Suikerbosrand Geloftefees sit ook aan die FAK-Kultuurnetwerktafel

Nog ’n lid van die FAK-Kultuurnetwerke
April 21, 2020
Mannekoor sing vir eerste keer virtueel
April 29, 2020

Deur Marianda Schlebusch

Die Geloftefeesterrein is in die distrik Heidelberg, omring deur die Suikerbosrand Natuurreservaat.

Die grond het oorspronklik aan Daniel Jacobus Strydom (1862-1929), ’n boer in die omgewing, behoort.  Vir Daniel was die Gelofte en die viering daarvan baie belangrik. Om te verseker dat die Gelofte jaarliks hernu word, het hy hierdie grond geskenk aan die Geloftefeeskomitee. Die herdenking kan dan elke jaar daar geskied. Die Geloftefeeskomitee behou kaart en transport van hierdie terrein, maar sodra die Gelofte nie meer gevier word nie, verloor hulle die grond en gaan dit terug na die familie. So het hy seker gemaak vieringe vind elke jaar plaas. Daniel is hier herbegrawe en ’n grafsteen is vir hom opgerig.

Die eerste Geloftefees is op 16 Desember 1904 op die terrein gehou en jaarliks woon meer as 800 mense die Geloftefees by. Daar is kampgeriewe beskikbaar waar Geloftefeesgangers verniet kan kamp ten tye van die Geloftefees. Die terrein en geboue is baie netjies versorg en die omgewing met sy rantjies is besonders mooi.

Die kanon en ammunisiewa wat uit 1899 dateer en in die oorlog van 1899-1902 gebruik is, is in 1947 deur genl. Jan Smuts aan die feeskomitee geskenk. Die kanon en wa is so vyf jaar gelede gevandaliseer en die wiele is uitgebrand sodat die koperbuste gestroop kon word.

Hendrik Olivier (84 jaar oud) en sy seun Ian Olivier, het die taak aangepak om die kanon en wa te restoureer. Oorspronklike ontwerptekeninge van die kanonwiele is verkry van die Oorlogsmuseum in Johannesburg en Oom Hendrik het elke onderdeel self gemaak volgens die oorspronklike spesifikasies.

Die kanon is by die Geloftefees in 2019 weer gevuur.

Comments are closed.

error: Content is protected !!