Genealogie in RSA: simbole, afkortings & nommering

Leesstof vir die jongspan
Julie 29, 2020
Wat is dan nou beter as ‘n goeie Afrikaanse roman?
Julie 31, 2020

saamgestel deur Isabel Groesbeek

GENEALOGIESE SIMBOLE

Ek stel voor dat navorsers in soverre dit moontlik is, dieselfde standaard genealogiese simbole in hul verslae en publikasies gebruik, sodat ons “dieselfde taal“ praat. Die simbole kan dan in ’n inleiding, ter verduideliking ingesluit word, sodat leser die inhoud maklik kan volg deur met die simbole vertroud te raak.

Hier volg ’n aantal voorbeelde vir basiese genealogiese simbole wat vir gebeure in verslae benut kan word:

*            gebore

»           gedoop (‘alt’ 247)

x             getroud

xx           tweede huwelik

xxx         derde huwelik, ens.

¸            geskei (‘alt’ 246)

†            oorlede

Ω            begrawe (‘alt’ 234)

#            begrawe (sommige registers gebruik die simbool)

 

AFKORTINGS

Ek verwys hier graag na ’n aantal erkende afkortings wat dikwels in genealogiese werke of registers gevind sal word. Ek beveel ook aan dat die afkortings ruimskoots in genealogie registers gebruik moet/kan word en in inleidings van werke as verwysingsraamwerk ingesluit word.

a.            arriveer/aankoms

c./ca.     circa (ongeveer)

De V.      C.C. de Villiers en bygewerk deur Cor Pama vir Geslagregisters van                 die ou Kaapse families.

dg.         dogter

dist.        Distrik

d.v.         dogter van

FAK        Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge

GGSA     Genealogiese Genootskap van SA (lede-organisasie in 1964 gestig.)

GISA       Genealogiese Instituut van SA (navorsingsinstansie wat die RGN: Genealogie-Inligtingsdienste oorgeneem en te Stellenbosch tot met sluiting in 2018 in bedryf was.)

IGN        Instituut vir Geskiedenisnavorsing (een van die Institute by die RGN waaronder die Afdling Genealogie sedert 1971 gevestig en uitgebou is tot 1991 met die sluiting van die Instituut; die genealogiese werksaamhede is sedert 1990 as Genealogie-Inligting tot November 1997 in die biblioteek voortgesit.)

KAB        Kaapse Argiefbewaarplek

MHG      Meester van die Hooggeregshof

MOK      Master’s Office Kimberley (Kimberley boedels)

MOOC   Master’s Office & Orphan Chamber (Wes- & Oos-Kaapse boedels)

MSCE     Master of the Supreme Court Estates (KwaZulu-Natal)

NAB       Natalse Argiefbewaarplek

NN         Nomen Nescio (familienaam/van onbekend)

reds.      redakteurs

RGN       Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (die RGN het ’n afdeling vir genealogiese navorsing en inligting, eers onder IGN en later onder Biblioteekdienste, tot met die sluiting van Afdeling Genealogie-Inligting in Nov. 1997 gehuisves.)

SAF         Suid-Afrikaanse Familieregisters (e-naslaanreeks deur GISA uitgegee tot 2018 & sedert 2019 deur GGSA voortgesit.)

SAG        Suid-Afrikaanse Geslagregisters (gepubliseerde naslaanreeks wat in 1986-1992 deur die RGN en na sluiting van RGN Genealogie-Inligting tussen 1993-2008 deur GISA uitgegee is.)

s.d.         sonder datum

s.p.         sonder plek

SK           Sterfkennis

TAB        Transvaalse Argiefbewaarplek

VAB        Vrystaatse Argiefbewaarplek

wed.v.    weduwee van

wew.v.   wewenaar van

 

GENEALOGIESE FOKUS & NOMMERING

WATTER TIPE NAVORSING KAN EK ONDERNEEM/SPESIFIEKE FOKUS

Wanneer jy met jou navorsing begin, moet jy net eers jou doelwit goed oorweeg, m.a.w. waarop wil jy fokus, watter tipe navorsing jy wil onderneem en wat is jou invalshoek? Die fokus van jou navorsing sal die uitleg van jou verslag bepaal en ook die aanwending van spesifieke nommeringstelsel. Begin navorsing verkieslik by jouself en volg dan die voorgeslag waarop jy wil fokus.

