Die sluise van die hemel – Robbie Wessels

Wat is dan nou beter as ‘n goeie Afrikaanse roman?
Julie 31, 2020
Nuut vir jonk en oud by LAPA-Uitgewers
Augustus 11, 2020

Die afgelope vyftien jaar het Robbie Wessels hom as een van ons land se voorste komiese akteurs en sangers onderskei; hy het nog altyd geweet hoe om die volk te laat lag, maar hy het ook reeds meer as een keer sy ernstige kant gewys.

Net voordat die Springbok-rugbyspan verlede jaar die Wêreldbeker gewen het, het hy en ’n paar gaskunstenaars ’n album ter ondersteuning van dié span uitgereik, en die res is geskiedenis. Nou is hy egter terug met sy jongste soloalbum, Die sluise van die hemel.

Die eerste snit, “Dans”, het die potensiaal om ’n groot treffer te word. Nie net het dit ’n aansteeklike ritme nie, maar ook ’n positiewe boodskap wat, veral in die moeilike tye wat ons tans beleef, baie nodig is. In “Fordliedjie” maak hy beswaar teen ’n vriend wat nie die padreëls gehoorsaam nie. “Kleintjie en Barkvaal” vertel die verhaal van twee honde; hier gebruik hy ongelukkig ’n woord of twee wat nie in ordentlike geselskap tuishoort nie. Dit is nie vloekwoorde nie, maar ’n mens behoort dit nie te gebruik nie. Robbie raak daarna ernstig; “Danklied” is ’n pragtige snit waarin hy sing van alles waarvoor ’n mens dankbaar behoort te wees, onder meer die land waarin ons woon. Op “Die digter” bring hy hulde aan ’n aantal Afrikaanse kunstenaars wie se lirieke aan digkuns herinner.

“Spurliedjie” is ’n huldeblyk aan dié bekende restaurantgroep, maar weer eens is daar ’n paar woorde wat pla, en wat maak dat die groep dit nie vir ’n reklameveldtog sal kan gebruik nie. In “Die ou verhaal” sing hy van die stories waarmee hy grootgeword het. Diegene wat van “Mphe di hoenor” gehou het, sal lekker lag vir “Bobjan”, wat vrygestel is ’n rukkie voordat die album verskyn het. Hy sing met presies dieselfde aksent, en jy sal lekker daarvoor lag of glad nie daarvan hou nie. “Jou gedig”, wat weer Robbie se ernstige kant wys, is een van die mooiste snitte op die album. Op “Khoi and Son” kom Robbie se skerp humorsin weer sterk na vore. Die laaste snit, “Die teenwoordigheid van drie”, is nog ’n hoogtepunt op die album.

Robbie weet presies waarvan sy aanhangers hou en met hierdie album gee hy dit vir hulle. Gelukkig het hy ontslae geraak van die vloekwoorde wat sy eerste album ontsier het, en kan die meeste van sy liedjies op die radio gespeel word. Hoe ook al, ’n mens behoort teen hierdie tyd al te weet wat om van hom te verwag.

Comments are closed.

error: Content is protected !!