Somerset-Wes in die huwelik met Maria Catharina van NIEROP (1864-1909 Petrus Johan-dg), suster van ‘Danie Dokter’ se eggenote) en drie kinders, twee seuns en ’n dogter, is uit die huwelik gebore. Hy is op 77-jarige ouderdom in ’n Bloemfontein-hospitaal op 22 April 1923 (VAB: MHG 16150 (1923). Boedel.) oorlede.

  • Stephanus Jacobus du TOITjonger broer van ‘Oom Lokomotief’ en 27 jaar ten tye van stigting, is op 9 Oktober 1847 as jongste kind en seun van David Petrus du TOIT (1801-1866) en Helena Elisabeth du PLESSIS (1811-1888) gebore en te NG Kerk Wellington op 7 November 1847 gedoop. Hy tree enkele jare voor die stigtingsjaar van die GRA in die huwelik met Elisabeth Jacoba (Bettie) JOUBERT (1855-1882; Jacob Daniël-dg) en uit hul kort huwelik van nege jaar is o.a. JD (Totius) du TOIT (1877-1953) gebore, wat as tweede seun na sy oupa aan moederskant vernoem is. SJ du Toit tree te Paarl op 8 Augustus 1885 weer in die huwelik met Anna Francina MALAN (1857-1944; Charl Wynand-dg) en vier kinders (twee klein oorlede) is uit die huwelik gebore.

SJ du Toit was o.a. predikant in die NG Kerk, een van die Bybelvertalers, redakteur van die Afrikaanse Patriote.a., Superintendent van onderwys in die ZAR en skrywer van o.a. Die koningin van Skeba wat steeds in die 20ste eeu as voorgeskrewe werk op UP gedien het. Hy sterf te Kleinbosch, op 28 Mei 1911. (KAB: MOOC 6/9/668: 1446 (1911). Sterfkennis.)

  • August AHRBECK, (1851-1935) 24-jarige student met stigting en NG Kerk predikant, maar geen familieverwantskap met ander lede nie. 
  • Petrus Jacobus MALHERBE, 22-jarige ongetroude wynboer en broerskind van Gideon. Petrus of ‘Piet Borrie’ is op 13 Januarie 1853 as seun van Daniël Francois MALHERBE (1825-1870) en Debora Geertruida du TOIT (suster van ‘Oom Lokomotief’ en SJ du Toit) gebore en op 6 Februarie 1853 te NG Kerk Wellington gedoop Hy woon en boer op ’n gedeelte van Kleinbosch, Daljosafat en is saam met sy eerste eggenote vanaf 29 Julie 1878, Susanna Maria Elizabeth BRINK (1856-1915) in die Kleinbosch-kerkhof begrawe. Hy het as wewenaar te Wellington op 15 Junie 1920 met sy agterkleinniggie, Bregje Jacoba Johanna MALHERBE (1869-1944, Petrus Jacobus-dg.) in die huwelik getree. Slegs drie kinders is uit sy eerste huwelik gebore met die oudste dogter wat klein oorlede is. PJ Malherbe sterf op hoë ouderdom en volgens sterftesertifikaat weens harsingvliesontsteking en verswering aan die oor, op 13 Oktober 1939 te Kleinbosch, Daljosafat, Paarl (KAB: MOOC 6/9/5572: 66416 (1939). Boedel.).
  • Daniël Francois du TOIT, bekend as ‘Danie Dokter’ om hom te onderskei van die ander DF du Toits, was 21-jarige kleinneef van DF (Oom Lokomotief) en SJ du Toit tydens stigting van die GRA. Hy is te Nauwbepaald (later Valencia, gedeelte van Kleinbosch), Daljosafat op 21 November 1853 as s.v. Daniël François du TOIT(1828-1869) en Maria Magdalena MALAN (1828-1910) gebore en NG Kerk Wellington op 25 Desember 1853 gedoop (p.121; Doopgetuie o.a. sy oupa aan vaderskant, Daniël Francois du TOIT (1795-1880), na wie hy vernoem is). Hy het onder die bynaam “Dokter” bekendgestaan, omdat hy op sy reise na die noorde ‘n medisynetrommeltjie by hom gedra het, maar hy was ’n drukker van beroep. Hy was dan ook behulpsaam met die drukpers in die huis van Gideon Malherbe. Hy tree op 17 Januarie 1881 in die huwelik met Margaretha Maria/Magdalena van NIEROP (1860-1916; Petrus Johan-dg), suster van ‘Oom Lokomotief’ se eggenote. Hy dien ook vir ’n periode as burgemeester van die Paarl. Hy keer ongeveer 1897 terug na sy geboorteplaas, Valencia, om te boer en na uittrede uit boerdery sterf hy tuis as 64-jarige op 3 April 1918 te Nantesstraat, Paarl (KAB: MOOC 6/9/1084: 1108 (1918). Boedel).
  • Stephanus Georg(e) du TOIT, 20-jarige student in GRA-stigtingsjaar. Hy is op 3 Februarie 1855 as seun van Anthony Eduard du TOIT (1823-1907, ouer broer van bg. DF du TOIT (1828-1869) en Martha Elizabeth Charlotte HAUPTFLEISCH gebore. Hy was dus ’n neef van ‘Danie Dokter’. Hy dien as eerste sekretaris van die GRA. Hy loseer tydens sy studies te Paarlse Gimnasium by SJ du Toit en kwalifiseer later as onderwyser. Hy tree in die huwelik met Anna Aletta SMIT(H), dogter van Lourens Johannes SMITH (1827-1903) en Hester Jacoba SMIT (1842-1920) en uit hul huwelik is ses kinders gebore o.a. hul oudste seun, Anthony Eduard du Toit, wat later die rektor van die Transvaalse Universiteitskollege geword het. SG dien as skoolhoof te Rawsonville tot met sy afsterwe op 3 Mei 1898 in sy eie woning te Rawsonville, weens inflammasie in sy longe (KAB: MOOC 6/9/376: 1497 (1898). Sterfkennis).