  • Stamboom (Family Tree): voorgeslagte van ’n persoon in enkele lyn bv. vaderskant of moederskant (fokus op dieselfde familienaam). Die stamboom kan grafies of in teksformaat voorgestel word. Gebruik die RSA nommeringstelsel, wat in die 19de eeu deur die navorser Christoffel Coetzee de Villiers (1850-1887) gebruik is vir die samestelling van sy navorsingsresultate en ongelukkig eers na sy dood as Geslacht-Register der oude Kaapsche Familiën (1894) gepubliseer is.
  • Kwartierstaat (Ancestral Chart/Pedigree Chart): voorgeslagte van ’n persoon se vier grootouers (¼ x 4) in al die bloedlyne/stamlyne oor landsgrense; vaste internasionale nommeringstelsel. Naam ontleen aan vier ‘kwartiere’ van heraldiese wapenskild waarin soms die heraldiese simbole van vier grootouers geplaas is. Die kwartierstaat kan in verskeie grafiese formate en/of teksformaat voorgestel word.
  • Geslagregister (Genealogy): nageslagte van enige individu met fokus op dieselfde familienaam. Geslagregister begin by individu en word gevolg deur nasate met dieselfde familienaam. Gebruik RSA nommeringstelsel. Hier beveel ek wel aan dat kinders van dogters ook ingesluit word, al het hul ’n ander familienaam, want hul is moontlik ook na oupa en ouma in stamlyn vernoem.
  • Stamregister (Family Register): ’n Stamregister is ook ’n nageslagstaat, maar fokus net op jou stamlyn met insluiting van broers en susters binne elke geslag. Gebruik RSA geslagregisterformaat met uitlating van ander nasate. Hier beveel ek wel aan dat kinders van dogters ook ingesluit word, al het hul ’n ander familienaam, want hul is moontlik ook na oupa en ouma in stamlyn vernoem.
  • Afstammingstafel: alle nageslagte van enige individu; sluit ook beskikbare inligting van nageslagte van dogters in soverre navorser persone wil insluit. Gebruik RSA geslagregisterformaat.
  • Verwantskapstafel: kombinasie van voor- en nasate van enige individu. Hierdie verslag kan in grafiese en/of teksformaat van keuse voorgestel word.
  • Familiekroniek of Familiegeskiedenis: uitbreiding van al bg. fokusse om ook meer inligting bv. rakende woonplekke, loopbaangeskiedenis, betrokkenheid by gemeenskap en kerk, kultuuraksies, belangstellings, karaktereienskappe, talente, siektes, ens. in te sluit.
  • Streek of distriksgenealogie: navorsing rakende herkoms en rol van pionier- en ander families in spesifieke omgewing.

WAAR BEGIN EK?

Gesinsblad: Begin by jouself en vul eie gesinsblad in vir aanteken van eie gesinsbesonderhede in drie geslagte en dan vir elke ouer ’n aparte Gesinsblad om te sien watter inligting is beskikbaar en waar inligting ontbreek. Gesinsblad kan ook benut word vir die insameling van inligting van wyer verwantskappe soos deur hulself ingevul of tydens familiesaamtrekke of tydens onderhoude.

Rig navrae aan isabel@fak.org.za met hulp in die verband, asook beginnerskursus wat persoonlik en virtueel aangebied kan word. FAK-vriende ontvang ’n gratis ‘Ons Familieboom‘-plakkaat met hulpinstruksies vir voltooiing.

 

NOMMERINGSTELSELS

Standaard RSA nommeringstelsel vir gebruik in stambome, geslagregister, stamregisters en/of afstammingstafel

Die genealogiese nommers in die geslagregister is in ooreenstemming met die stelsel wat tans deur die meeste genealoë in Suid-Afrika gebruik word en wat sedert die 19e eeu deur Christoffel Coetzee de Villiers gebruik is. Volgens hierdie unieke RSA nommerstelsel is die Suid-Afrikaanse stamvader (eerste persoon wat familienaam/van in die land gedra het) en sy vrou(e) as stammoeders die ‘a’-geslag, sy kinders as die tweede geslag die ‘b’-geslag en elke daaropvolgende geslag word deur ’n volgende letter van die alfabet aangedui. Die kinders van die stamouers word chronologies ‘b1’, ‘b2’, ‘b3’ ens. genommer, waar die syfer die posisie van die kind binne die gesin aandui. Die stamouers se kleinkinders is die derde geslag en wel die ‘c’-geslag en hul agterkleinkinders die vierde en wel die ‘d’-geslag, ens.

Die nommers moet binne ’n spesifieke register gelees en aangehaal word, want nommers kan aanskuif as nog ’n kind deur verdere navorsing “opgespoor” word.

Dogters se nasate kan in die verslag ook volgens die nommeringsvolgorde aangedui word, maar hul [nommers] word in blokhakies aangedui met hul familienaam naas hul voorname in hoofletters. Sodoende kan leser sien waar hul in ’n geslagregister of stamregister inpas, maar dat die familienaam in daardie geslag wysig.

