2021 – Die Heuwels Fantasties

Nuut vir jonk en oud by LAPA-Uitgewers
Augustus 11, 2020
Vrede – Dozi
Augustus 14, 2020

Dit is nou net meer as tien jaar sedert Die Heuwels Fantasties tot die plaaslike musiektoneel toegetree het.

Hulle het sedertdien die een suksesvolle album na die ander uitgereik, en hul nuwe een, met die half ironiese titel 2021, is tydens ’n aanlyn konsert vrygestel. Dit laat ’n mens wonder; is hulle onder diegene wat 2020 net verbywens?

Daar is verskeie gaskunstenaars wat saam met hulle optree.  Op “Mis oor die see”, die eerste snit  en ’n moontlike treffer, is dit Arno Carstens, wat vroeër jare die hoofsanger van Springbok Nude Girls was en intussen ook as solokunstenaar bekendheid verwerf het.  Op “Ons moet leef” sing Ampie du Preez saam met hulle. Dis tyd dat hy weer ’n album opneem. Die rymkletser Early B het onlangs sy debuutalbum vrygestel, en dadelik gewild geword. Hulle sing saam met hom op “Plekkie in die son”. Nog ’n rymkletser wat saam met hulle optree, is Jack Parow. “Naweek” is een van ’n paar snitte wat vuil taal bevat; dit beteken dat dit glad nie geskik is vir radiolugtyd nie. “Lieg net vir my” is die eerste snit waarop hulle alleen optree; dit is ’n moontlike treffer. TJ Terblanche is nog nie so bekend nie, maar hy sing saam met hulle op “Kan iemand my hoor?” Tarryn Lamb was voorheen ’n lid van Blackbyrd; sedertdien het sy ’n sololoopbaan as ’n Afrikaanse kunstenaar begin volg, en sy is mede-aanbieder van Maak my famous. Die kombinasie van haar saam met Die Heuwels Fantasties op “Ek mis jou” klink dalk eienaardig, maar dit werk.

“Vat my saam” is ’n besonder kort snit, maar baie goed. “Mejuffrou Sonneblom” is ’n bekende snit aangesien hulle dit al voorheen opgeneem het. “Kom na my toe” is ’n rustige klavierballade waarop Johnny de Ridder saam met hulle sing. Dit is seker een van die beste snitte op die album. Nog ’n uitstekende snit wat ’n treffer kan word, is “Jy stel my teleur”. Francois van Coke sing saam met hulle op “Min worries”; maar ongelukkig word hierdie snit  deur vuil taal bederf. “Bly by die huis” is ’n instrumentele snit. “Doin’ it right”, waarop Pierre Pressure saam met hulle sing, word as die bonussnit op die album aangedui, maar dit is nie die laaste snit nie. “Leja”, wat wel die laaste snit op die album is, is een van hul vorige treffers; die opname wat op hierdie album voorkom, kom uit die Francois van Coke en vriende-konsert van 2019.

Die Heuwels Fantasties se aanhangers weet presies wat hulle wil hê, en met hierdie album kry hulle dit. Die meeste snitte op die album is baie goed; dis net jammer van die taalgebruik op sekere snitte. As jy van hul vorige albums gehou het, sal jy ook hierdie een geniet.

Beskikbaar op Spotify, YouTube Music en Google Play Music

Comments are closed.

error: Content is protected !!