Patriot – Appel
Junie 25, 2020
Boeremusiek is groot
Junie 25, 2020

In 1988 het Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band die Afrikaanse musiekbedryf geskok met hul album, Eet kreef.

Hoewel protesmusiek deur kunstenaars soos Koos Kombuis, David Kramer en Bernoldus Niemand toe reeds uitgereik is, het hierdie album die begin van ’n nuwe era ingelui, en die Voëlvry-beweging het tot stand gekom. Die kunstenaars wat deel was hiervan, is verbied om by universiteitskampusse op te tree en hulle het ook byna geen radiolugtyd gekry nie as gevolg van hul liedjies se lirieke, maar die beweging het net aanhou groei en niks kon die rewolusie keer nie.

Johannes Kerkorrel sou in 2019 sestig jaar oud geword het, en ter viering hiervan het ’n groep kunstenaars besluit om Eet kreef weer in sy geheel op te neem. Die groep bestaan uit Laudo Liebenberg as hoofsanger, Frank Freeman op kitaar, Sheldon Yoko op perkussie en tromme, Schalk van der Merwe op baskitaar en Etienne van Rooyen op klavier. Die eerste snit op die album, “Sit dit af”, het geen doekies omgedraai nie en Kerkorrel se haat vir die SAUK se nuusdekking wat, volgens hom op propaganda neergekom het, het baie duidelik na vore gekom. Hy het vir die Nasionale Party-regering presies gesê wat hy van hulle gedink het. Die gevloek en Godslastering op hierdie snit was vir baie mense heeltemal onaanvaarbaar. Laudo se stemkwaliteit is baie dieselfde as dié van Kerkorrel en daar is min tussen hulle te kies. “Tronk” is die absolute teenoorgestelde; dit was ’n pragtige snit wat meer radiolugtyd gekry het as wat dit verdien het. “Liefde” is seker een van die heel mooiste snitte op die album; dis jammer dat dit nie so ’n groot treffer was nie. “Ossewa” was nog ’n snit wat veral by jonger luisteraars byval gevind het nie, maar daar was een woord wat gemaak het dat dit nie oor die radio gespeel kon word nie. “Hillbrow” was die grootste treffer vanaf die album, en dis net jammer dat die trekklavier van die oorspronklike opname nie hier voorkom nie.

“Donker donker land” is pragtig, maar dalk effens lank. Op hierdie snit kon ’n mens al agterkom dat Kerkorrel ware talent as sanger en liedjieskrywer gehad het. “Energie” is niks anders as ’n absolute rebellie teen gesag nie; die stadige inleiding op hierdie opname klink egter baie mooi. Daar was geen manier wat hierdie snit oor die radio gespeel kon word nie. “BMW” is ’n skitterende snit; hoewel ’n mens die tromboon op die oorspronklike opname mis. Dit was nie net die Nasionale Party wat onder Kerkorrel se skerp tong deurgeloop het nie; hy het vir snobs gesê presies wat hy van hulle gedink het. “Ou ou lied van Afrika” is nog ’n baie goeie snit wat regtig ’n treffer moes geword het. “Ry” was die een snit wat op ’n kortspeler uitgereik is kort voordat die vervaardiging daarvan gestaak is; “Hillbrow” was die keersy. Nogtans het dit nie soveel radiolugtyd gekry nie en “Hillbrow” was eerder die treffer. Die groep het ook besluit om een van die mooiste liefdesliedjies tot nog toe in Afrikaans, “Hoe ek voel”, as bonussnit in te sluit; dit was nie verniet een van Kerkorrel se grootste treffers nie.

Nadat hierdie album uitgereik is en Suid-Afrika se politieke omstandighede verander het, het Kerkorrel sy uitstekende album Bloudruk, uitgereik, waarop hy wel nog sosiale kommentaar gelewer het, maar ook musiek ingesluit het wat by ’n breë gehoor byval gevind het. Die vraag is natuurlik hoe relevant Eet kreef in vandag se samelewing is. Dit maak eintlik nie saak nie, want dié album het sy doel bereik en Afrikaanse musiek in ’n nuwe rigting gestuur en daarom is ’n huldeblyk, veral een wat so getrou aan die oorspronklike een is, heeltemal gepas. Dit stel n jonger gehoor daaraan bloot en is beslis baie beter as die meeste huldeblyk-albums wat tot nog toe verskyn het.

Comments are closed.

error: Content is protected !!