Hier is ter illustrasie die genealogiese nommering van Christoffel Coetzee De Villiers (1850-1887) en sy familie soos vervat in die publikasie, Geslagsregister van die familie De Villiers in Suid-Afrika deur J. MALHERBE & A. MALAN (Hugenote Stigting, Franschhoek, 1997, pp.1-34)

Hy is ‘a1b3c1d8e2f3g6’ in die De Villiers-register:

a1        Stamouers en wel a1, want by die De Villiers-familienaam is daar drie stamvaders

b3        Kind van stamouers en derde kind van stamouers in die ‘b’-geslag

c1        Oudste kind van ‘a1b3’ in die derde ‘c’-geslag

d8        Agtste kind van ‘a1b3c1’ in die vierde ‘d’-geslag

e2        Tweede kind van ‘a1b3c1d8’ in die vyfde ‘e’-geslag

f3         Derde kind van ‘a1b3c1d8e2’ in die sesde ‘f-geslag

g6        Sesde kind van ‘a1b3c1d8e2f3’ in die sewende ‘g’-geslag, ens.

Kwartierstaat

Die KWARTIERSTAAT is ’n opgawe van die biologiese voorouers van ’n bepaalde persoon – dus somtotaal van individu se stamlyne. Dit vorm die basiese raamwerk of geraamte van ’n individu se familiegeskiedenis en is dus ’n opsomming van name, plekke en datums, alhoewel dit vir die betrokkene reeds boekdele spreek.

Die naam KWARTIERSTAAT is uit die heraldiek (wapenkunde) ontleen met die gebruik om die wapenskild in vier te verdeel met heraldiese simbole wat die vier grootouers verteenwoordig.

Die KWARTIERSTAAT begin by enige individu, die KWARTIERDRAER (no. 1), en daarin word sy twee ouers (nos. 2 & 3), die vier grootouers (nos. 4-7; ook soms die vier kwartiere genoem), agt oorgrootouers (nos. 8-15), sestien oor-oorgrootouers (nos. 16-31), ens. ens. almal opgeneem.

Die navorser begin dus in hierdie verslagformaat by die bekende en werk geslag vir geslag terug na die toepaslike voorouers. Die rangskikking van die inligting kan volgens navorser se voorkeur in horisontale-, vertikale, sirkel- en/of teksformaat weergegee word.

Die nommering is egter vas en is gebaseer op die internasionale Sosa-Stradonitz-nommeringstelsel. Sedert die Spaanse genealoog Jérome (Hieronymus) de SOSA die stelsel in 1676 begin gebruik het en dr. Stephane Kekule von STRADONITZ, ’n Duitse genealoog dit in sy Ahentafel-Atlas gedurende 1898 weer laat herleef het, word dit algemeen deur genealoë wêreldwyd gebruik. Elke individu het ’n unieke nommer: 1 vir die KWARTIERDRAER (manlike of vroulik), 2 vir sy/haar vader, 3 vir sy/haar moeder, 4 vir sy/haar grootvader in die manlike stamlyn, ens. Al die manlike voorsate het ’n ewe getal as ’n nommer en al die vroulike voorsate het ’n onewe getal as ’n nommer.

Die voordele van die stelsel is bv. dat die nommer van ’n vader altyd gelyk aan 2x die nommer van sy kind is en die helfte van sy eie vader se nommer is en dat die posisie van ’n persoon reeds vasgelê is voordat sy inligting bekend is. Die moeder van ’n voorouer is telkens +1 by die vader se nommer. Dié verslagformaat is onbegrensd en strek oor landsgrense heen na stamlande, want die beperking lê net in die beskikbaarheid van inligting.

Hier is ’n voorbeeld van ’n grafiese uitleg van die eerste vier geslagte van Christoffel Coetzee De VILLIERS (1850-1887) se Kwartierstaat ter illustrasie:

 

TEN SLOTTE

  • Genealogiese navorsing kan ’n omvattende projek met baie verrassings en belonings (die ‘whaau-gevoel’) wees.
  • Navorsing hou vreugdes, maar ook frustrasies in – dit verg baie geduld en kan baie tyd in beslag neem om die bewyse te vind en om data te verifieer, maar dit is alles die moeite werd.
  • Pak die navorsing as ’n familieprojek aan, want spanwerk bied ook vreugde.
  • Klop aan by Isabel vir hulp via genealogielessenaar.com OF per e-boodskap by isabel@fak.org.za

MOENIE NAVORSING UITSTEL NIE EN GENIET DIT!

Comments are closed.

error: Content is protected !!