Bosveldvastrap – Kosie Beukes

Hartsland – Andriëtte
Julie 6, 2020
Dis tyd – Juanita du Plessis
Julie 6, 2020

Boeremusiek word net deur ou mans gespeel.

Dit is wat mense al die jare geglo het, en daar was ook diegene wat gedink het dat Boeremusiek sou uitsterf. Gelukkig is daar ’n paar jong konsertinaspelers wat die laaste tyd op die toneel verskyn het, en seker maak dat dit sal voortleef.

Die jongste een is Kosie Beukes, wat nog op laerskool is, maar reeds vir hom ’n naam in die musiekbedryf gemaak het. Nadat een van Suid-Afrika se voorste platemaatskappye hom ’n kontrak aangebied het, het hy onlangs sy derde album, Bosveldvastrap, uitgereik. Die titelsnit is reeds ’n aanduiding wat om van hom te verwag. Gelukkig het hy die versoeking weerstaan om te veel moderne instrumente te gebruik, en dis byvoorbeeld lekker om ’n orrel te hoor. Die volgende snit is “Vetkoek-setees”, nog ’n lekker snit wat by Boeremusiekliefhebbers byval sal vind. Op “Jiffy se setees” word die konsertina effens op die agtergrond geskuif en ’n orrel word as hoofinstrument gebruik. Die eerste wals op die album is ’n nuwe komposisie, “Namibtoer-wals”, terwyl “Tant San van Christiana” ’n ou bekende Boeremusiek-komposisie is. Dis lekker om ’n banjo op hierdie snit te hoor. Oom Boetie Kallis was een van die legendes van Boeremusiek en die ou Boerekonsertina wat hy bespeel het, het die bynaam van “vrot orrel” gekry. Op die “Vrot-orrelkeurspel”, wat bestaan uit Oompie Lodewyk en Willem se vastrap, bring Kosie hulde aan hom.

Kosie speel nie net ou bekende komposisies nie, maar ook ’n paar nuwes. Pieter van der Westhuizen het “Wie se kind is jy?” gekomponeer, maar dit het eers gewild geword toe Theuns Jordaan dit saam met Dr. Victor and the Rasta Rebels opgeneem het. Klipwerf-Orkes se opname het later gevolg; dit was self baie gewild. Kosie speel dit egter effens stadiger, met die gevolg dat ’n mens van voor af daarna luister. “Karringmelk-wals” is egter die teenoorgestelde; dit is ’n komposisie van nog ’n Boeremusieklegende, oom Manie Bodenstein wat Kosie as een van sy rolmodelle beskryf. Die eerste internasionaal bekende snit op die album is een wat Die Ventertjies ook op hul nuwe album ingesluit het, naamlik Billie Jo Spears se treffer “Blanket on the ground”. Hy het dit reggekry om die ritme van die oorspronklike weergawe net só te behou; soms word bekende liedjies stadiger op ’n konsertina gespeel. Op “Blom se wals” bespeel Kosie die ou Boerekonsertina; dis lekker om dit te hoor! Die tweede internasionaal bekende snit op die album is Sgt. Barry Sadler se baie bekende “Ballad of the green berets”; en hoewel ’n mens nie eintlik tromme in Boeremusiek wil hê nie, sal hierdie snit nie dieselfde daarsonder wees nie. “Pikkie se tango” is iets heeltemal anders; ’n mens sal tango en Boeremusiek nie noodwendig in dieselfde asem noem nie. “Pennies op die spoor” was eers ’n treffer vir Steyn Fourie en later vir Dozi; nou het Kosie dit ook opgeneem en dit klink baie goed. Die grootste verrassing op die hele album kom egter aan die einde voor. Tones and I het onlangs ’n groot treffer met “Dance monkey” gehad. Kosie het ’n video gemaak waarin hy dit op die konsertina speel; dit het só gewild geword dat hy dit op die album ingesluit het. Volpunte, Kosie; dit sal lekker wees om meer moderne internasionale treffers op ’n konsertina te hoor! Dit sal ook maak dat jongmense al hoe meer na Boeremusiek sal luister.

Daar sal natuurlik altyd ’n argument wees van wanneer ’n kunstenaar oud genoeg is om tot die musiekbedryf toe te tree. Omdat Kosie ’n instrumentalis is, het hy ’n groot voordeel bo ’n sanger van sy ouderdom, aangesien ’n sanger se stem kan verander, en die lirieke wat hy of sy vandag sing, oor ’n jaar belaglik mag wees. Kosie het met hierdie album bewys dat hy beslis nie te jonk is nie, en dat daar ’n blink toekoms vir hom voorlê. Die belangrikste van alles is dat die toekoms van Boeremusiek nie so donker lyk as wat mense gedink het nie.

Comments are closed.

error: Content is protected !!