2021 – Die Heuwels Fantasties
Augustus 14, 2020
Somtotaal – dit kan tot “leesbabelas” lei!
Augustus 26, 2020

Daar is twee groepe kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf; dié wat ten alle koste elke jaar of elke agttien maande nuwe musiek mٔóét vrystel, en dié wat hul aanhangers jare lank laat wag, maar telkens vorendag kom met musiek waarna hulle jare lank kan luister.

Een kunstenaar wat in laasgenoemde kategorie val, is Dozi, wie se eerste album twintig jaar gelede vrygestel is. Hy het aan die begin redelik gereeld albums uitgereik, maar die laaste tyd moes sy aanhangers ’n bietjie langer wag. Hy het Dozi’s Back to the Roots naby Hartbeespoortdam geopen, en hou gereeld daar optredes saam met ander kunstenaars, maar nou is hy terug met sy jongste album, Vrede.

Stef Kruger, wat ’n groot rede vir Dozi se sukses in die verlede was, het hierdie keer weer elke snit op die album geskryf, en die eerste snit, “Partykeer somtyds”, is ’n bewys dat hierdie kombinasie werk. Dit is reeds besig om ’n treffer op verskeie radiostasies te word. Die kitaarwerk op “Dit is ook maar hier” is uitstekend; dié snit het ’n effense jazz-klank wat by die meer uitgelese musiekliefhebber aanklank sal vind. Dozi is nie die eerste kunstenaar wat standpunt inneem oor die verandering van dorpe se name nie; in “Dis hoekom” doen hy dit op ’n grappige manier; die snit het ’n skitterende inleiding wat soos ’n eggo klink, die kitaarwerk is baie goed en die ritme is aansteeklik. “Ek wil vir jou sê”, is ’n pragtige snit wat dalk ’n treffer kan word. Enigiemand wat swaarkry in die lewe, kan gerus na die woorde van “As jy deur hel gaan”, gaan luister. “Dis net woorde” is ’n baie mooi snit wat radiolugtyd verdien. Stef het “Hiervandaan” oorspronklik opgeneem en sy weergawe is oor die radio gespeel; Dozi se weergawe kan self ook ’n treffer word.

Dozi het op ’n plaas in KwaZulu-Natal grootgeword voordat hy op Evander gematrikuleer het, en daarom verstaan hy die Zoeloe-kultuur. Daarom is die feit dat ’n Zoeloe-koor saam met hom op “Groete” sing, geen verrassing nie. Weer eens is die kitaarwerk en aansteeklike ritme iets besonders. In “Galgtou” neem hy standpunt in teen die feit dat misdaad al hoe meer ongestraf gelaat word en dat mense genoeg daarvan gehad het. “Sing van die see” is nog ’n snit wat dalk ’n treffer kan word. “Skemerhemel” is dalk effens lank, en dalk sal dit nie by almal byval vind nie. Die agtergrondstemme op “Smeltkroes”, die laaste snit op die album, is regtig iets besonders.

Met hierdie album gee Dozi weer vir sy aanhangers iets om oor opgewonde te raak; hierdie album bevat ’n aantal snitte met trefferpotensiaal, en die musikale verwerking op die album is van ’n hoë gehalte. Hy behoort net soveel sukses met hierdie album te behaal as met sy vorige vrystellings.

Die CD is beskikbaar op Spotify, YouTube Music en Google Play Music.

Comments are closed.

error: Content is protected !!