Rocco de Villiers speel Jim Muller, Hansie Roodt en Nico Carstens

Ink jou storie
Mei 30, 2020
Patriot – Appel
Junie 25, 2020

Die afgelope tyd het Rocco de Villiers se gewildheid geweldig toegeneem, veral aangesien hy al hoe meer oorspronklike komposisies met ’n kommersiële inslag op sy albums begin insluit het.

Met sy jongste album het hy egter besluit om hulde aan drie van ons land se legendariese instrumentaliste, die klavierspeler Jim Muller, die kitaarspeler Hansie Roodt en die trekklavierspeler Nico Carstens te bring. Die eerste snit op die album is Hansie Roodt se komposisie “Môreoggend uitgestel”; dit klink net so goed op ’n klavier as op ’n kitaar en daar is ook ’n trekklavier in die agtergrond. Die eerste Jim Muller-keurspel is nr. 2- Seties, en na ’n stadige inleiding draai Rocco die krane oop. As jy na sy opname van die Jim Muller-keurspel 1-Polka luister, sal jy aanvanklik dink dat jy na Johnny Cash luister, aangesien die kitaarwerk baie dieselfde is. Rocco het hierdie keurspel al voorheen opgeneem, maar hierdie opname is splinternuut . Die konsertina in die agtergrond maak hierdie opname selfs meer besonders. Dit is gepas dat ’n trekklavier die inleiding van “Klokkiewals” speel, want dit is ’n komposisie van Nico Carstens. Dit is ‘n baie mooi snit; heelwat rustiger as die meeste ander op die album. Die tweede Nico Carstens-komposisie op die album is een wat eenvoudig ingesluit móés word, naamlik “Zambezi”. Verskeie kunstenaars, onder meer Harry Calvert, Bert Kaempfert en The Shadows het dit al opgeneem, en dis goed om ’n nuwe opname daarvan te hoor.

Die volgende Jim Muller-keurspel is nr. 2-Baandans, en weer eens is dit ’n lekker snit wat jou voete sal laat jeuk. Daarna volg nog ’n Jim Muller-keurspel, nr. 6-Schottische. Keurspel 3-Eenstap is nog ’n Jim Muller-keurspel met uitstekende kitaarwerk en ’n konsertina wat jou sal lekkerkry. “Warmsnare” is weer eens ’n komposisie van Hansie Roodt; dit klink net so goed op ’n klavier as op ’n kitaar. Weer eens is daar ’n stadige inleiding, en hierdie keer is daar ’n kitaar en ’n tamboeryn in die agtergrond. Die laaste snit op die album is Nico Carstens se pragtige komposisie, “Lentewals”.

Baie kunstenaars het al in die verlede albums vrygestel waarop hulle hulde bring aan die kunstenaars wat hulle geïnspireer het of wat hulle bewonder, en sommige was beter as ander. Met hierdie album doen Rocco die nagedagtenisse van Jim Muller, Hansie Roodt en Nico Carstens eer aan; dit is byna vir seker die beste instrumentale album tot dusver vanjaar en kan baie sterk aanbeveel word.

Comments are closed.

error: Content is protected !!