BRONNE

Literatuur

DE KOCK WJ: Suid-Afrikaanse Biografiese Woordebooek, Dl. I & II. RGN, Pretoria.

FUCHS AC: Die Du Toit’s van Suid-Afrika. CD-Rom. Johannesburg: GGSA, 2009.

MALHERBE GH: Stamregister van die Malherbes in Suid-Afrika. Kaapstad, 1974.

Argiefbronne

Kaapse boedels, Kaapstadse Argiefbewaarplek: MOOC

NG Kerk Kaapland doop- & huwelikregisters

Vrystaatse boedels, Bloemfonteinse Argiefbewaarplek: MHG

Vra jy dalk steeds wat is die nut?

Begin net spontaan jou eie familiestorie skryf, soek na stawende dokumente, gesels met familielede en gou sal die gogga jou byt om ook saam met ander familielede meer uit te vind om so jul kosbare persoonlike erfenis aan te teken en te bewaar. Nuwe navorsing is aanvullend tot die bestaande kultuurerfenis en genealogiese navorsing identifiseer die individu – dit bly nie net ’n naam nie en vul historiese en kultuurhistoriese navorsing sinvol aan.

Sluit gerus as vriend by die FAK aan – die moderne tuiste vir die bevordering van Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis, vir voordele m.b.t. genealogiese dienste.

Isabel is beskikbaar vir ’n konsultasie en bied die beginnerkursus ‘Van waar Gehasi?’ op navraag aan.

Die jaarlikse GENEALOGIE- & FAMILIE-ERFENISFEES op Saterdag 10 Oktober 2020 is ’n uitstekende byeenkoms om jou vrae aan ’n verskeidenheid van genealogiese navorsers te kom stel.

GOEIE RAAD: Skryf jou eie joernaal, sodat jou kleinkinders en agterkleinkinders nie eendag wonder waar jy gebore was, wie jou ouers was, wat jou beroep, belangstellings en betrokkenheid in familie en gemeenskap was nie.

Vir meer inligting besoek www.genealogielessenaar.com of stuur ‘n e-pos na isabel@fak.org.za

Comments are closed.

error: Content is protected !!